Grafika: Copilot
“All societies end up wearing masks.” – Jean Baudrillard
I
Verskeie debatte het onlangs in die literêre media gewoed waarin die rol van die literêre kritikus opnuut in ’n staat van beskuldiging geplaas is. In hierdie proses word intellektuele waardes dikwels uitgedaag en ’n karikatuur van gemaak. Met die populistiese anti-intellektuele kultuur waar verworwe kennis toenemend bevraagteken word, is dit júís belangrik dat hierdie kennis beskerm word.
Kritiese denke is noodsaaklik in die literêre diskoers, en daar is niks fout daarmee om literêre kritici óók tot verantwoording te roep nie. Hierdie polemiese gesprek is egter slegs vrugbaar as al die partye in die literêre sisteem die Afrikaanse letterkunde voorop stel en objektief bly. En intellektuele waardes hoef nie, in hierdie gesprek, verskoning te vra nie.
In die onlangse verlede het die redakteur van Versindaba, asook die uwe, en die uwe se wederhelf al deurgeloop omdat hulle sterk standpunt ingeneem het oor die handhawing van bogenoemde waardes.
Hierdie essay is nie bedoel om enige van die voorafgaande debatte verder te voer nie. Dit is egter opvallend dat die gemaskerde metakritikus op ’n gewilde Afrikaanse aanlyn platform toenemend die literêre vuur gestook het. Heelwat van die kleinerwordende poel gesaghebbende literatore het al deurgeloop onder die Schadenfreude en sensasie wat met hierdie gemaskerde se kommentaarlewering gepaardgaan. Daar is ook verskeie literatore wat aangedui het dat hulle algaande wegskram van resensering as gevolg van hierdie bewind. Dít is problematies: hoewel die literêre kritici se geloofsbriewe deursigtig is, was die identiteit en statuur van die gemaskerde owerste tot onlangs geheel en al onbekend. Die gevolg hiervan, wat baie lesers skynbaar ontgaan, is dat so ’n figuur nie as gesag aanvaar kon word nie, en dat sy rubriek bloot as klikaas vir die betrokke mediaplatform gedien het. Terugskouend was dit ’n irrasionele en absurde bedeling waarin literêre kritici skynbaar onder die gesag staan van ’n onbekende owerste wat in die skaduwees woon.
In die koerantwese is lesers vir baie jare vertroud met Pollux, die skuilnaam van ’n politieke kommentator, geïnspireer deur die gelyknamige mitologiese figuur, een van ’n tweeling in die Griekse mitologie. Pollux, bekend vir sy onsterflikheid en lojaliteit aan sy sterflike broer Castor, simboliseer dualiteit, beskerming en die band tussen twee teenstrydige pole. As ’n politieke kommentator verteenwoordig Pollux ’n stem wat gebalanseerde perspektiewe bied en die politieke landskap met ’n kombinasie van insig en veerkragtigheid navigeer.
In die Afrikaanse literêre diskoers is die gemaskerde metakritikus gebaseer op ’n karakter uit die Griekse filosofie. Dit is ’n verskynsel wat ’n stap verder as Pollux gaan en die finale oordeel oor die literêre diskoers uitspreek. Dit is dalk aanduidend van die Afrikaanssprekende kultuur om die gesag van so ’n gemaskerde en klandestiene diktatuur goedsmoeds te aanvaar en gedienstig te wees. Dít, ten spyte daarvan dat dit nou duidelik raak dat byna alle literêre kommentators agter die skerms gebrom en gespekuleer het oor die identiteit en statuur van hierdie gemaskerde, maar nooit in die openbaar teen hom opgestaan het nie. Toe iemand uiteindelik teen hom opstaan en dit tot sy ontmaskering lei, was die heersende tropgedrag aanvanklik om laer te trek rondom die gemaskerde, eerder as om kritiese vrae te vra. Daar is heelwat Pavloviaanse metafore wat hierdie vorm van kondisionering en tropgedrag omlyn. Dit sou alles amusant gewees het, as dit nie was vir die feit dat dit op ons eie voorstoep gebeur het nie.
