Karoo-gebed
die aand was maanloos die sterre uitbundig
ons het ’n bankie uitgedra verby die olyfboord
en die nag ingeasem sonder ’n enkele woord
’n ligte wind het die nag se stemme aangedra
kriek- en kikkerkore en die weemoed van ’n uil
wyd uitmekaar het jou hande uitgereik na bo
die flonkering omarm afgetrek tot teen jou bors
met hande oor mekaar jou oë gesluit gefluister
amen
© Hannes Visser, 2024