Mellet Moll gesels met Salvia Ockhuis, die wenner van die Afrikaanse kategorie van die AVBOB-poësiekompetisie vir 2023
Mellet Moll [MM]:
Salvia, namens die lesers van Versindaba, baie geluk met die eerste plek wat jy in die afgelope AVBOB-Poësiekompetisie behaal het.
Die titel van jou wengedig is “Metafoor (vir Clement)”. Vertel ons asseblief meer – hoe het die gedig ontstaan?
Salvia Ockhuis [SO]:
“Metafoor (vir Clement)” is geskep uit beelde wat voor my oë begin afspeel het die oomblik toe ek van my jarelange jeugvriend (Clement) se skielike heengaan verneem het. Dit het begin met die beeld van iets wat skielik en vinnig deur ‘n skeur in klip glip en verdwyn. Maande later sou ‘n leeubekkie (toevallig sy oorlede ma se gunsteling blom – of was dit toeval?) wat uit ‘n ‘n klein skeurtjie in die betontrappies van my oorlede grootouers se blomtuin gegroei en geblom het, my asem wegslaan: ek het onmiddellik gedink dis hy wat terugkom om te groet en sommer ook te sê dat hy gelukkig en tevrede is waar hy hom bevind. Uiteindelik was dit glad nie moeilik om die regte woorde in plek te laat val en aan die gedig gestalte te gee nie.
Ek is natuurlik verheug en dankbaar oor die eerste prys wat dit gekry het.
MM:
Jy het van al die Afrikaanse digters op die AVBOB-Poësiewebwerf die meeste gedigte, soos dit opgeneem is in die AVBOB-Biblioteek. Jy het ook in 2020 die derde plek verower met die gedig, “Koud”. Vertel ons meer daarvan en van jou passie om deel te neem aan die AVBOB-Poësieprojek?
SO:
Ek het in 2019 van die AVBOB-Poësieprojek verneem en die aanvanklike prikkel om daaraan deel te neem was dat ek gehoor het die hekwag is streng – dis moeilik om ‘n gedig daar te publiseer. Dit was ‘n uitdaging waarvan ek gehou het. “Koud” was my eerste gedig wat die hekwag ingelaat het en toe dit die derde plek kry, was ek buite myself van verbasing en vreugde. Dit het my aangevuur om meer en meer gedigte vir publikasie voor te lê. Die projek se oorsprong, die groei daarvan en wat dit probeer doen en regkry maak my baie opgewonde. Nie net skep dit ‘n platform vir opkomende en gevestigde digters nie, maar dis ook ‘n plek waarna die publiek kan gaan om woorde of verse te soek wat hul diepste gevoelens en emosies helder maak – woorde wat hulle nie andersins sou hê nie. Ek wens regtig daar was meer sulke projekte. Sommer dwarsdeur die jaar. Te veel van ‘n goeie ding kan mos net uitstekend wees! Dit kan bewuswording van poësie onder die algemene publiek wakker maak en bevorder en ook veral die jonger geslag aan’t skryf en lees kry.
Oor “Koud”: ‘n Video op Facebook van sneeuvlokkies wat saggies in die vroeë aand grond toe dwarrel was die sneller vir die gedig. Sneeu is vir my baie mooi, maar dis natuurlik ook baie koud en die dood manifesteer ook as iets wat baie koud is. Ys of sneeu bly ook die langste op die pieke van hoë berge. Dit smelt die laaste daar, of dit smelt glad nie – vandaar die metafoor in die tweede vers: die koudheid van ‘n geliefde se wegwees waarmee ‘n mens moet probeer saamleef, en wat dikwels nooit werklik weggaan nie.
MM:
Waar is jy gebore en waar het jy grootgeword?
SO:
Ek is op Clanwilliam gebore en was ongeveer vier jaar oud toe ons na Heuningvlei – ‘n klein plekkie in die Cederberge – getrek het. Ek was daar op laerskool en was aan die Senior Sekondêre Skool op Malmesbury tot matriek. Daarna is ek Kaap toe waar ek eers in ‘n biblioteek gewerk het voor ek verder studeer het.