II
Breedweg beskou is die aanvaarding van die gesag van ’n gemaskerde of anonieme figuur ’n verskynsel wat goed omskryf is in die letterkunde en gegrond is op diepliggende religieuse, antropologiese, psigologiese, kulturele en mitologiese argetipes. Daar bestaan verskeie teoretiese invalshoeke en metaforiek wat insig gee waarom die gesag van ’n gemaskerde of gesiglose figuur gevrees en goedsmoeds aanvaar word.
’n Literêre masker is ’n tegniek wat ten doel het om die stem van ’n fiktiewe persoon of alter ego te gebruik en so die ware identiteit van die spreker te verswyg. Die masker kan gebruik word om temas of idees te ondersoek wat die skrywer dalk nie gemaklik voel om direk uit te druk nie, of om afstand tussen die skrywer en die inhoud van die werk te skep. Anonimiteit kan ook krag verleen omdat dit die individu toelaat om iets groter as homself voor te stel. Sonder ’n persoonlike identiteit word die gemaskerde kritikus ’n vaartuig vir kollektiewe waardes, vrese of aspirasies. Dit stel hom in staat om met ’n stem te praat wat meer gesaghebbend klink, omdat dit nie aan ’n enkele, feilbare persoon gekoppel is nie.
Die gedagte van hierdie alter ego word soos volg deur SJ Pretorius in Die kranksinnige verbeeld (Brink, 2000):
In hierdie sel
agter die grense
van die vel
en die hoë
vensters van die oë
is twee mense:
die een is gek,
die ander, ek.
Dis hy wat kerm en gil
maar ek is bang en stil.
In elke klein uur van die nag
veg ek teen hom met minder krag
en as hy wen dan skree hy luid
sy wrok teen God en wêreld uit.
In hierdie klein vertrek
van vlees en been,
is twee. Die een
is gek,
die ander, Ek.
In die meeste godsdienstige tradisies lei die aanvanklike eksistensiële skok (“groot skrik”) tot mitemaking (Naudé, 2023), en die uitbeelding van gesiglose gode wat buite die realm van menslike begrip staan. Hierdie idee van ’n onsigbare hoër mag dwing respek en gesag af en simboliseer die onkenbare en die allesomvattende, wat ’n gevoel van ontsag en eerbied skep. As die mees fundamentele versluierde owerste bevestig die godsbegrip die beginsels van almag, alomteenwoordigheid, alsiendheid en die gesag van die onsigbare entiteit om te oordeel en beloning en straf uit te deel. Dit bevestig ook die godheid binne ’n sisteem waarin enige pogings tot die sigbaarmaking van die godheid as heiligskennis veroordeel word en strafbaar is. Die antagonis in hierdie tekste, die duiwel, skuil agter dieselfde sluier en beïnvloed die gedrag van elke individu. Hierdie gedrag word uiteindelik beoordeel en dít posisioneer die individu binne of buite die heiligdom van die godheid (Armstrong, 1994; Eiliade, 1968; Otto, 1958). Vanuit die antropologiese perspektief word die dra van maskers ook geassosieer met liminale rites, stamgedrag en spirituele teater.
Die Romeinse mitologiese god, Janus, het twee koppe en simboliseer transformasie en liminale drempels: dus óók ’n hekwagter. In die meeste mitologieë ontmoet protagoniste dikwels geheimsinnige, gemaskerde of gesiglose figure wat as mentors, gidse of teëstanders optree en wysheid, gevaar, of die onbekende verteenwoordig. Hierdie gemaskerde figure het mag omdat hulle die argetipe van die Wyse Ou Man of die Skaduwee beliggaam, wat kernkomponente van Carl Jung se teorieë is. Hulle verteenwoordig aspekte van die kollektiewe onbewuste, wat ’n diep, byna instinktiewe reaksie van onderwerping of respek veroorsaak. In Joseph Campbell se heldereis het hierdie figure gesag omdat hulle deel is van die held se weg na individuasie (Campbell, 2008). ’n Gemaskerde metakritikus kan beskou word as ’n vername hekwagter op hierdie reis, wat die individu uitdaag om sy/haar swakhede te konfronteer of tot ’n nuwe vlak van bevoegdheid uit te styg.
