
“Jou pa is nie die man wat jou gemaak het nie, hy is die man wat jou geleer het om ‘n kite te vlieg.” In die TV-reeks ‘Onder Engele’, geskryf deur Paul C. Venter, het een van die karakters hierdie woorde aan Dialtjie September gesê. Ek was maar tien jaar oud toe hierdie storie op die kassie was, maar ek kon nooit daai woorde vergeet nie. Professor Mellet Moll was vir baie mense – vir my veral – op daardie manier ‘n vaderfiguur.
Mellet Moll is by verre die mees besonderse intellek waarmee ek al te doen gehad het: hy was ‘n professionele ingenieur, ‘n professor van ingenieurswese, ‘n digter, ‘n liriekskrywer, en betrokke in die rock’n’roll wêreld waar hy op ‘n stadium die mede-eienaar van ‘n platemaatskappy was.
Ek hoef nie baie te sê oor sy gedigte vir u wat hierdie forum gereeld dophou nie. Indien u nog nie het nie, besoek gerus sy Facebook profiel, waar hy gereeld nuwe verse gedeel het, en kry sy bundels in die hande. ‘Heilige Meetkunde’ is my gunsteling, maar dis nie ligte musiek nie. ‘Swanesang’ is dalk die beste bundel vir ‘n eerste ontmoeting met Mellet Moll. Vir my was hy van meet af een van die mees kreatiewe en tegniese digters in Afrikaans. Sy meer onlangse werke, wat nog nie gepubliseer is nie, dink ek sal tel onder die beste poësie wat in Afrikaans geskryf is. Die tegniese vernuf en kreatiwiteit is steeds daar, maar in hierdie werke ontbloot hy sy ou siel sonder voorbehoud. Ek skryf ‘n groot deel van hierdie ontwikkeling toe aan sy huwelik met Nini Bennett-Moll. Ek het aanvanklik geskerts dat Nini dig vir my hart en Mellet vir my brein, maar met Nini se liefde en aanvaarding en invloed het Mellet algaande meer dapper met eenvoud en emosie omgegaan in sy skrywes.
Mellet Moll, die ingenieur, het my altyd verbaas. Ons het vir ‘n jaar lank saam gewerk op ‘n reusagtige projek – hy was my mentor en ek sy protégé. Soos wat altyd die geval is, wou ek darem ‘n keer of wat kon verskil van hom en hom verkeerd bewys, want elke protégé verkeer in vriendelike spanning met sy meester, en wil hom tog te bowe gaan uiteindelik. Dit het my amper tot raserny gedryf dat hy waaragtig waar met elke voorspelling en besluit op hierdie projek reg was. Nou moet ek maar toegee: Mellet, ek het jou toe nooit gewen nie en daar gaan jy heen voor die Amerikaanse verkiesing. Ek dink my voorspelling oor die Amerikaanse verkiesing is reg en joune verkeerd … of dalk geniet jy selfs in die graf die laaste lag.
Mellet Moll was ‘n komplekse siel. Soos met vele briljante mense, kon hy amper enigiets verstaan, maar ek wonder of hy homself verstaan het. Hy het graag na homself verwys as ‘n ingenieur en aanspraak gemaak op sy logika, sistematiese benadering en rasionele aanslag. Ek dink sy ideale beeld van homself was ‘n kliniese, analitiese denker, een waarvoor die passies nie die rede sou oorheers nie. Daardie alter-ego van hom het metafisika verwerp en sou volgens hom ‘n suksesvolle diktator kon wees. Maar, net soos wat soveel van ons nie die diepte en rykheid van ons eie siele kan peil nie, kon Mellet Moll ook nie meer verkeerd oor homself wees nie. O ja, hy het die nodige gawes gehad om logies te werk te gaan, maar hy was nie ‘n robot nie. Daar was niks koud en klinies aan hom nie. Hy was ‘n kunstenaar, ‘n werklike kunstenaar met ‘n sensitiewe siel, oop en broos voor die wêreld waarvoor hy so baie omgegee het, en selfs sy reuse rede was ‘n slaaf van sy passies. Hy het tradisionele godsdiens verwerp, maar elke aksie sou strook met opregte, liefdadige christenskap.
Ek en Mellet het oor amper alles verskil: Ek’s tradisioneel godsdienstig en hy nie, hy’s ver-links en ek is seker maar regs, my gunsteling musiek en filosofie kom uit die romantiese era en vir hom is dit eerder die 20ste eeu, ek dink Voltaire en Ricoeur is die enigste Franse wat die moeite werd is om te lees en hy wou gereeld debatteer ten gunste van strukturalisme. Ons het so skerp verskil as wat mens moontlik kon, en oor sensitiewe onderwerpe, maar daar was nie een oomblik waar ons verskille naby daaraan gekom het om ‘n breek te veroorsaak nie. Die feit dat ons mog verskil het ‘n veilige hawe geskep waar ons intellektueel kon kragte meet sonder vrees vir affront.
Al die dinge hier bo sê ek eintlik maar in die verbygaan, vir my is die belangrikste dit wat hy vir soveel van ons, individueel, gedoen het. Mellet Moll was indrukwekkend, en vir baie mense ook intimiderend; sy woorde kon ‘liefde’ sê en ook baie diep sny. Maar, agter daardie harde gewaad van ‘n groot, kaalkop, Afrikaanse man was die siel van ‘n onderwyser en ‘n vader. Daar is honderde (indien nie duisende nie) studente deur sy hande. Vir soveel van ons was hy die eerste een om ons volle potensiaal te sien, die eerste een om ons aan die hand te vat en touwys te maak, en die eerste een om ons werklik te laat glo in ons vermoëns. Daar waar ons gedeelde pad geëindig het, het hy ons met rigting die wêreld in gestuur. Ja, hy het al die woorde gehad en al die vermoëns om die letters te laat werk, maar op die ou end het sy dade die praatwerk gedoen. Dit is die geval vir beide sy werk as dekaan en in die top-bestuur van CPUT, en ook met sy interaksies met individue. My werk wat ek vandag het, is as gevolg van sy netwerk waarin hy my bekend gestel het aan ander en sy positiewe verwysing. Dit was gedurende die tyd rondom my egskeiding, toe geen vriend of familielid dit sou waag om vir my ‘n werk te gee of om besigheid te doen saam met my nie – op daardie stadium het hy homself ontferm en gesorg, soos ‘n vader. Hierdie verhaal is maar net een van baie soortgelyke voorbeelde te make met Mellet Moll waarvan ek intussen gehoor het. Hy het vir menigte jong mens werk georganiseer, hy het ander gehelp om besighede te begin, en sy raad was altyd vrylik beskikbaar.
“Jou pa is die man wat jou geleer het om ‘n kite te vlieg.”
Ons is dankbaar om hierdie groot gees te kon ken, maar ek, en baie ander soos ek, het gister ‘n vader aan die dood afgestaan en is vandag hartgebroke en so ‘n bietjie verlore.
– Dr M.T. Steyn de Wet (Sanger-skrywer, Besigheidskonsultant, Dosent)
