
Desmond Painter gesels met Bester Meyer oor Uit die herberg van Alhambra (Vertalings uit die werke van Khalil Gibran, Federico García Lorca en Yehuda Amichai), Naledi, 2024.
(Hier volg ʼn opsomming van sekere van die vrae soos gestel deur Desmond Painter [DP] en antwoorde daarop verskaf deur vertaler Bester Meyer [BM] tydens die bekendstelling van hierdie antologie van vertalings by Sunset Books, Strand op 11 September 2024):
DP: Hoekom het jy die projek aangepak? Wat doen vertaling vir jou as ʼn digter/skrywer?
BM: Nadat ek Magmoed Darwiesj (Die vlug van ʼn vreemdeling, Naledi 2021) vertaal het, was ek op soek na ʼn nuwe projek. Ek wou aktief aanhou vertaal, omdat ek glo dat vertaling my eie werkswyse met betrekking tot gedigtemaak aanhelp. Ek het begin om enkele verse van Yehuda Amichai te vertaal en toe het die idee by my opgekom om ʼn antologie van vier digters/skrywers daar te stel. Oorspronklik was Leonard Cohen se Book of Mercy ook deel van die projek. Ons kon egter nie die regte van hierdie boek bekom nie. Die Leonard Cohen trust het verkies dat Book of Mercy as ʼn alleenstaande titel in Afrikaans uitgegee word en daarom kon dié teks nie deel van Uit die herberg van Alhambra wees nie. Dit is hoe die projek vorm gekry het. Ek het later van tyd – nadat die Cohen trust ‘nee’ gesê het – begin om die Gibran en Lorca gedeeltes uit te brei. Op daardie stadium was die Amichai gedeelte grootliks reeds vertaal.
DP: Hoe het jy die digters gekies?
BM: Dit was digters by wie se werk ek persoonlik aanklank gevind het. Met betrekking tot Lorca het ek gehou van die musikaliteit van sy werk. Gibran se werk het met my op sielsvlak gepraat. Die besluit om Amichai hierby in te sluit was grotendeels geskoei op my persoonlike voorkeur. Van die drie skrywers soos hierin opgeneem, is hy my gunsteling.
DP: Hoe sluit die drie skrywers se werk aan by Magmoed Darwiesj? Is daar ʼn logiese aanknopingspunt?
BM: Daar is een of twee gedigte waarin Darwiesj en Amichai moontlik in gesprek tree met mekaar. Dit was vir my nogal interessant. Sien in hierdie opsig, byvoorbeeld, Darwiesj se gedig Die identiteitskaart en Amichai se gedig in hierdie bundel Ek het my identiteitskaart verloor (p216). Beide van dié digters spreek die omstandighede in Israel aan maar op ʼn heeltemal ander manier. Ek kon, uiteindelik, ook die ander twee skrywers aan Amichai bind met betrekking tot die tematiese en dit wat ek op sielsvlak ervaar het. Beide Darwiesj en Amichai dig oor die sinneloosheid van die voortslepende geweld in die Israel/Palestina. Dit het my veral aangegryp.
DP: Wat is die gevoelswaarde/sielskommunikasie wat jy met betrekking tot die drie digters ervaar?
BM: Ek sal dié vraag met ʼn gedig van Gibran probeer antwoord:
Lied van die siel
In die diepte van my siel is
’n woordlose lied – ’n lied wat leef
in die embrio van my hart.
Dit verseg om as ink met perkament
te versmelt, dit omvat my toegeneentheid
in ’n deursigtige mantel en dit vloei,
maar nie oor my lippe nie.
Hoe asem ek dit uit? Ek is bang
dit sal met aardse lug vermeng.
Vir wie sal ek dit sing? Dit woon in die huis
van my siel, en is bang vir stroewe ore.
Wanneer ek inkyk op my binne-oog,
sien ek die skadu van sy skaduwee;
wanneer ek van my vingerpunte bewus is,
voel ek sy vibrasie.
My hande se werk slaan ag op Sy aanwesigheid
soos ’n watervlak wat sterre glinsterend weerkaats;
my trane onthul dit soos helder doudruppels
wat die geheim van verwelkende rose openbaar.