Die triekster is ’n mitologiese en Jungiaanse argetipe wat dikwels as ’n gemaskerde figuur in die letterkunde uitgebeeld word, en wat slinksheid, bedrog en die vermoë om norme te ondermyn, verpersoonlik (Jung, 2001). Hierdie manteldraaier floreer op chaos en daag die status quo uit deur misleiding en slim redevoering. Die masker, hetsy letterlik of metafories, simboliseer die triekster se vloeibare identiteit en vermoë om verskillende rolle en situasies te navigeer. In baie kulture ontwrig die triekster die natuurlike orde, skep verwarring en dwing karakters om ongemaklike waarhede in die gesig te staar. Voorbeelde sluit in Loki in die Noorse mitologie en die inheemse Amerikaanse Coyote, wat ander uitoorlê en die grense tussen goed en kwaad, en orde en wanorde, laat vervaag (Rosier-Smith, 1997). Ook die Hofnar (Joker) in speelkaarte; en die Dwaas (Fool) in Tarot beliggaam hierdie rol. Die gemaskerde metakritikus se pogings om misleidende gegewens te verskaf; die gerugte dat daar ’n kartel van metakritici bestaan het om hierdie instelling te beman; en die gereelde transmogrifikasie (gedaantewisseling) wat bedoel is om verwarring te skep, word met hierdie argetipe geassosieer.
In Jungiaanse sielkunde kan die masker die skadu-argetipe (die verborge, dikwels donkerder aspekte van die Self) (Jung, 1979); of die anima/animus (die onbewustelike aspekte van die teenoorgestelde geslag in die individu se identiteit) simboliseer (Jung, 1981). So ’n gemaskerde figuur dwing mense om dele van hulself wat hulle normaalweg ignoreer, te konfronteer, wat beide ontstellend en gesaghebbend kan wees. Mense is dikwels aangetrokke tot dít wat hulle nie ten volle verstaan nie. Die raaisel van ’n gemaskerde figuur kan ’n gevoel van intrige en fassinasie skep, wat daartoe lei dat mense gesag aan hulle verleen bloot omdat dit lyk asof hulle kennis of mag besit wat verborge is. Hierdie gesigloosheid stel individue in staat om hul eie ideale, vrese en begeertes op die gesiglose te projekteer. Só ’n projeksie kan gesag verleen omdat die gemaskerde figuur ’n simbool word eerder as ’n persoon. Dít beliggaam wat die gehoor ook al nodig het om te hoor. Maskers simboliseer meer algemeen misterie, vrees, ontsag, transformasie en vermaak (Jung, 1964).
In die filosofie simboliseer gemaskerde figure die verkenning van identiteit, die aard van die self en die kompleksiteite van waarheid en kennis. Enkele voorbeelde hiervan is die ondervragingstegniek van Sokrates, ’n metaforiese masker; Plato se allegorie van die grot waarin die gevangenes metafories gemasker is; Nietzsche se Zarathustra, ’n gemaskerde profeetagtige figuur, verteenwoordigend van Nietzsche se idees; asook Kant se onderskeid tussen die Noumenon en die Fenomenon wat as ’n konseptuele masker geïnterpreteer kan word (Russell, 1967).
