Digters is oor die algemeen sensitiewe mense en bemoei hulle met ’n aktiwiteit wat eintlik geen kommersiële doel dien nie. Dit bring hulle dikwels in botsing met die moraliteit van die omringende wêreld en in ’n patriargale samelewing met die vaderfiguur. Dié botsing en weg vir die ontwikkeling van die gay tematiek in die Afrikaanse digkuns in die 1980’s is deur Stephan Bouwer gebaan met dan Johann de Lange se Nagsweet wat feitlik uitsluitlik aan die homoseksuele ervarings gewy word en die soeke na die afwesige vader uitdruk (Odendaal 2016:289-90).
Die problematiese verhouding met die vaderfiguur en homoseksuele neigings blyk in Nederland al vroeër uit ’n aantal ‘vader gedigte’ in die digkuns van Hans Lodeizen in sy Het innerlijk behang (Reitsma 1996). Lodeizen word algemeen aanvaar as die voorloper, of as deel van die Vyftlgers soos Lucebert in Nederland wat in Suid-Afrika op die Sestigers invloed uitgeoefen het onder andere met ‘n vryer versvorm en afwesigheid van lees- en skryftekens. Hy is in 1950, toe slegs 26 jaar oud, in ’n kliniek in Switserland aan leukemie oorlede, maar sy enigste bundel gedigte is postuum met die Jan Campertprijs bekroon. Aangevul met ander nagelate gedigte is Hans Lodeizen: Gedichten so gewild dat die sestiende druk reeds in 1994 verskyn het en baie geslagte middelbare skoliere in Nederland vertroud is met sy gedigte soos “Voor Vader”.
Dit was egter Jan Greshoff wat uit Suid-Afrika in sy weeklikse literêre kroniek vir die Haagse dagblad Het Vaderland Lodeizen se digkuns aanvanklik ernstig bespreek het. “Hij bezit […] een echte en natuurlijke dichterlijkheid, een ingeving, welke hier en daar prachtige vondsten aan het licht brengt en daarbij de gave, zeer zeldzaam, om al wat hij zegt indringend te maken. Hij bereikt dat door […] een nauwkeurige vaagheid. Er bestaat een soort motregen, mist bijna, welke de wandelaar dieper doorweekt dan een stortbui. Zulk een mist is Lodeizens poëzie en men kan er zich niet tegen beschermen.” (Reitsma 1996)
Daarna was dit Paul Rodenko (1954:25) wat Lodeizen se digkuns uitvoerig bespreek en hom as “een gebroken romantlcus” bestempel met sy digkuns wat opgebou is uit ‘n kontras tussen droom en werklikheid, met die innerlike droomwêreld die egte en die buitewêreld, waarvan sy welgestelde vader deel was, die onegte wêreld waarin hy hom vreemd voel. Hierdie vervreemding het veral ook aanklank gevind by gays soos James S. Holmes, een van die grondleggers van die moderne vertaalkunde, wat reeds vroeg Lodeizen se gedig “Voor Vader” in Engels vertaal het (Holmes 1958:79).
In teenstelling met die soeke na ’n afwesige vader soos by De Lange probeer Lodeizen (1971:126) die aanwesige vader meevoer na sy droomwereld:
Vader, hier zijn de kleine
Bomen waar de mandarijnen
Groeien van het plezier.
“Het is als Perzië hier.”
Ja, vader, de witte
Kleine Arabieren zitten
Lachende bij de fontein.
‘Weet je nog waar we zijn?’
Opvallend is die droomwêreld Persië, soos gedurende die Romantiek van 1790 tot 1830, waartydens daar ’n sterk belangstelling in die Midde-Oosterse digkuns was. In teenstelling met die harde werklikheid waar hy op aandrang van sy ouers met ‘n hoogleraar in die sielkunde, prof. Carp, moes gaan praat het, word sy digterlike alter ego tipies Romanties ook deur musiek meegesleur:
Voor prof. Carp
ben ik nu werkelijk zo slecht
als mijn vader zegt…? wanneer
ik naar muziek luister stroomt er
van mijn schouders een beek schaterend
door het maanlicht….
(Lodeizen 1971:55)
So soek hy na digterlike paaie en middels om die konflik met die vader te besweer en word hy aangeraai om ’n diplomaat te word sodat hy meer tyd sal hê om die miere te bestudeer en eindig die gedig met: “o – mijn vriend – deze wereld is niet de echte.” (Lodeizen 1971:42)
neem dan – vriend! – de mieren waar
wonend in hun paleizen als een mens
in zijn verbeelding -; wachten zij op regen en
graven dan verder: het puur kristal
is hen zand geworden.
