
Meyer Janse van Rensburg is op 4 Julie, 1944, in Upington gebore as die jongste seun in ’n familie van sewe kinders. Hy het as plaasseun in Noordwes grootgeword, eers in Upington en later in Kimberley omgewing, voordat die familie na Brits toe trek, waar hy gematrikuleer het.
Hy sluit in 1962 by die SAUK aan en werk as musiekopname-ingenieur, totdat hy tien jaar later by RPM-platemaatskappy aansluit as hoofmusiek-ingenieur.
Toe die televisiediens begin, word hy herroep om die lewendige musiekuitsending by televisie te hanteer. Hy begin lirieke vir musiekkunstenaars skryf, onder andere vir Glenys Lynne, Sias Reinecke, Malie Kelly, Maria en Gene Rockwell. Dit lei dan tot die begin van sy skryfloopbaan as digter en in 1983 verskyn sy eerste digbundel, Klankmanwoordboom (Human & Rousseau) wat baie gunstig deur die kritici ontvang was en bestempel was as ’n bundel waar “die taalklank en die semantiese waarde van die woord kommunikatief gebind word” (T.T. Cloete: “Die digbundel is meer as die gewone”, (Oosterlig, 27Okt., 1983), asook dat dit ’n vernuwing in die Afrikaanse digkuns bring as gevolg van die bybring van die tegniese sy van die klankwêreld in die poësie.
In 1982 ondergaan van Rensburg se lewe ’n groot omwenteling omdat hy ’n weergebore Christen word en hom toespits op die teologie. Hy word ’n Bybelskoolleraar en deeltydse omroeper by Radio Kansel en Punt Geselsradio. Nadat hy sy doktorsgraad in teologie verwerf het, verhuis hy oorsee na Engeland, waar hy by universiteitskolleges as lektor klasse gee in teologie en handleidings vir die teologiese studente skryf en hom verder toespits op die skryf en publikasie van sewe Engelse Christen boeke, reise in Europa en om in olieverf te skilder.
Nadat Gisella Ulyatt hom in 2015 in Londen opspoor en vier rubrieke oor hom in Versindaba plaas, kontak Daniel Hugo hom ’n paar jaar later en hits hom aan om weer in Afrikaans te begin skryf. Die gevolg was die verskyning van sy bundel, Heenkoms (Imprimatur) in 2021, wat besondere goeie verslae van Joan Hambidge (“ …’n woordvaste digter wat uit ’n vreemde landskap terugkyk na Van Wyk Louw en Opperman…. en daar is nie een swak vers in die bundel nie”), Nini Bennett (die fonologiese, semantiese, morfologiese of sintaktiese moontlikhede van die taal word maksimaal geëksploiteer… in ’n digterlike vernufspel”), asook Cas Vos (wat die oorspronklike keuring gedoen het) (“…’n gerypte en volwasse bundel, sonder motgevrete gedigte… van ’n bedrewe woordman”).
Heelwat van sy gedigte handel oor die lewe in die vreemde, soos “This green and pleasant land”;“Thomas Boleyn”; “Winston Churchill”; “Parlementsplein”, “Londen”; en “Bournemouth-strand” (onderwerpe wat nie baie in die Afrikaanse poësie behandel word nie), maar daar is ook verskeie ander gedigte wat terugkyk na die digter se heenkoms uit Suid-Afrika, bv. “Ganspan”; “Wolhuterskop”; en die tweede afdeling bevat steeds gedigte uit van Rensburg se werk as klankman by die televisie.
Van Rensburg se volgende bundel is op pad, en hier is ’n paar van die gedigte wat daarin sal verskyn, want die wêreld van klanke en kleure en krieket maak nog steeds ’n groot gedeelte van sy lewe uit, soos ’n mens kan waarneem in die omslagskildery van Heenkoms, wat die digter self geskilder het.
![]()
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]