Michel Foucault se konsep van die Panoptikon, geïnspireer deur die argitektoniese ontwerp wat deur Jeremy Bentham voorgestel is, dien as ’n kragtige gemaskerde figuur in die filosofie. In Discipline & Punish: The Birth of the Prison gebruik Foucault die Panoptikon om temas van toesig, mag, en sosiale beheer te verken (Foucault, 1995). Die Panoptikon is ’n sirkelvormige tronkontwerp met ’n sentrale wagtoring vanwaar ’n enkele wag al die gevangenes dophou sonder dat hulle weet dat hulle waargeneem word. Hierdie onsekerheid skep ’n gevoel van konstante toesig, wat die gevangenes aanmoedig om hul eie gedrag te reguleer asof hulle altyd dopgehou word. Die wag is metafories gemasker omdat die gevangenes nooit die wag se teenwoordigheid kan sien of bevestig nie, maar tog optree asof hulle voortdurend gemonitor word. Hulle is ook onbewus hoeveel wagte daar is. Vir Foucault verteenwoordig die Panoptikon ’n verskuiwing in die uitoefening van mag van openlike, fisiese straf na subtiele, sielkundige beheer. Hierdie model van mag strek verder as tronke na ander instellings soos skole, hospitale en werkplekke, waar toesig geïnternaliseer word en individue hulself reguleer. Die masker in hierdie konteks is die onsigbare, oorheersende teenwoordigheid van gesag, wat gedrag beïnvloed selfs in die afwesigheid van direkte waarneming. Die Panoptikon simboliseer dus die maniere waarop magstrukture gemasker kan wees – onsigbaar maar alomteenwoordig – en individuele optrede en maatskaplike norme help vorm deur meganismes van dissipline en beheer. Dit verteenwoordig Foucault se breër kritiek op moderne instellings en die subtiele vorme van mag wat binne hulle bestaan. In die geval van literêre kritiek het die gemaskerde metakritikus reeds die gedrag van literêre kritici begin oorheers deur die skyn van deurlopende toesig en gepaardgaande vrees vir die onafwendbare oordeel.
Hierdie beskouing toon sterk ooreenkomste met maskers in letterkunde in Nineteen eighty-four waarin individue voortdurend herinner word dat hulle nie op privaatheid geregtig is nie. Hulle is onderworpe aan konstante toesig om hul ideologiese suiwerheid te verseker (Orwell, 1961):
“He who is subjected to a field of visibility, and who knows it, assumes responsibility for the constraints of power; he makes them play spontaneously upon himself; he inscribes in himself the power relation in which he simultaneously plays both roles; he becomes the principle of his own subjection.”
In die geskiedenis het die masker al verskeie vorme aangeneem. In die antieke Griekse teater het die komedie/tragedie-maskers (Melpomene en Thalia) ikoniese status bereik. In die Middeleeue het plaagdokters voëlkoppe gedra om die mistifikasie, objektivisering en afstand van die mediese blik te versterk. Teregstellings, wat tradisioneel ook as moraliteitsteater gedien het, is gekenmerk deur die gemaskerde laksman, ten einde anonimiteit, maar ook geregtigheid en oordeel te simboliseer. Daar was ook al verskeie klandestiene organisasies wat in die skaduwees leef, hul invloed as onderstroming uitoefen, en maskers in die openbaar dra soos die Ku Klux Klan; die Vrymesselaars; en hier ter plaatse die Broederbond. Soldate kamoefleer hulself dikwels, ’n voorbeeld van biomimese waartydens die gedrag van sommige dierspesies nageboots word. Ook die sluipskutter is gemasker: tydens WOI het die Duitse Sappenpanzer staalmaskers gedra om groter vrees in te boesem.
Natuurlik die bekendste masker in die moderne wêreld is dié van Kersvader. Dit fassineer kinders tot dié mate dat hulle selfs briewe rig aan sy fiktiewe adres. Uiteindelik, soos wat hulle volwassenheid bereik, word hy ontmasker.
