Na Stofpoort toe
Onder ‘n Mozart-adagio in my kop
trap ek oumanier ‘n dikwielfiets
met die nou verlate gruispad
om die oosterpunt van Boesmansberg.
Eensaamhoek kom en gaan.
Meerkaaie tuimel van ‘n keerwal af
waar hulle in die pad
hul spookgeveg hervat.
Ander verskyn uit die gras,
sluit aan by die geleide vir my –
hulle nou ook oud en mak,
almal behalwe ‘n jong kalant
wat hom laat vang
en in ‘n papiersak sit:
medereisiger na Stofpoort,
maar dié keer nie verby nie…
Hy woel sy stokstert los,
sny met dié die kardoes heel oop
en sit die lawwe lewe buite voort –
onbevange skaduwee
op die pad Stofpoort toe.
‘n Enkele bloekom op die vlak
is waar tarentale sketterend
slaapplek soek.
Maar nog nie nou al nie –
dit is nog te vroeg daarvoor,
die wêreld te vol lewe
op die pad Stofpoort toe.
Eers is daar Uintjieslaagte
– so deur my genoem –
waar ek self ‘n plant kan word:
veredelte uin, vinkel of baroe.
En dan kom Stofpoort binne sig.
Die motto onvermydelik: Stof is jy
en tot stof sal jy terugkeer.
Plek-plek voorheen hardgebak,
nou sag, aflegbaar,
weg te wentel, weg te waai
sodat net die wortels daar sal hang
stekelrige klapperhaar,
ongeskik vir ‘n matras
tastend na toeskietlikheid
met die vog van Lakenvleie
hier weerhou.
© Pirow Bekker, 2024