
Hierdie resensie verskyn postuum: Mellet Moll is op 28 Oktober 2024 oorlede. Ten tye van sy afsterwe het hy nog aan hierdie resensie gewerk. Ek laat dit soos ek dit van Nini Bennett-Moll ontvang het. – Marlies Taljard , Inhoudsbestuurder
Resensie: Kuborg deur Martina Klopper. 2023, Imprimatur. ISBN: 9780796135940
Resensent: Mellet Moll
I
Martina Klopper is in 1976 gebore en word groot op Reitz in die Vrystaat. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, en in 1999 behaal sy ’n B.Mus.-graad aan die Universiteit van Pretoria. Sy werk eers as rekenaarprogrammeerder en daarna as ’n besigheidsontleder in die finansiële dienstesektor in Kaapstad. Van 2012 tot 2015 is sy werksaam as senior konsultant by ConVista Consulting SA, en in Januarie 2016 sluit sy aan as senior konsultant by die internasionale ouditfirma, Deloitte. Sy behaal in 2008 haar MA-graad in Skeppende Skryfwerk onder leiding van prof Joan Hambidge aan die Universiteit van Kaapstad. Haar debuutbundel, Nadoodse ondersoek verskyn in 2010 as uitvloeisel van haar MA-verhandeling.
Klopper se debuut is ’n volledig deurgekomponeerde bundel waarin die lewering van ’n outopsieverslag die spilpunt van die verse vorm. ’n Outopsie, of ’n geregtelike nadoodse ondersoek word gelas in gevalle van ’n onnatuurlike (of skielike) doodsoorsaak soos misdaad of ander verdagte omstandighede. Forensiese patologie/geregtelike geneeskunde word gebruik as uitgebreide metafoor om gebroke verhoudings en die skending en die viktimisering van die liggaam as ars poëtikale prosesse te beskryf. Die toonaard is ontluisterend, en Jaco Barnard- Naudé het die bundel as ’n “rouproses” beskryf. Alhoewel Nadoodse ondersoek ’n gunstige resepsie tot gevolg gehad het, is hierdie leser van mening dat Klopper nie genoeg erkenning vir haar debuut ontvang het nie. Nadoodse ondersoek en nou ook die tweede bundel, Kuborg, vorm deel van ’n klein en seminale oeuvre waarin Klopper vir haar ’n besliste en unieke stem losgeskryf het in die Afrikaanse poësie. In Nadoodse ondersoek hanteer sy temas tiperend van die posthumanisme; in Kuborg beweeg die digter verder en betrek die mens-masjien-verhouding as korrelaat vir die transhumanisme. Dit is sinvol om in retrospek, en met die verskyning van Kuborg, haar bemoeienis met hierdie twee begrippe te karteer en beide Nadoodse ondersoek en Kuborg op dieselfde kontinuum te plaas. Beide bundels is dun, en tipies van die Klopper-idiolek is die styl kripties en gedronge; maar onder die oppervlak van die verse skuil ’n ruie betekenislading. Klopper is een van min digters in Afrikaans wat ’n post- en transhumanistiese bewussyn in haar poësie ondersoek.
As voorbeeld; reeds in Nadoodse ondersoek verneem die leser:
Skedonk II
Hy is ’n diesel mechanic,
sy dogter ’n geroeste kar –
die agterplaas is swart gevlek
van haar onklaar enjin-hart se lek.
Sy word elke maand gebloei:
Ma pomp-pomp-hou-die-clutch
terwyl Pa koes vir die olie-spuit
uit sy skedonk se vuil onderbuik. (50)
II
“I doubt, therefore I think, therefore I am.” – René Descartes
Hierdie leser is ’n bedryfsingenieur van beroep en het onder meer twee digbundels uit die onlangse verlede vir Versindaba geresenseer: Silwerwit in die soontoe (2023) en Soekenjin (2023). Dit is hier ter sprake aangesien die Vierdie Industriële Rewolusie ’n belangrike ontwikkeling in bedryfsingenieurswese as studieveld is. Bundels soos hierdie bevat raakvlakke met die Vierde Industriële Rewolusie en betrek dit binne die Afrikaanse poëtiese diskoers. Die Vierde Industriële Rewolusie is ’n belangrike transformerende krag wat op dieselfde wyse as ander transformerende kragte soos byvoorbeeld die Antroposeen; post-kolonialisme; en gender-ekwiteit, die skilderdoek verskaf waarteen verskeie kunswerke vandag afspeel. Eersgenoemde bundel hierbo is geskryf met die hulp van ’n kletsbot, waar Van Heerden die posisie van ’n metadigter inneem, terwyl laasgenoemde op die internet uitspeel. Kuborg is ’n onafwendbare toevoeging tot hierdie resensie-oeuvre binne die huidige Zeitgeist omdat dit voorlopers is tot ’n ontluikende spesie in die poësie.
