valsspelers Lambertsbaai
sy speel vals
in die familie
van Jan van Gent
ook vriende
vermoed niks
herken nie die leuen nie
kyk weg ignoreer hulle
gee voor sy hoort daar
haar vlerkspan geknip
haar pote uitgekerf
die oë blou geverf
agter haar masker
hy is eiland & skuldig
ontken daagliks die dreiging
in sy see se swellende deining
bied homself veilig as land aan
knyp oë toe vir die oorstromings
& skulpreste wat neste in repe sny
hy is ’n kwesbare plek
vir vlerksleep snawelslyp
keelstreel of nesbou
– as die Van Gents ontnugter
eers protesteer dan vertrek
is lokvoël & broeiplek ontmasker
©Carina van der Walt