MM:
Wanneer het jy besef jy wil poësie skryf? Wat was die prikkels en inspirasie? Waar kom jou liefde vir woorde vandaan?
SO:
Sover ek kan onthou was ek maar van kleins af aan’t lees en skryf en versies maak, hoewel Wiskunde eintlik my eerste liefde was. Dwarsdeur my skoolloopbaan was ek maar die een wat die hoogste punte vir opstelle in my graad gekry het (darem vir ander vakke ook) en soms het matrieks ook vir my gevra om vir hulle opstelle te skryf toe ek nog in graad nege was en hulle het goeie terugvoering gegee. Op laerskool het ons onderwyser, Meester Abrahams, my klokslag geroep om my boeke vir die inspekteur te kom wys. So iewers begin dit tot jou deurdring dat jy dalk kan skryf. My ma het ook geskryf en gedig en dit het my natuurlik verder geprikkel, sowel as onderwysers wat my opstelle in die klas voorgelees het. Die skryf van gedigte het bloot voortgevloei uit my liefde vir lees en die ritme van klank en rym in verse.
MM:
Watter beroep beoefen jy, waar woon jy nou, wat doen jy in jou vrye tyd? Met wie deel jy jou lewe?
SO:
Ek is ‘n geregistreerde professionele verpleegkundige wat in afdelings gewerk het waar dit nogal interessant en intens was: nooddienste, radiologie, herstelkamer in teater, en laboratoriums vir endovaskulêre- en hartkateterisasie. Net interesantheidshalwe: ek en ‘n kollega het saam met ‘n kardioloog destyds ‘n hartkateterisasie op oudpresident F.W de Klerk uitgevoer en ek het ook vir sewe jaar saam met die omstrede Dr. Wouter Basson gewerk.
Ek is steeds as verpleegkundige geregistreer, maar het in 2020 uit diens getree om meer te skryf. Ek is sedert vroeg vanjaar meesal op Heuningvlei waar ek onder meer besig is om aan ‘n kortverhaalbundel oor die stories van my komvandaan te werk. Ek geniet ook die gemeenskapsteater wat ons daar aan die gang het, veral die talent en entoesiasme van die mense wat deelneem daaraan. Verder kom ek gereeld Kaapstad toe om by my twee kinders en my kleinkind – wat nou amper ‘n jaar is – te wees. Daar is familie en ‘n paar goeie vriende wat my lewe help vol maak. In kort: ek is ‘n gewone mens wat gewone dinge doen.
MM:
Jy noem elders dat jy ook ’n kortverhaalskrywer is. Vertel asseblief meer?
SO:
My eerste kortverhaal wat in ‘n bundel gepubliseer is, was die resultaat van ‘n skryfkompetisie wat deur Kuier/Lapa/Pen-Afrikaans geloods is. Daarna het nog ‘n kompetisie deur hulle gevolg waarin ek ook ‘n finalis was. Verder is verskeie van my kortverhale in Kuier en Huisgenoot gepubliseer, sowel as ‘n kortverhaal by Lapa en ook in die bundel Hartlam, wat deur Tafelberg Uitgewers uitgegee is. Ek is meesal baie suksesvol as ek kortverhale vir publikasie voorlê, maar ek besef dat ek hopeloos te min skryf en meer aandag daaraan moet gee.
MM:
Vertel ons van jou gunsteling digters/skrywers?
SO:
Daar is natuurlik baie gunstelingdigters/-skrywers. Moeilik om uit te sonder. Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Adam Small, George Weideman, Ronelda Kamfer, Ashwell Arendse, Ryan Pedro, Diana Ferrus, Clinton V du Plessis… regtig te veel om op te noem. Skrywers sluit in Dalene Matthee, Valda Jansen, Kirby van der Merwe, Eben Venter, Etienne van Heerden, Michelle Meyer, Deon Meyer en vele meer.
MM:
Vertel ons asseblief meer van jou digproses. Wie of wat is jou inspirasie om poësie te skryf? Is daar iemand wie se werk jy bewonder, of iemand wat vir jou ʼn klankbord is?