Die Vierde Industriële Rewolusie is ’n tegnologiese era wat gekenmerk word deur die samesmelting van die fisiese, digitale en biologiese wêrelde. Dit bou voort op vooruitgang van vorige rewolusies, soos stoomkrag, elektrisiteit en digitale tegnologie, maar gaan verder deur die integrasie van ontluikende tegnologieë soos kunsmatige intelligensie, robotika, kubernetika en biotegnologie. Hierdie innovasies vervaag die grense tussen mens en masjien en konseptualiseer uiteindelik wesens wat organiese en tegnologiese elemente kombineer. Kunsmatige intelligensie stel masjiene in staat om te leer, te redeneer en aan te pas – prosesse wat menslike denke naboots. Die “kuborg” simboliseer hierdie samesmelting van mens en tegnologie. Binne die letterkunde lei dit tot tematiek wat die identiteit en veranderende aard van die menslike kondisie ondersoek in ’n wêreld waar masjiene deel van ons wese word.
Die historikus en sosioloog, Yuval Noah Harari bied ‘n omvattende verkenning van die menslike geskiedenis in sy voorlaaste werk, Sapiens, deur die kognitiewe, landbou en industriële rewolusies te ondersoek en gevolgtrekkings te maak oor eksistensiële, tegnologiese en posthumanistiese temas. Harari stel vrae oor die betekenis van die menslike kondisie, die mens se identiteit, en die broosheid van die menslike bestaan teen die agtergrond van die ontploffing in tegnologiese vooruitgang.
Kuborg kan onder meer beskou word as ‘n poëtiese verkenning van Harari se idee dat die mensdom op die drempel van transhumanisme staan waar die grense tussen mens en masjien vervaag. Die gedigte speel af in ’n wêreld waar die mensdom nie meer suiwer biologies is nie, maar toenemend geïntegreer is met tegnologie.
III
In ’n blog op Versindaba takseer Joan Hambidge Bibi Slippers se Soekenjin as ’n metamodernistiese werk.
Sy beweer: “Boonop is hierdie bundel metamodernisties: verby die postmodernisme kondig dit ’n nuwe stylgreep aan. Hierom word die gedig ’n proses anders as ’n konvensioneel hermeties-geslote gedig.
Die beweging of reis tussen die modernisme en die postmodernisme, maak hierdie bundel boeiend.”
Dieselfde kan gesê word van Silwerwit in die soontoe en Kuborg. In ’n insiggewende artikel oor modernisme, postmodernisme en metamodernisme beweer Anne-Laure Le Cunff dat laasgnoemde drie denkrigtings onderskeidelik geassosieer word met die tegnologieë van die dag. Modernisme as denkrigting was in wese progressief en optimisties om die uitgediende kultuur van die verlede agter te laat en elke faset van die mens se bestaan te herevalueer. Ezra Pound se 1934-essays, ”Make it new!” dien as slagsin vir die modernistiese imperatief, en die radio staan as simbool van die modernistiese beskouing.
Na WO II het die postmodernisme ontstaan as ’n reaksie op die grand narratives van die modernisme, gekenmerk deur ’n houding van skeptisisme, ironie en morele relativering. Die ontnugtering van die postmodernisme het die idee van betroubare kennis verwerp. In die kunste is die onderskeid tussen hoë en lae kulturele produksie verwaarloos, en ironiese en selfs anargistiese kombinasies van elemente uit verskillende styltydperke, bewegings, genres, media en tegnieke – wat voorheen as onversoenbaar beskou is – was aan die orde van die dag. Postmodernisme word geassosieer met die simbool van die televisie, vergesel van die slagsin “nothing really matters!”
