Hein Viljoen is op 23 Maart 1951 in Pretoria gebore. Hy spandeer sy kinderjare onder andere op Krugersdorp-Wes, Lindley in die Vrystaat en Potchefstroom waar hy in 1968 aan die Hoër Volkskool Potchefstroom matrikuleer. Viljoen voltooi sy B.A.-graad met Afrikaans-Nederlands en Psigologie as hoofvakke, asook sy B.A. Honneurs-graad, aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy behaal sy M.A.-graad aan die Universiteit van Pretoria en in 1985 behaal hy sy D.Litt.-graad aan die Potchefstroomse Universiteit waar hy ook later professor in Afrikaans en Nederlands is.
Viljoen is bekend as skrywer op literêre én akademiese fronte. Hy is medeskrywer van Alkant olifant (1988), ’n inleiding tot die literatuurwetenskap, en ook twee bundels opstelle, nl. Storyscapes (2004) en Beyond the threshold (2007). In 1982 verskyn sy debuutbundel, Waterkristal, gevolg deur Holtrom en groot kabaal in 2007. Sy gedigte verskyn ook in Literator en op Versindaba. In 2013 verskyn ’n derde bundel opstelle , nl. Crossing borders, dissolving boundaries (2013). Viljoen se derde digbundel, Brisant, word in 2019 by Naledi uitgegee. Sy vierde digbundel, Vyf kleur blou, ʼn verkenning van die resonansies van blou, het in 2023 verskyn, ook by Naledi.
Nota van die Versindaba-redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons bygewerkte profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com.
Van ‘n digter wat al een of meer solobundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste niepoëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite onder mekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com.