Dit is ’n lied deur oordenking gekomponeer
en voortgebring deur stilte,
en vermy deur geraas,
en omvat deur die waarheid,
en herhaal deur drome,
en verstaan deur die liefde,
en verdoesel deur ontwaking,
en gesing deur die siel.
Dit is die lied van die liefde –
watter Kain en Esau kon dit sing?
Dit is geuriger as jasmyn –
watter stem kan dit tot slaaf maak?
Dis ’n hartsverbintenis, ’n maagdelike geheim –
watter snaar kan dit laat vibreer?
Wie waag dit om die dreuning van die see te verenig
en die lied van die nagtegaal te sing?
Wie waag dit om die loeiende storm te vergelyk
met die gesug van ’n suigeling?
Wie waag dit om die woorde – wat veronderstel is
om deur die hart gespreek te word – hardop te uiter?
Watter mens sal dit waag om stem te gee
aan die lied van God?
(p22)
DP: Wil jy iets sê oor: Uit die herberg van Alhambra en hoekom jy dit as titel gekies het?
Alhambra is ʼn paleis van Moorse argitektuur in Andalusië, Spanje wat ook bekend staan as ‘die rooi fort.’ Dit is dalk hoekom die omslag rooi is. Die paleis het ʼn aanknopingspunt met beide die Christen en Islamitiese wêrelde. Daar is verskeie letterkundige werke wat sigself in hierdie paleis afspeel: ʼn roman van Salman Rushdie, ʼn verhoogdrama van Lorca; Paolo Coelho se Die Alchemis. In my navorsing met betrekking tot Lorca se biografiese gegewe het ek raakgelees dat een van die moontlike redes vir sy teregstelling die feit is, aldus ʼn berig in 1965, dat hy [Lorca] ʼn sosialis was en “’n vrymesselaar wat aan die herberg van Alhambra behoort.” Ek wou die antologie Prentjies vir die siel noem maar die persoon wat my gehelp het om die manuskrip te ontwikkel het gedink dié naam is infantiel en ons het derhalwe besluit op Uit die herberg van Alhambra.
DP: Die inhoud van die antologie is amper populisties in die sin dat dit maklik praat met alledaagse mense. Darwiesj het sy gedigte in stadiums voorgelees. Gibran is wêreldberoemd. Lorca óók eintlik. Amichai is ʼn volksdigter. Jou kommentaar?
BM: Dit is miskien die rede hoekom ek besluit het om dié spesifieke digters te vertaal en was ʼn moontlike aanknopingspunt met my eie werk waarin ek gedigte probeer skryf vir ‘die mense’, die gewone man/vrou op straat. Ek vertrou dat hierdie antologie ook met die gewone persoon op straat sal praat, alhoewel daar ook meer intellektuele gedigte hierin voorkom soos byvoorbeeld Kruisiging van Lorca (p133). In al drie digters se werk is daar ʼn eenvoud wat tot baie mense sal spreek. Dan ook, uit die aard van die saak, die musikaliteit opgesluit in ál drie digters se werk.
DP: Hulle is digters wat gedoen het ‘op die bladsy’ wat liriekskrywers vandag doen: om te praat met groter gehore, en wat alhoewel lirieke, eweneens gedigte is. Die elitistiese literêre mense was baie ontsteld toe Bob Dylan die Nobelprys vir Letterkunde gewen het. Maar myns insiens moes Dylan dié prys gewen het, want vir dekades nou al is lirieke die ‘plek’ waar mense poësie die meeste van die tyd kan ervaar. Ek het gewonder of dit ʼn skakel is met jou belangstelling?
BM: Ja, definitief. Met betrekking tot Lorca het ek dit veral só ervaar, want dis asof sy gedigte – sonder dat daar musiek is – musiekmaak. Laat ek een van sy gedigte voorlees:
Herfslied
Vandag is in my hart
’n vae trilling van sterre,
maar ek raak die pad byster
in die siel van die mis.
Lig knip my vlerke.
Die pyn van my smarte
is ’n waterige herinnering
in die fontein van denke.
Alle rose is wit,
wit soos my pyn,
wit soos wanneer
sneeu daarop val.