III
In die letterkunde is daar verskeie tekste waarin karakters maskers dra. Hierdie karakters beliggaam temas van dualiteit, geheimhouding, en die spanning tussen openbare en private identiteite. Dink maar aan The Phantom of the Opera (Leroux, 1987) en Barones Orczy se The Scarlet Pimpernel (Orczy, 2000), ’n geheime identiteit van ’n dapper redder tydens die Franse Rewolusie. In The Man in the Iron Mask (Dumas, 2001) verberg die karakter se masker sy identiteit, wat temas van mag en gevangeneskap aanroer. Die bekendste voorstelling van die donker alter ego word omskryf in Dr Jekyll and Mr Hyde, maar dít is ’n literêre studie op sigself (Stevenson, 2003). Al die voorafgenoemde karakters verken komplekse idees van identiteit, anonimiteit, en die konflik tussen die ware self en maatskaplike verwagtinge, soos aangedui deur hul maskers.
In swaardswaai-literatuur is die dra van maskers ’n kragtige motief wat die temas van avontuur, misterie, en heldhaftigheid versterk. Flambojante kavaliers soos Zorro dra maskers om hulle identiteite te beskerm terwyl hulle dapper dade verrig (McCulley, 2005). Hierdie gemaskerde helde navigeer deur gevaarlike wêrelde en gebruik hul verborge identiteite om vyande te fnuik en vir geregtigheid te veg. Die masker dien as ’n vermomming wat hulle in staat stel om vrylik tussen verskillende sosiale klasse en omgewings te beweeg. Dit laat hulle toe om dubbele lewens te lei. Laasgenoemde simboliseer ook die dualiteit van hulle bestaan – die kontras tussen hul openbare personas en hul geheime, heldhaftige ondernemings. Die tradisie van maskerdrag in swaardswaai-verhale voeg lae van intrige en spanning by, aangesien die ware identiteit van die held weggesteek bly tot op die oomblik van onthulling, wat ’n narratief skep wat opwindend en kompleks is. In die Afrikaanse tradisie behoort die avontuurverhale van Elmar Steyn tot hierdie tradisie (Steyn, 1964; Steyn, 1959).
Waarskynlik die belangrikste voorbeeld van gemaskerdes in die populêre kultuur is die strokiesprentkarakters Superman; Batman; Spiderman; Catwoman; Flash Gordon; en Iron Man (Everfan, 2023). Dit is almal bleeksiele wat op sigself nie ’n groot invloed op die wêreld uitoefen nie, maar ’n soort bomenslike vermoë het wanneer die masker simbolies aangesit word (Reynolds, 1992). In die Afrikaanse strokiesprent-tradisie was Die Skim ’n belangrike eksponent.
Stefan van Zyl berig soos volg oor Afrikaanse strokiesprentkarakters (Van Zyl, 2022):
“Die Russies gebore Victor Ivanoff (1909-1990) het ook ʼn wesenlike bydrae tot die Afrikaanse strokiesprentkuns gelewer met strokiesprente soos Prof de Snor, Dr Van der Ploet en Kallie die Kuiken…”. Die ironie van hierdie karakters se name ontgaan die uwe nie.
Die seremonie van die maskerbal word voorts uitgebeeld in die filmwese, byvoorbeeld in Dangerous Liaisons (gebaseer op Les Liaisons dangereuses deur Pierre Choderlos de Laclos) (Frears, 1988), en Stanley Kubrick se Eyes Wide Shut (Kubrick, 1999). Laasgenoemde roep die donker rituele van sadomasochisme van die Markies de Sade op waarin die gemaskerde aan rollespel deelneem om erotiese fantasieë uit te leef waaraan die individu sélf nooit aan sou deelneem nie (De Sade, 1904).
