Brief
pa na soveel jare skryf ek in
onvermoë tot gebed vir jou
’n brief
’n soenoffer
wat ek aan gode
wat ek nie ken nie
toevertrou dat hulle
jou kry waar jy jou bevind
oom sakkie het gesê jy was die sagsinnige
die oudste broer wat net alles wou gee
die een vir wie die lewe te swaar en te veel
met hierdie brief
wil ek jammer sê
dat ek nooit dieper
dat ek nooit gevra
dat ek nooit besef
dat ek nooit moeite
dat ek nooit vir jou
pa, hierdie brief is vyftig jaar
te laat en vyftig jaar te kort
maar ek glo hy sal sy pad tot
by jou vind en dan sal jy weet
© Hannes Visser, 2024