Voorheen was hulle draers van ’n reënboog,
want sneeu val óók op die siel.
Die sneeu van die siel word gesoen
deur vlokkies en tonele
wat tevore in die skaduwee verlore was,
óf in die lig van die denker.
Sneeu val van die rose,
maar bly tóg oor op die siel,
en die jaar se dik naald
maak daarvan ’n mantel.
Sal die sneeu smelt
wanneer die dood ons kom haal?
Óf sal daar selfs nog meer sneeu
en meer perfekte rose wees?
Sal ons die vrede kan weet
soos wat Christus belowe het?
Of is dit nie vir ons
beskore nie?
Miskien is liefde ’n mistasting?
Wie sal ons lewens red
as donkerte ons begrawe
in die sekerheid van die Goeie,
dalk onrealisties, nogtans,
die Bose klop al hoe nader.
Wat as hoop vergaan
en Babel verrys?
Watter fakkel sal die weë
van die aarde dan verlig?
As blou bloot droom is,
wat is onskuld dan?
Wat wag op die hart
wanneer daar geen pyle is
in Liefde se koker nie?
As die dood bloot dood is,
wat word dan van die digters
en die oorwintering van dinge
wat niemand kan onthou nie?
Son van ons hoop!
Helder water! Donkermaan!
Die harte van kinders!
Rowwe siele van steen!
Vandag is in my hart
’n vae trilling van sterre,
en alle rose
wit soos my pyn.
DP: Watter temas in die Amichai gedigte het jou die meeste aangegryp?
BM: Van al Amichai se temas is sy gedigte oor die liefde vir my die mooiste. Daar is ook ʼn tipe sinisme in sy werk opgesluit waarvan ek gehou het. Hulle praat van hom as ʼn ironikus. Ek het van hierdie element gehou. Dan is daar ook ʼn hele aantal gedigte wat handel oor oorlog en die toestande in Jerusalem. Dit het my aangegryp.
DP: Hoe het jy te werk gegaan om die vertalings/gedigte te laat Afrikaans klink?
BM: My werkwyse was om eers rofweg te vertaal van Engels na Afrikaans. Daarnaas het ek die Afrikaans en Engelse weergawes met mekaar vergelyk in ʼn poging om ekwivalensie daar te stel. Die persoon wat dit geredigeer het, het my oor die vingers getik waar ek te ver van die Engelse weergawes afgewyk het. Die vertalings in dié antologie is almal daargestel vanaf die Engelse oorbruggingstaal. En dan was daar ʼn derde stap aan verbonde waarin ek verder aan nét die Afrikaans-geskepte weergawes geskaaf-en-geskaaf het (onafhanklik van die Engelse teks), in ʼn poging om elke gegewe gedig te maak werk in Afrikaans. Hier en daar moes ek ʼn klein bietjie afwyk van die Engelse weergawes.
DP: So met ander woorde die punt van dit was om Afrikaanse gedigte te skep, én om nie soseer getrou te wees aan een of ander ideaal van absolute getrouheid aan die oorspronklike nie?
BM: Korrek. Daar is volgens my twee werkwyses: Óf jy kan die oorspronklike slaafs navolg, óf jy kan daarna kyk dat jy in wese ʼn nuwe gedig tot stand bring. Ek het laasgenoemde benadering gevolg. Sedert ek destyds vir Darwiesj vertaal het, het ek begin toepas wat Darwiesj vir die vertalers van sý werk gesê het, te wete dat hulle eerder as om slaafs vanaf sy Arabiese weergawes, Engelse weergawes te probeer skep, eerder moet poog om die vertaalde gedig te laat werk in die teikentaal, Engels. Om die gedigte te laat sing in Engels (ten spyte van afwykings van die Arabies). As hierdie benadering gevolg word gee dit ʼn mens as vertaler derhalwe ‘ʼn speling’ om mee te werk, alhoewel jy steeds ʼn verantwoordelikheid het teenoor die outeurs wat jy vertaal. Ek het nie direk uit Spaans, Arabies en/of Hebreeus vertaal nie. Die vraag is dan wyk ʼn mens nie te veel af van die oorspronklike nie? Ek het ʼn siening hieroor, maar kom ons laat dit daar.
