“She killed for us, but she herself said things went wrong”
“Mammie, Mammie, Mammie” my gewete
van bloot-net-ʼn-toeskouer-wees
skreeu
soos háár ondersteuners
terwyl die laaste hoofstukke
afgesluit word met ʼn swanesang
van ʼn land, steeds gelitteken
met ʼn erflating van ʼn gemaak-vergiffenis:
die waarheid ontbloot die boosheid
wánt dormant, onderliggend
is daar tóg die vermoë tot goedheid
tot medemenslikheid
die leuen se diaspora
altyd veranderlik
altyd verleidelik soos die wyser van tyd
ek lees, ek bid, die bewyse wit op swart
hoe daar uit die hartsruimte van onthou
gedig, vertel, berig en bely kon word
– die kollektiewe geheue van óns mense –
die moeder van ʼn volk
vind lafenis in ʼn oorvloed mineraalwater,
spreek haar gevleuelde woorde
terwyl ʼn bediendeklas-moeder sméék
om vir net oomblik weer haar kind vas te hou:
Sepei, Sono, Dhlamini – só baie name
slagoffers, gerugte, gebede,
verbreekte gebooie, moorde in die reën
lyke nou langsaam vergete
soos die winde van verandering
wat eeu in en eeu uit
slagoffers gee en neem
die vloed en eb van vergrype
verwesenlikings van magstryd op magstryd op magstryd
van lyke wat vrot in die lykshuise van ʼn buitgemaakte staat
terwyl nuut-mismaakte krokodiltande dié wat anderkant Rubicon wil belê
sal probeer belet, tereg sal wys, met toesprake uit ander man se pen
bevele, steeds die wrang smaak in die mond
van: ‘yours is not to reason why
yours is to do or die!’ –
die wedloop lank al reeds verloor
verlossing, in die bloed van die aarde
in die pionne se spel vir die magtiges
word alles wat boos is herleef in brokkies vol
skuld-as-ons-erfenis
skaamte-as-ons-vloek
Avi, Avi, Avi (dalk Abba, Vader)
óf, asseblief meneer Netanyahu
‘gee ons ons kinders terug
– vir wie word hulle vermoor?’
Shafadi, Khadra, Abusalama
wat is verskil tussen die leuen en die waarheid
– die maaiers wat verrotting bring – in jóú land en dié van my?
© Bester Meyer, 2024