Resensie: ek en jy bestaan nie deur Danie Marais. Tafelberg, 2024. ISBN 978-0-624-09500-2
Resensent: Neil Cochrane
Met sy eerste twee bundels, naamlik In die buitenste ruimte (2006) en Al is die maan ’n misverstand (2009) het Danie Marais die Afrikaanse poësiegemeenskap aan die gons gehad. Dit is veral sy beoefening van die verhalende vers en gebruik van ’n alledaagse praatstyl wat tot insiggewende debatvoering lei oor wat poësie veronderstel is om te wees. Verhalende gedigte en die praatvers is nie nuut in die Afrikaanse poësie nie, maar vanaf die eerste dekade van 21ste eeu beleef dit ’n bloeitydperk en figureer narratiewe elemente ook sterk in die poësie van Ronelda Kamfer, Loftus Marais, Hilda Smits en Charl-Pierre Naudé. Danie Marais se werk wek ook akademiese belangstelling en vorm die basis van ’n aantal akademiese artikels oor verhalende poësie. In 2014 verskyn Marais se derde bundel, Solank verlange die sweep swaai.
Marais se poësie-oeuvre beskik oor ’n aantal oorkoepelende eienskappe: ’n outobiografiese, anekdotiese en narratiewe inslag, ’n voorliefde vir die vrye vers en praatvers, stripkunsvoorblaaie, intertekstuele verwysings na uiteenlopende kultuurtekste, ’n nostalgiese blik op die alledaagse bestaan en ’n kosmopolitiese allure. Uiteraard kan mens nie die rykheid van Marais se digterskap tot ’n paar kodes reduseer nie, maar tog kan dit help om die leser te oriënteer.
Marais se vierde digbundel, ek en jy bestaan nie, sluit nou aan by die vermelde wesenstrekke, maar dit slaan ook ’n ander koers in veral in terme van die posisionering van individuele lot binne die spesifieke sosiopolitieke konteks van kontemporêre Suid-Afrika. Die bundeltitel klink bedrieglik eenvoudig, maar die leser moet nie hierdeur geflous word nie. Ja, dit dui op ’n eksistensiële krisis, maar die bundel is ook ’n outobiografiese boekstawing van die afgelope dertig jaar. ’n Bestekopname waarin ’n middeljarige, blanke man meermale ’n retrospektiewe perspektief bied op sy jonger self in gedigte soos “Die 90’s”, “Griekeland, 1996”, “Cecil, kom in, kom in”, “Met vrese soos met verse” en “Bestem”. Die idee dat jy moet terugkyk na jou persoonlike geskiedenis om jou teenswoordige bestaan te begryp is ’n kernkomponent van die bundel. Dié soort retrospektiewe visie laat jou besef hoe naïef jy was en dat sekere ideale nie werklik gerealiseer het nie:
wat my ineen laat krimp
is die Madiba-hemp wat ek aan het
’n Madiba-hemp wat nou na
’n outydse kaalfoto
van maagdelike hoop lyk
Afgesien van terugblikke na die verlede staan die bundel ook pens en pote in die hede. Die spreker vra deurlopend kritiese vrae oor sy middelklasbestaan in skisofreniese Suid-Afrika. Meer spesifiek gaan dit veral om die middelklaslewe in Stellenbosch waar ’n “koue burgeroorlog” woed – ’n drukkoker van komplekse ras- en klasverhoudings. ’n Dorp waar die berge nie noodwendig so blou lê nie, maar eerder ’n hel van onoorbrugbare verdeeldheid en broeiende geweld:
Want wanneer jy Stellenbosch met die litteteken
van Birdstraat langs binnery
behoort jy te bewe wanneer
jy die ruit oopmaak ruik jy
dié dorp is in petrol
gedoop die skeidslyn
van Helshoogte loop soos ’n lont
van Cloetesville deur die hangende lushof
van Delaire tot by die wingerde
van Bybelonstoren.
Niks in hierdie land is eenvoudig nie en sosiopolitieke kragte buite klinkersteenmure intensiveer die spreker se bestaanskrisis, skuldkompleks en identiteitswroeging. Dit vorm die tematiese kern van gedigte soos “My afgevaardigde word stoom teen my eensterspieël”, “Met vrese soos met verse”, “Van skuld en skaamte”, “Goeienag, Matt Berninger”, “Die paneel” en “Tussen my en jou, Tony, en eeue van sneeuwit”. Die spreker onderwerp hom konstant aan eerlike selfinterrogasie en stel sy prekêre posisie baie duidelik:
Is dit simpel dat ek wil jammer sê namens
ek weet nie wie nie
kan daar iets meer cringey
vir ’n woedende jong skrywer wees
as ’n afgewaterde wit man
wat in die openbaar
om die aalmoes van begrip bedel?