Waarskynlik die treffendste metafoor vir die huidige polemiek word egter gevind in die werk van Mikhail Bakhtin, ’n prominente literêre teoretikus geassosieer met die Russiese Formaliste. Hy is bekend vir die konsep van die karnavaleske (Bakhtin, 1984), en die idee van heteroglossia (Bakhtin, 1981). Die karnavaleske behels ’n tydelike opskorting van die sosiale orde, waar gemaskerde figure deelneem aan ’n kollektiewe uitdrukking van die groteske, humoristiese en die ondermynende. Maskers stel individue in staat om buite hul gewone rolle te handel en in ’n veelstemmige gesprek betrokke te raak waar sosiale norme omgekeer word. Heteroglossia verwys na ’n markplein van idees waar beide die taal van die gepeupel en die elite gelyktydig opklink wanneer die koningshuis tydelik en simbolies onttroon word. Die gepeupel word deur die toestand van heteroglossia bemagtig om hulle eie menings te lug agter die sluier van maskers. Tiperend aan hierdie menings is om bespottings van hulle adellike opponente te maak en humor vanuit die laer liggaamsfunksies as wapen te gebruik. Hierdie verskynsel is uiteindelik ’n bevestiging van bestaande hiërargieë en dui nie op ’n permanente inversie van rolle nie.
IV
Hoewel die metakritikus onder bespreking sy bewind vergelyk met Die koléperas van Kees Konyn (Konyn & Kannemeyer, 1982), en die Lekkerkunde van LI Bertyn (Bertyn, 1983), is die bedoeling van hierdie essay nie om ’n vergelyking met hierdie karakters te tref nie. Breedweg beskou het die aanlyn media aan die metakritikus waarna verwys word, ’n platform gegee om agter ’n masker te skuil om toenemend subjektiewe en soms lukrake meningstukke as owerste oor literêre kritici in die openbare domein te publiseer. Miskien sal hierdie entiteit na sy aftrede oorweeg om sy skrywes te bundel. Hy het dikwels dialoog bepleit, maar sy selfregverdigende monoloë was ’n onderskeidende kenmerk van sy bewind. Dit is egter duidelik dat hierdie persona uiteindelik die status van stadslegende opgesoek het in ’n poging tot mitemaking.
Die onderstaande kommentaar is in 2010 gelewer en opgeneem in die betrokke webruimte se argief. Hierdie aanhaling weerspreek die gemaskerde se latere reaksie op sommige resensies en beskryf tegnieke wat hy self graag gebruik het, maar onverdraagsaam was wanneer literêre kritici dit sou doen:
“Die dae toe LI Bertyn en Kees Konyn sirkulasiesnellers was, is verby. Ek het al begin vir lief neem met die feit dat die meeste boekresensente in die akademie staan en goedhartige mense is wat nie graag aanstoot gee nie. Ten minste kry mens dan ingeligte vakkundige menings.
Wat my wel kwel, is dat daar bitter min resensente is wat goeie ou retoriese middele soos metafoor, ironie, sarkasme, satire en gewoon flambojante styl gebruik in hul kritiese besprekings. Min resensente skyn bewus te wees daarvan dat houding (arrogansie, hovaardigheid, meerderwaardigheid, ens) ’n retoriese funksie kan hê. Of hulle vergeet van toon, van oordrywing en onderbeklemtoning, van die uitstraal van die resensent se persona as deel van die kritiese argument.” (Crito, 2010).
As ’n direkte uitvloeisel van die heersende debat het die uwe en sy wederhelf hulself toegewy aan die ontmaskering van hierdie entiteit omdat dit die enigste manier was om die geloofwaardigheid van laasgenoemde se uitlatings te toets en hom aanspreeklik daarvoor te hou. Dit het met die hulp van intuïsie, patroonherkenningsalgoritmes, en linguistiese teksvergelyking daartoe aanleiding gegee dat sy bewind na 16 jaar verspot maklik tot ’n einde gekom het, en die Afrikaanse lettere, en veral die betrokke mediaplatform, die toekoms nou moet herdink.
Dit was ons.
Verwysings:
Armstrong, K. (1994). A History of God: The 4,000-Year Quest of Judaism, Christianity, and Islam. New York: Ballantine Books.
