“En ons sal weet dat hulle ons gode is”
waar Hy ook al tentpenne in slaan sal hulle wees:
sy in hom en hy in haar, tent van ons voorvaders,
maar ons gode het ʼn weerbarstige god geword –
verblind deur hulle woordende woede wat woeker
met die afwesige angel van nuwerwetse afgodsbeelde
wat júís van ons maak dit waaruit ons gefatsoeneer is –
die owerspelige spel: een broer met ʼn buurman se vrou
’wyl die onvergenoegde dubbelganger die reëlmaat hou –
die teenswoordige swygstem van elke jan rap en sy maat:
brokkel dié vers op in ʼn skyn van naïewe swangerskap
die volk is altyd verdraagsaam in die volheid van tyd
– haar naam was vroeër Ohóla en haar suster: Ohóliba
© Bester Meyer, 2024