Wit trane is net sout
in ou wonde.
Gedig na gedig is die spreker se selfondersoek nou verbind aan sy byna obsessiewe strewe na sinmaking. Dit behels soms ’n reis sonder ’n klinkklare eindbestemming:
ek is steeds op pad
met die dronk skatkaarte van gedigte
in die lanternlig van ou wonde
op die bloedspoor
na komvandaan
Hierdie soeke na sinmaking kom ook neer op ’n aanvaarding dat die lewe onverskillig aangaan of jy nou antwoorde vind of nie en dat berusting ook te vind is in alledaagse rituele:
In die diefalarmnag roep twee oeruile steeds
in Waterweg na mekaar trek ’n halwe man nog
sy halwe vrou en die genade van haar glimlag nader
in ’n stille weerbarstigheid
’n vreemde gebaar oor en oor
gaan hy by haar in ’n pelgrim
wat keer op keer vind
waarna hy nooit wil ophou soek nie
Een van die pluspunte in die bundel is die genuanseerde verwoording van die paradokse wat die voorstedelike middelklasbestaan kenmerk in gedigte soos “O, die sentimentele roofdiere” en “Ons ry nie ’n BMW nie”. Die lewe in die lowerryke voorstede is maar ’n wipwaentjierit of dit nou in ’n BMW of intreevlaksedan is. Terselfdertyd knus én beklemmend, ’n soort tusseninspasie van erkenning én ontkenning, sekerheid én verwarring. Aan die een kant word die middelklas deur “ sentimentele roofdiere” bevolk en voel die spreker dat sy pyn “al minder geldig” voel; aan die ander kant is dit ook ’n bestaan wat hy tot elke prys sal beskerm:
vir jou en hierdie huis
kan ek moor
soos my voorgeslagte gemoor het
Gepraat van voorgeslagte. Die oordrag van erfsondes aan nageslagte en ’n indringende konfrontasie met familiegeskiedenisse vorm deel van die spreker se strewe om sy huidige posisie beter te verstaan. Dit kom in gedigte soos “Die te groen waatlemoen” en “Oupa-dominee Dirk Jordaan” ter sprake. Die kwessie van wit skuld word veral in dié gedigte op die spits gedryf:
Ek boer blindelings benard op grond
wat die stootskrapers vir wit werwe
so skoon geskrop het day jy kwalik kan glo
hier was slopers betrokke.
Ook ek twyfel oor die nut
van my stem, maar in wie se naam
vir watter saak, Oupa,
swyg ons so?
Die motief en metafoor van “die verdagte” dien as ’n belangrike bindingselement in die bundel. Dit kom voor in die aantal WhatsApp-gedigte waarvan sommige byna verbatim oorgeneem is uit teksboodskappe wat op ’n buurtwaggroep verskyn. Dié sewe gedigte verskyn op stategiese plekke in die bundel en dit wat aanvanklik op ’n kursoriese wyse aangeroer word, word in die slotgedig, “Die verdagte”, meesterlik uitgebrei. Die WhatsApp-gedigte verteenwoordig ’n herkenbare diskoers van verdagmakery en kollektiewe paranoia. Dit bevestig ook dat alledaagse gesprekke dikwels gelaai is met suggestie:
Hier is ’n man (maatskaplike werker?)
in die buurt wat geld insamel
vir “abused” kinders se uitstappie
na akwarium. Sy papiere is stokoud!
Geen nuwe gestempelde dokumente
wat die uitstappie bevestig nie.
Ek wonder maar net
of dit ’n slenter is of regtig so?
