Okkitaanse dagboek
mooiweer in Carcassonne
(16 Mei 2024)
dit is mooiweer in jou oë
staan in graffiti
op ’n blou deur
tussen swart gate
sonder vensters skedeloë
teen ’n wolkelose hemel
teken ’n vliegtuig
in ’n omdraailus
op blou-blou lug
’n boodskap wat wegdryf
jou oë kaats nuwe
lewe – werp blougroen
oor die Aude – welkom
terug van ver weggewees
terug uit die doodse blik
skildersles voor ontbyt
plots loop ek deur ’n ou foto
van Willy Ronis uit 1952
– Petit Parisien –
stokbrood onder die arm
verby die klassieke fontein
oor Plein Carnot in Carcassonne
geen swartwit maar okerbruin
in my skildershemp & enkelbroek
gretig in plat blinkleerskoene ontwyk
ek die strale uit dolfyne se bekke
die stad is pas wakker as ek versigtig
die kode invoer soos altyd in Suid-Afrika
daar staan ek dan
Picasso se leerling tweegesigvrou
nagfoto
terug van weggewees
neem ek ’n selfoonfoto
van ’n grysbaardman
wat outyds sit & skryf
haastig oor woorde
wat hom oorval
het hy sy hoed nie af-
gehaal sy bier vergeet
so pen hy iets neer
ons plein word ’n skildery
met ligpoele teen okerbruin
ek vang hom vinnig vas in sepia
vergete ’n mislukte skilderspoging
met dié toevalstreffer op my foon
Picasso se les?
fotografie het die skilderkuns bevry
vlug bo Villefort
ons sweef op die termiek
sirkel oor die berg se tone
vlak verby die kasteeltoring
sien ons ’n wingerd omsoom
met goudgeel besembos
sien ons rye wynstokke
met bloedrooi papawers
sien ons die gehug Laborie
Laborie vat ons tweesitplek-
sweeftuig terug na die Kaap
terug na waar sweef by wyn begin
& deur ons bloed brein toe styg – bo
Villefort is ons kasteel ’n glaskoepelkajuit
stille kragte
as die lente kom smelt die sneeu soos ’n
jonkvrou op die Pireneë se hoogste piek
by gebrek aan ’n rivier & genoeg stroom syfer
Lavelanet se smeltwater gretig deur die bogrond
onder druk syfer ook ék geduldig deur die kalkrots
drup ek my druppels in sy ondergrondse steenkom
verlies swakheid wanhoop angs – alles vang hy op
tot ons water nuwe lewe & hoop vir my bring
as ek myself spieël in die stil dam van sy grot
begin ek stadig opstyg om by sy tuit uit te lek
geleidelik rek hy sy smalte breed uit tot bek
om my oor sy rand te laat stort – bly oor my
kragtige terugkoms teen 1800 liter per sekonde
gee hy ruimte om deur te stroom na my ou self
werk die stille kragte van natuur & mens dieselfde?
is ons kom & ons gaan beseël in wegsyfer & opvang?
© Carina van der Walt, 2024
Pragtige Carcassonne-geïnspireerde verse. Vol lig!