Bakhtin, M. (1981). The Dialogic Imagination: Four Essays. Austin: University of Texas Press.
Bakhtin, M. (1984). Rabelais and His World. Bloomington: Indiana University Press.
Bertyn, L. (1983). Lekkerkunde. Kaapstad: Taurus.
Brink, A. (2000). Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
Campbell, J. (2008). The Hero with a Thousand Faces . Novato, Kalifornië: New World Library.
Crito. (2010, Desember 2). LitNet Argief 2006 – 2012. Herwin van LitNet: https://www.argief.litnet.co.za/article.php?news_id=96265
De Sade, M. (1904). The 120 days of Sodom. Parys: Club des Bibliophiles .
Dumas, A. (2001). The Man in the Iron Mask. Londen: Wordsworth.
Eiliade, M. (1968). The Sacred and the Profane: The Nature of Religion . New York: Harper.
Everfan. (2023, Mei 15). Why superheroes wear masks. Herwin van Everfan: https://everfan.com/blogs/news/why-superheroes-wear-masks?fbclid=IwY2xjawE30A1leHRuA2FlbQIxMQABHVPcu9umR89c6soSnBJHPoHuiD7hJEQNfPnyrPhxA_5wcPvtKiTNU32lXA_aem_IabXMMtgeQtehsnz0tCe4g
Foucault, M. (1995). Discipline & Punish: The Birth of the Prison . Londen: Vintage.
Frears, S. (Regisseur). (1988). Dangerous Liaisons [Rolprent].
Jung, C. (1964). Man and his symbols. New York: Doubleday.
Jung, C. (1979). Aion: Researches into the Phenomenology of the Self. Princeton: Princeton University Press.
Jung, C. (1981). The Archetypes and The Collective Unconscious. Princeton: Princeton University Press.
Jung, C. (2001). Four Archetypes: Mother, Rebirth, Spirit, Trickster. New York: Routledge.
Konyn, K., & Kannemeyer, J. (1982). Die koléperas van Kees Konyn. Kaapstad: Taurus.
Kubrick, S. (Regisseur). (1999). Eyes Wide Shut [Rolprent].
Leroux, G. (1987). The Phantom of the Opera. New York: Harper Perennial.
McCulley, J. (2005). The Mark of Zorro . New York: Penguin Classics.
Naudé, C. (2023). In die rede geval: Waarom die mens mites maak. Gansbaai: Naledi.
Orczy, B. (2000). The Scarlet Pimpernel . New York: Signet Classics.
Orwell, G. (1961). Nineteen Eighty-Four. Londen: Penguin Books.
Otto, R. (1958). The idea of the holy. Londen: Oxford University Press.
Reynolds, R. (1992). Super Heroes: A Modern Mythology . Jackson: University Press of Mississippi.
Rosier-Smith, J. (1997). Writing Tricksters: Mythic Gambols in American Ethic Fiction. Berkerley: University of California Press.
Russell, B. (1967). The History of Western Philosophy. New York: Simon & Schuster.
Stevenson, R. (2003). Strange Case of Dr Jekyll and Mr Hyde. Londen: Penguin Classics.
Steyn, E. (1959). Die Kaapse Kavalier. Kaapstad: Voortrekkerpers.
Steyn, E. (1964). Aleiman, die slaaf. Kaapstad: Voortrekkerpers.
Van Zyl, S. (2022, Augustus 31). Strokiesprente. Herwin van Weet: https://weet.co.za/taal/strokiesprente/?fbclid=IwY2xjawE36ANleHRuA2FlbQIxMQABHS-HG2M3BDS1g2W2TgJ0tovuQmXPJ3puvsZ-4q59bY8Y4tSM7-LhDnGxDg_aem_Kly5NYLNkn1-r6M7Q1kOLg&sfnsn=scwspwa
Kerneels, jy inspireer Mellet tot nuwe hoogtes!
Interessante teoretiese verantwoording, Mellet. Dit sal nogal ‘n artikel kan word.