DP: Dit is ʼn interessante punt, want daar is mense wat vir jou sal sê dat ʼn mens nie die tipe van vertalings moet doen met ʼn oorbruggingstaal nie; dat ʼn mens slegs moet vertaal as jy die oorspronklike brontaal magtig is. Jou kommentaar?
BM: Hoe ek daarna kyk, is gestel nou in Afrikaans se geskiedenis is daar niemand in Suid-Afrika wat Hebreeus-magtig is, én wat die geneigdheid het om iemand soos Amichai in Afrikaans te vertaal nie, dan beteken dit ons gaan altyd vir Amichai in Engels kan lees maar nooit in Afrikaans nie. As jy ʼn puris is kan jy redeneer dat ʼn mens té ver van die oorspronklike beweeg, maar vir my is daar ʼn essensie wat – ten spyte van die oordrag – aan taal gebind bly selfs ten spyte van die feit dat jy meer as eenkeer van een taal na ʼn ander oorgaan. Die Bybel sê: In die begin was die Woord daar… en daardie deel wat nie soseer aan woorde kleef nie, kom in elk geval oor. Daardie stukkie Gibran, en daardie stukkie Lorca en Amichai – selfs al moet dit spring van die oorspronklike taal na Engels toe en dan weer na Afrikaans – daardie essensie, daardie waarheid, kom ons noem dit ʼn waarheid, word nog steeds oorgedra aan lesers. Die oorbruggingstaal ‘in die middel’ kan nie die oordrag van daardie suiwerheid keer nie.
ʼn Gedig van Amichai ter afsluiting:
’n Man se lewe
’n Man het nie tyd in sy lewe
om tyd te hê vir enigiets nie.
Hy het nie genoeg seisoene vir ’n seisoen
vir alles onder die son nie. Die Prediker
was verkeerd hieroor.
In dieselfde oomblik moet ’n man liefhê en haat,
deur dieselfde oë lag en huil,
met dieselfde hande klippe gooi en byeenbring,
liefde maak tydens oorloë en oorlog in liefde.
Om te haat en te vergewe, te onthou, te vergeet,
om te orden en te verwar, te eet en te verteer,
alles wat die geskiedenis
jare der jare neem om uit te voer.
’n Man het nie tyd nie.
Wanneer hy verloor, vind hy, wat hy vind,
vergeet hy, wanneer hy vergeet, het hy lief,
en wanneer hy bemin, begin hy vergeet.
En sy siel is bedrewe, sy siel
is uiters professioneel.
Sy liggaam bly egter vir altyd
amateuragtig. Dit probeer en misluk,
raak troebel, en leer niks nie,
dronk en verblind deur begeertes
en gebreke.
Soos ’n vy in herfstyd sal hy sterf,
verskrompeld, vol van homself en soet,
met blare drooggelê op die grond,
en barre takke wat reeds in die rigting punt
waar daar ’n tyd sal wees
vir elke ding onder die son.
(p220)

Die hele vertaling van Bester Meyer is half verdag gemaak hier. Ek moet meld dat, sonder om Meyer s’n te beoordeel, ‘n persoon wat hier kommentaar gelewer het, se vertalings wat ek al gelees het bra kras en droog was.
Die debat oor wat ‘n resensie is en wie mag resenseer is ook hier van toepassing: Wat is ‘n vertaling en wanneer mag ‘n persoon van sy teks as “vertaling” praat? Die onderliggende beginsel by sowel vertalings as resensies is dat dit die produk van ‘n vakspesialis is wat hou by die beginsels (mens kan dit dalk ook reëls noem) van die betrokke bedryf wat teoreties in vakkundige tekste beskryf word. ‘n Resensie én ‘n vertaling kan objektief getoets word aan die wyse waarop die resensent / vertaler (verantwoordelik) omgaan met dié “wetmatighede” wat ‘n teks as resensie / vertaling kenmerk. Hoewel die gevoel ( dalk eerder aanvoeling) van die skrywer soms tersaaklik mag wees, speel dit nie die hoofrol in enige van dié teksproduksies nie. En om die proses as spirituele aktiwiteit te bedryf, is gewoon gevaarlik vir die eindproduk wat tog getoets moet kan word aan die beginsel van akkurate oordrag van die bronteks wat ‘n konkrete artefak is met ‘n vorm wat betekenisdraend is en ‘n taalstruktuur, eweneens betekenisdraend. Net so gevaarlik as om te beweer dat die vertaler sy eie siening oor sy ambag het sonder om dit te definieer met verwysing na of met betrekking tot ander vertaalkundige vaktekste of teorieë sodat eweknieë dit kan evalueer.
