Reiniging
vier en twintig sit ons langs jou bed
terwyl jy jou lewe herleef
in morfiendrome
wat ons probeer
interpreteer
ons s’n probeer maak
hulle het gister vir jou kom bid
vir God gevra om die kanker
in die kiem te smoor,
maar jy het inmekaar gesak voor die grootheid van die siekte,
óf was dit God se Gees wat jou bene lam gelê het?
al wat oorgebly het van ons samesyn
is hierdie hardnekkige vuilheid
wat ons deur nóg ʼn dosis morfien
– teen wil en dank –
vir nóg ʼn dag môre probeer bewaar
tog, ál waarna jou wese smag
is die afwas, die reiniging
– om die grens oor te steek
waar kanker oorkom kan word
God se weë soos altyd
ondeurgrondelik
soos die agterpaaie van die hart:
daar waar Pa jou heen sal moet volg
vir ʼn wittebrood in die ewigheid
© Bester Meyer, 2024
Remember, the annual AVBOB Poetry Competition opens for submissions on 1 August 2024, with fabulous cash prizes available to the winners. Visit www.avbobpoetry.co.za to familiarise yourself with the competition rules and start preparing your best words.