Deur hierdie gedigte word die middelklasleser waarskynlik ook gekonfronteer met sy of haar eie vooroordele. Die satiriese ontmaskering van hierdie vooroordele bereik ’n hoogtepunt in die slotgedig waarin die spreker ’n multidimensionele perspektief bied op watter soort persone as “verdagtes” beskou word. Uiteindelik word almal verdag wat nie deel vorm van die blanke middelklas nie – mense van kleur, armes en migrante. Weereens ontmasker Marais die teenstrydige aard van dié beskouing op ’n oorbluffende wyse. Let ook op hoe die sintaktiese plasing en herhaling van “verdagte” bydra om skisofreniese teenstrydigheid te beklemtoon:
die Stellenboschluisbuurt wil die verdagte
soos ’n bloedsuier verwyder die verdagte
se hande staan vir geen vuilwerk verkeerd nie
die verdagte is op haar knieë met lap en emmer
die verdagte is so veelsydig soos ’n Leatherman
elke nutsman behoort een te hê
die verdagte kruie sistematies ’n Kreepy Krauly
deur die buurt die verdagte krap in die vullis herwin
skep rooi bessies uit die swembad uit
Daar is ’n paar haakplekke in die bundel. Die verklarende aard van die meeste gedigte is veral ’n stoornis. Die spreker verduidelik soms te veel met die gevolg dat gedigte soos krete, politieke toesprake, manifeste en selfs klaagliedere begin klink. Partykeer moet ’n gedig sê wat dit wil sê en dit klaar sê. Marais se uitgesponne, narratiewe gedigte wil meermale nie end kry nie en sou kon baat by besnoeiing. Die bundel toon ’n mate van tematiese eenselwigheid, want dieselfde standpunte en konklusies oor byvoorbeeld wit skuld kom herhaaldelik voor. Die belydende en selfbeskuldigende toonaard oorheers en min ruimte word gelaat vir ’n bietjie selfironisering.
Dit gaan nie soseer om die onderwerpe waaroor Marais dig nie, maar meer om hóé hy dit soms doen. In dié opsig dink ek aan ’n repliek wat in 2009 op Versindaba verskyn waarin Marlene van Niekerk die volgende beweer:
Ek is lus om die hele tyd uitnemende, skokkende, kragtige, bitterlik vervreemdende of bedroewende of “aangrypende” en in ieder geval moerse woordvaardige kommunikatiewe events mee te maak wat my in my glory in rattle of met ongekende emosies bewasem of met lewertergende gedagtes betas, as ek nuwe Afrikaanse poësie lees, dis al! En ek kry dit te veel kere NIE! Dit gaan my net om een ding, en dit is dat die werklikheid so vreemd en wild as moontlik gemaak word en dat die taal in die proses oor sy eie mik heen in sy goue gort in gekasty en bemin en geloodglans word.
Nie alle gedigte in Marais se jongste bundel oorrompel die leser met verrassende vervreemding in terme van die aanwending van tematiek, taal of tegniek nie. Die verwoording en digterlike perspektief is by tye voor die hand liggend en selfs verbeeldingloos soos byvoorbeeld in “Die Geskiedenis leer ons”. In dié gedig staan die kragwoorde en alledaagse gesprekstrant nie regtig in diens van die gewigtige tematiese aanbod nie, maar herinner eerder aan ’n banale braaivleisgesprek:
daar was nooit net dose nie maar
daar was te alle tye net
te veel dose
En die grootste dose wen
en die wenners wys
die skuldiges aan maak
hulle teen ’n muur staan
In sommige gespreksgedigte soos “O, die sentimentele roofdiere” pla die melodramatiese en dralende toon en oordrewe beelde asook die aaneenstromende adjektiewe:
Uit die verbeelde kou van “Afrikaner” bevry nie
daar is geen geloofwaardige verdraaiiing
van ons skermerdierverlede nie geen
nuwe beryming van politiese verdagte metafore
wat kollaterale skoonheid uit die sinkende
praalgrafte van baasskap kan red nie geen
Raka-remix met ’n sick beat
wat versaakte weeswerke van die Weste
in luistergoud kan verander nie.
Hierdie is nogal ’n mondvol. Dit is asof Marais in langer gedigte nie altyd ’n balans tussen liriese en narratiewe elemente handhaaf nie. Dit lei dan tot ’n frenetiese oorkompensasie in terme van taalgebruik, beelde en digterlike tegnieke om die verhalende praatvers meer poëties te laat klink. In korter en meer gestroopte verse soos “In die akwarium” en “Skopman die mol” word die narratiewe trant wel behendig met sterk liriese bytkrag gekombineer. Sommige van die beste gedigte in die bundel is suiwer liries (en korter) van aard en maak derhalwe ’n groter en meer gefokusde impak op die leser. Goeie voorbeelde is “Skiet herlaai”, “Griekeland, 1996” en “Wanneer niks van buite na binne dop”.