Dalk is dit hier nodig om ‘n heel ander term as “vertaling” te gebruik om misverstande te voorkom. Sowel “vertaling” as “resensering” is ‘n gewilde stokperdjie onder leke. Niks verkeerd daarmee nie! Maar ons kort terminologie om die nie-vakkundige produk van die ware jakob te onderskei.
Net kommentaar hierop: In die nota oor vertaling agter in hierdie bundel, word dit aangedui dat die ‘vertalings’, eerder as omdigtings getipeer moet word juis as gevolg van die strieminge onder bespreking. Enersyds word die toepassing van die vertalingsfilosie en -toerieë vermeld wat dan hopelik vakspesialis in staat sal stel om te evalueer.
Die probleem is dat die boek as vertalings bemark word. Daarom sal dit as vertalings ingeskat word. Daar is wel baie mooi momente in die boek, maar nie noodwendig omdat dit getrou is aan die bronteks nie.
As ‘n skrywer sê hy vertaal, selfs al is dit nie ‘n woordgetroue vertaling nie, kan dit gebeur dat die grense van die oorspronklike teks so ver oorgesteek word dat die vertaler die oorspronklike skrywer woorde in die mond lê en die oorspronklike bedoeling in die proses verlore gaan. Dit is oneties en dit gebeur dikwels as die vertaler nie die bronteks kan lees nie en slegs aan ‘n oorbrugging gebonde is waarvan hy nie kan oordeel of dit goed of sleg is nie.
Bester Meyer se “vertalings” is dubbel ontoetsbaar. Dit kan nie aan die bronteks gekontroleer word nie, want hy vertaal via Engels. Tweedens berus sy vertaalstrategie op die metafisiese opvatting dat hy die “goddelikheid” van ‘n teks wil oordra. Slegs fisiese dinge is kontroleerbaar.
Met teksgeleier het ek bedoel dat ‘n vertaler soek na bepaalde woorde. ‘n Semantiese en sintaktiese proses.
‘n Ambag dus. Met elke vertaling moet die korrekte woord van die brontaal oorgedra word. Hierom kan ‘n mens verskillende vertalings vergelyk. Wie kom die naaste aan die oorspronklike teks. In hierdie opsig was Uys Krige ‘n fenomenale vertaler. Daardie reeks van vertalings (met M.M. Walters as die redakteur) bly ‘n baken.
Sinoniem-woordeboeke verklap hoe ingewikkeld vertalings is.
En dan is daar klank en ritme ook.
In “Uit die herberg van die Alhambra” spel Bester Meyer sy metafisiese beskouing van vertaling uit. Hy onderskryf Walter Benajamin se opvatting van “die reine Sprache” wat Meyer ‘n rekonsiliasie tussen tale, en daarom ook mense, noem. Hy streef dus na ‘n “universele taal” wat ‘n suiwer abstraksie is. Hy stel dit in religieuse terme: “Ek dink daar is ‘n sekere goddelikheid opgesluit in die werk van al drie hierdie outeurs (dit is Gibran, Lorca en Amichai – DH), en my vertaling, die wyse waarop vertaal is, is hopelik ‘n eerste om hierdie ‘kern’ wat nie in woorde oorgedra kan word nie, te probeer oordra. Dit wat aan die tekste kleef, eerder as dit wat die tekste op semantiese vlak wil s^e. Volgens my kan die outeurs wat vertaal is, se werke as ‘heilige tekste’ beskou word.”