Die harde werklikheid haal hom egter in en kort voor sy dood skryf Lodeizen (1971:180) “Voor Vader” en swyg hy verder:
o vader wij zijn samen geweest
in de langzame trein zonder bloemen
die de nacht als een handschoen aan-
en uittrekt wij zijn samen geweest
vader terwijl het donker ons dichtsloeg.
waar ben je nu op een klein ritje
in de vrolijke bries van een groene auto
of legde de dag haar handschoen
niet op een tafel waar schemering en
zachte genezing zeker zijn in de toekomst.
mijn lippen mijn tedere lippen dicht.
16 Julie 1950
In sy debuut bied Alwyn Roux egter ’n geheel ander beeld van die vader-seun-verhouding. Hy is wel bewus van die Vyftigers in Nederland soos met sy naskryf van Lucebert (1974:60) se “er is alles in de wereld” in “’n asemteug is lewe asem” (Roux 2024:67). Dit gaan by hom ook soos by Lodeizen oor ’n verbeelde wêreld in bv. “Teken” (Roux 2024:9), maar daar is ’n heel ander verhouding met die vader in sy digkuns as by Lodeizen. In sy digkuns kontrasteer dit ook skerp met ander uitbeeldings van die vader-seun-verhouding in van die Afrikaanse poësie, “want in die meeste hiervan is sprake van verwonding, konfrontasie en ontnugtering. Ek dink hier in die besonder aan die werk van manlike en oorwegend queer digters soos Johann de Lange, Loftus Marais, Fourie Botha en Jaco Barnard-Naudé. Afwesige vaders is ook ’n sterk tematiese kern in die digkuns van Ronelda Kamfer. (Cochrane 2024) By Roux is daar eerder sterk bewondering van die vader wat nie meer daar is nie met die gemis wat beklemtoon word in “Skielik is daar minder oor van my as vroeër – ter nagedagtenis aan my pa (1952-2020)”:
Skielik is daar minder oor van my as vroeër
dit vermoed ek ná my pa se dood
dat hy in lewe ook aan my behoort het
soos elke ander ding op aarde: skemer,
sterre, wolke, genade. Dat die bontrugwewer
voortdurend nuwe nessies bou
aan takke van die luiperdboom
‘n sekere wanhopigheid ná die soveelste keer
uitmekaargehaal. Of die lokroep van sy lied,
omdat daar in sy bors ‘n melodie verrys
waartoe die vlegwerk van sy vlyt kan vergelyk,
‘n roep is ingestem tot dié wat dit hoor –
want skielik is daar minder oor van my as vroeër
dit herken ek aan sy stil vertrek die naggrens oor.
(Roux 2024:82)
Hier, in teenstelling met Lodeizen se doodsreis, word die nag nie sonder blomme soos ’n handskoen aan- en uitgetrek en word die naggrens nie saam oorgesteek nie, maar bly die seun alleen agter met genade. Hy vind wel ook vertroosting in die musiek van die natuur met die wewer se ‘lokroep’, ‘lied’ en ‘melodie’ en verkyk hom aan die mieragtige vlyt daarvan. Sy werklikheid bly egter hier en nou waar daar voortdurend nuwe nessies gebou word, hoewel daar ’n terugverlang na ’n vollediger jeugtydperk is wat gelate (h)erken word.
Daar is dus in die digkuns wyd uiteenlopende sienings oor die vader-seun-verhouding wat weereens ook bevestig hoe verskillend menslike ervarings is en hoewel daar sekere ooreenstemmend verwoorde elemente mag wees, die finale beskouing op ’n heel ander grondslag berus.
Bibliografie
Cochrane, Neil. 2024. https://versindaba.co.za/2024/04/22/resensie-weerskyn-alwyn-roux/ Geraadpleeg 2024/09/07.
Holmes, James S. 1958. For Father Delta Winter 1958/9 p.79.
Lodeizen, Hans. 1971. Hans Lodeizen: Het Innerlijk behang en ander gedichten. 8ste druk. Amsterdam: Van Oorschot.
Lucebert. 1974. Verzamelde gedichten. Amsterdam: De bezige bij.
Odendaal, B.J. 2016. Die Afrikaanse Poësie 1960-2012. In H.P. van Coller (red.). Perspektief en Profiel, 2de uitg. Bl. 289-90. Pretoria: Van Schaik.
Reitsma, Anneke. 1996. Hans Lodeizen: Het innerlijk behang. In Ton Anbeek, Jaap Goedegebuure, Bart Vervaeck. Lexicon van literaire werken. https://www.dbnl.org/tekst/anbe001lexi01_01/lvlw00379.php Geraadpleeg 2024/09/07.
Rodenko, Paul. 1954. Over Hans Lodeizen: Maatstafdeeltje 9. s’Gravenhage: Bert Bakker.
Roux, Alwyn. 2024. Weerskyn. Pretoria: Protea.