Ten spyte van ’n aantal besware is ek en jy bestaan nie ’n oortuigende bevestiging én uitbreiding van Marais se toeganklike digterskap. Hy skryf oor dinge wat almal kan verstaan en ook belangrik is om te verstaan. Sy gedigte nooi die leser uit om deel te neem aan ’n openhartige gesprek oor sake waaraan almal dink, maar miskien te skugter is om prontuit oor te praat. Vir Marais is stilbly gewoon nie ’n antwoord nie, want soos Sartre gesê het: “Every word has consequences. Every silence, too.”
Bronnelys
Van Niekerk, M. 2009. Reaksie of Charl-Pierre en Danie. https://versindaba.co.za/2009/07/15/reaksie-op-charl-pierre-naude-danie-marais/
Neil Cochrane, ek neem kennis van hierdie belangwekkende resensie. Ek dink jy gee insette wat baie belangrik is, en waarvoor jy meer as meeste toegerus is om te doen. (Ek is ook seker daar sal diegene wees wat daarmee verskil.)
Hierdie kommentaar is nie ‘n kommentaar op jou resensie van “Ek en jy bestaan nie”, maar op ‘n sylangse indruk wat daaruit vrykom.
Ek wil reageer op die indruk wat in die byhaal van Marlene van Niekerk se destyde repliek op iets wat ek destyds geskryf het (wat NIE hier aangehaal word nie) gelaat word, dat my, Charl-Pierre Naude se, en Danie Marais se digkuns, aan die een kant, en oortuigings oor die digkuns, aan die ander kant, sinoniem met mekaar is, of was, of selfs grootliks ooreenkom. Daardie indruk is dalk, net dalk, ‘n reuse-oorvereenvoudiging. Daarvoor is Danie te veel his own man, en ek te veel my own girl.
Wat die destydse spatsels debat tussen my en Marlene van Niekerk betref: Ons het maar albei ons mikskoot hubris afgeskiet daar. Sela, en respekte. (Volgens my maatband in elk geval.) Punt 1 wat ek wil maak: Marlene se destydse sienings oor die dinge waaroor mens jou kan verwonder (en wat volgens haar in digkuns oorgesit behoort te word maar kwansuis deur digters soos Wie Ook-Al van die sogenaamde vertellende trop, geignoreer word), soos die geval van die spietkop met die eiesoortige naam van getuig: Ja, natuurlik is dit verwonderingswekkende aspekte van ‘n digkuns-behoeftige wereld, daai! Maar dit is die verwonderingswekkende aspekte van ‘n baie Marlene-neske dikunsbehoeftige wereld, NIE die digkunsbehoeftige wereld as sulks nie. (Ek kan my nie indink dat enige iemand anders as Marlene van Niekerk so ‘n gedig behoort te skryf nie!)
My rede vir hierdie inset. Heelwat van my sieninge oor die digkuns en Marlene s’n is nie so verwyderd van mekaar nie. Trouens ons neem skynbaar heel nougeset kennis van mekaar se gedigte. Ek verwys die lesers na my baie waarderende resensies oor haar digkuns, veral “Kaar”.
En graag wys ek lesers, as ‘n kontrapunt, ook op sekere nougesette strukturele ooreenkomste tussen Marlene se gedig oor die minister van onderwys van destyds (rondom 2016) (Angie Somebody), en my gedig “Lof aan die versakers” uit my bundel “Al die lieflike dade” wat in 2014 die lig gesien het (en wat etlike jare tevore in ‘n Nederlandse literere tydskrif verskyn het wat op die leesrakke van die Departement Afrikaans en Nederlands in Stellenbosch te krye was). (Dat daar ooreenkomste tussen ‘n gedig van myne en hare kon wees het ek as niks minder as ‘n kompliment vertolk het nie.) (Ek hoop ek het nou die regte gedig uit my eie bundel beet, want ek dink deesdae baie selde aan my eie gedigte.)
Maar. Dus. Oovergetsynde. Die tweede punt: Die wereld van die letterkundebeskouing kan nie in boksies toegedraai word nie. Kan dit?
En tog is boksie-boksie ‘n heerlike mik-en-skiet-spel! Miskien meer vir die oomblik bedoel as vir die ewigheid.