So ‘n opvatting ontken die konkrete vorm van ‘n gedig: die sigbare (skrif, vers- en strofeverdeling) en hoorbare (klank, ritme). Dit is daarom vreemd dat Meyer hom enigsins steur aan die “musikaiteit” van sowel die bronteks as die doelteks.
‘n Vertaler is ‘n ambagsman wat met die taal in sy konkrete verskyningsvorme werk – nie ‘n priester, bemiddelaar of geleier van die goddelike nie.
Ek is mal oor die konsep: teksgeleier. Dit laat my dink aan die Siva struktuur wat ʼn vloeikanaal vir die Shakti energie daarstel. Die Skati energie wat dan uit die aard van die saak gelykgestel kan word aan “die Woord.” Shakti: die altyd kreatiewe, dansende een. Niks kan haar in haar vloei na die leser stuit nie. Nie die teksverwerker, rekenaar, interweb met moontlike masjienvertalingsmoontlikhede nie. Niks én niemand nie.
Alle dinge is Rein
Alle dinge is van nature rein
Alle dinge het van nature ʼn basis:
gegroet my vroulike teenpool
vertrou dis nag by jou
as dit aan my kan dag is –
gegroet die stilte
wat holrug ry op die leegte –
gegroet dienskneg
van die diensmaagd:
Shakti Shakti Shakti
elke God benodig ʼn geleier:
elke vrou haar man se werwel
elke kruis sy Christus
met Magdalena
by sy voete,
die beginpunt van die Waar-heid
wat woorde offer uit/in die staan-
spoor van die niet
Dalk eerder teksgeleier. ‘n Teksversorger werk met taal- en spelfoute. In hierdie bloemlesing gebeur iets anders.
Dalk eerder teksgeleier? Teksversorger werk met spel- en taalfoute. In hierdie bloemlesing gebeur iets anders.
Ek wil die argument verder voer. Indien dit in orde is dat ‘n vertaler nie die brontaal ken nie, waarom nog die moeite doen om ‘n Engelse oorbruggingsteks te gebruik? Laat ‘n vertaalmasjien ‘n direkte vertaling in Afrikaans doen en slyp dan daaraan om dit ‘n aanvaarbare gedig te maak. So word sommer ook die moontlikheid uitgeskakel dat vertaalfoute van die tussenteks gekontinueer word. Maar die begrip “vertaler” verloor dan alle geldigheid. Teksversorger sou ‘n gepaster benaming wees.
In hierdie verband is Uys Krige altyd die meetsnoer. Sy vertalings van Lorca (1987) en die puik Spaanse dans (1991) werk met die oorspronklike tekste.
Vertalings, soos Daniel Hugo uitwys, is ingewikkeld. Veral wat musikaliteit (klank) betref.
Die hele kwessie van die “oorbruggingstaal” behoef ‘n verdere gesprek.
Wat is dan “lost in translation”?
En hiermee moet ek terselfdertyd bely dat die herdigtings uit die Engels van Bester Meyer bekoor.
Veral die Amichai-gedigte.
Vertalings in die streng sin van die woord is dit nie.
Louise Cilliers se vertalings werk met die oorspronklike taal wat sy dan laat sing in Afrikaans. En hierom is sy tereg pas bekroon.
‘n Interessante gesprek. Ek het wel ‘n bedenking oor een van Bester Meyer se uitsprake. Hy beweer dat hy aangetrokke was tot die musikaliteit van Lorca se gedigte. Terselfdertyd erken hy dat hy nie Spaans ken nie; dit is waarom hy ‘n Engelse vertaling as oorbruggingsteks gebruik het. Volgens die bronnelys in “Uit die herberg van Alhambra” blyk dit dat hy die vertalings van Martin Sorrel verafrikaans het. In werklikheid was dit dus die musikaliteit van die Engelse weergawe wat tot hom gespreek het. Sy oorspronklike aangetrokkenheid berus daarom op ‘n illusie. En: die musikaliteit van sy Afrikaanse vertaling – iets waarna hy sekerlik gestreef het – sal uiteraard ook drasties van die Engels verskil. Dan is die teks in werklikheid twee keer verwyder van die oorspronklike “musikaliteit”. Dit is per definisie onmoontlik om die klank van ‘n gedig in ‘n ander taal weer te gee.