SO:
Stuur die Heer of heelal gedigte aan digters? Beide “Metafoor (vir Clement)” en “Koud” het soos sagte vere in my skoot kom land terwyl ek in waarna ek as poetry-mode verwys, was. Soms is die prikkel ‘n woord, sin of frase wat ek iewers lees, soms is dit iets uit die natuur, soms is dit iets wat iemand vir my sê, wat die digter in my wakker maak. Dit is maklik om in hierdie mode verse te skryf, of ten minste te begin skryf. Die gedigte ontwikkel organies rondom die aanvanklike prikkel. Daar is egter ook tye dat die kraamproses van ‘n gedig baie moeiliker is. Ek het nog baie om te leer. Ek het in 2021 gesê ek is, wat dig betref, ‘n baba wat kruip en dan teen mure of meubels opstaan en vandaar my verse waag. Ek wil glo dat ek al intussen begin loop het en dat my woorde meer en meer op die regte plekke hul lê kry, maar ek weet dat die moontlikhede vir leer en beter word nog wyd-oop is. Wat ‘n klankbord betref: my dogter lees soms van my gedigte en gee haar mening. Dit help. Ek dink sy het ‘n feeling vir gedigte. Verder is daar ‘n ander digter vir wie se werk ek baie respek het wat aangebied het om na my skrywes te kyk. Ek is baie bly en dankbaar daaroor.
MM:
Watter temas lê jou na aan die hart? Waaroor voel jy sterk? Wat maak jou gelukkig? Wat stem jou onrustig? Wat haat jy? Waaroor droom jy?
SO:
Temas oor die lewe in die algemeen, oor mense in ons samelewing, oor aspekte van menswees, oor mense se reaksie op verlies, oor die natuur, oor groei, lê my na aan die hart.
Ek is gelukkig as ek wen. Dit was nog altyd vir my lekker om eerste te kom (glimlag). Ek lag baie en waardeer goeie grappe.
Ek haat onreg en stories wat buite verband oorvertel word om iemand anders sleg te laat lyk. Gierigheid en die strewe na geld en rykdom wat mense moreel uitkalwe stem my onrustig. Dis ook skokkend dat 51% van Suid-Afrikaanse huishoudings nie ‘n enkele boek in die huis het nie, slegs 1% van die bevolking boeke koop en slegs 14% van die bevolking boeke lees.
Wat skryf betref droom ek om ten minste ‘n digbundel en ‘n kortverhaalbundel te publiseer, dalk selfs later ‘n roman – wie weet?
MM:
Hoe hanteer jy kritiek en wat is jou beskouing oor kritiek in die literêre wêreld?
SO:
Behoede ons as daar nie kritici is nie! Behoede ons as ons toelaat dat daardie kritiek ons lamlê. Wees oop vir kritiek, maar vat dit soms met ‘n knippie sout – afhangende van wie dit kom. Probeer daaruit leer, as jy kan. Dis wat ek vir myself sê.
MM:
Watter raad sou jy graag aan aspirant-digters gee?
SO:
Lees baie gedigte. Skryf baie gedigte. Leer soveel as kan alles oor die craft. Woon slypskole by. Bestudeer boeke oor gedigte. Neem aan kompetisies deel. Geniet gedigte. Wees verwonderd daaroor. Waardeer die skoonheid van gedigte. Vertrou die digter in jou.
MM:
Wanneer kan ons as lesers uitsien na ’n debuutbundel van Salvia Ockhuis?
SO:
Daar is ‘n tema waaroor ek opgewonde is. Daar is die wil om te publiseer. Hopelik word dit vroeër eerder as later ‘n werklikheid.
MM:
Baie dankie vir ’n prikkelende onderhoud, Salvia, en sterkte met jou pad vorentoe as digter!
So:
Baie dankie!
Baie geluk Salvia, jou wengedig is treffend.
Welgedaan Salvia, jy is ‘n waardige wenner.
Baie dankie, Jacques. Waardeer.
Dankie Theresa. Waardeer.