Uit die kollektiewe soeke na ’n meer gebalanseerde wêreldbeskouing wat die optimisme van die modernisme, en die pluralisme van die postmodernisme wou versoen, is die beskouing van die metamodernisme gebore. Volgens die kultuurteoretici, Timotheus Vermeulen and Robin van den Akker figureer metamodernisme as soort ingeligte naïwiteit, ’n pragmatiese idealisme. Fabio Vittorini beskou metamodernisme, in vergelyking met modernisme en postmodernisme, as “… a pendulum-like motion between the naive and/or fanatic idealism of the former and the skeptical and/or apathetic pragmatism of the latter.” Metamodernisme as kulturele filososfie het sy beslag gevind sedert die middel 2000’s en word geassosieer met die simbool van die internet en die slagsin, “maybe things are not this black-and-white – maybe there’s a middle ground?” In Kuborg word ’n voortdurende ossilasie tussen binêre kodepare, byvoorbeeld die simbiose: mens-masjien, brein-hart, struktuur-chaos, vorm-warboel, die bioniese teenoor die biologiese, of analoog versus digitaal, ingespan in die soeke na ’n middeweg.
Anne-Laure Le Cunff se artikel:
IV
Alhoewel Klopper gebruik maak van analoogmetafore soos kassetspelers, tikmasjiene, breimasjiene, morsekodes en platespelers, is die voorkoms van moderne tegnologiese metafore (byvoorbeeld uit die IT-wêreld) opvallend. In ’n berig op Netwerk24 (11 Julie 2024) blyk dit dat die digter Carl Mischke se bundel, Interne weerstand (1984), met verwysing na die verse wat oor elektriese ladings handel, as impetus gedien het in die skryf van Kuborg. Maar Klopper is nie die eerste digter wat oor kuborge skryf nie – Eveleen Castelyn se laaste bundel, Kubermens (1999) staan as voorganger. Klopper verwys ook na die invloed van The Cyborg Manifesto deur Donna Haraway (1985), waarin die kuborg optree as ’n simbool van die versmelting tussen mens en masjien, en die dekonstruksie van binêre grense soos natuur teenoor tegnologie.
Die belangrikste moderne baanbreker in hierdie verband is egter die Amerikaanse digter en pionier in netwerkletterkunde, Sasha Stiles, wat haar eie kletsbot geprogrammeer het om haar by te staan met die skryf van gedigte. Stiles ontgin KI-poëtika in hibriede kuns, wat ’n fusie vorm tussen elemente van antieke en kontemporêre poësie, algoritmes, vertaalkuns, kodering en digitale kuns. Sy tree op as ’n literêre mentor vir die robot, BINA48 en sy skep die literêre breinkodes vir die wêreld se mees gevorderde humanoïede robotte. Stiles se bundel KI-geïnspireerde poësie, Technelegy het in 2021 die lig gesien, ’n bundel wat gulhartig deur kritici ontvang is en deur die gesaghebbende toekomskundige, Martine Rothblatt beskryf is as ’n “transhuman manifesto with poetic soul – an instant techno-classic.”
Dit is die konseptuele metafoor van die kuborg wat die aandag opeis in Klopper se jongste bundel. ’n Kuborg ‒ ’n kubernetiese organisme ‒ is ’n wese met beide organiese en biomekatroniese liggaamsdele. ’n Kuborg beskik dus oor verbeterde vermoëns as gevolg van die integrasie van kunsmatige komponente of tegnologieë soos prosteses, kunsmatige organe, inplantings of draagbare tegnologieë. In hierdie gelaagde en uitdagende bundel tree die kuborg na vore as ’n hibried tussen mens en masjien en daag die kuborg – as infleksiepunt tussen tegnologie en die mens – die tradisionele idees oor identiteit, bestaan en selfuitdrukking uit. Wat beteken dit om mens te wees in ’n tegnologies versadigde wêreld? Kuborg ondersoek temas soos vervreemding, transformasie, en die spanning tussen die organiese en kunsmatige. Namate masjiene meer geïntegreerd raak in ons daaglikse lewe, vervaag die grens tussen mens en masjien, wat lei tot prosesse van dehumanisering.
Die metafoor van die kuborg daag voorts die beskouing ’n stabiele, verenigde self uit, en stel voor dat identiteit vloeibaar en veranderlik is en deur eksterne magte gevorm word. Deur mens en masjien te kombineer, ontwrig die kuborg tradisionele binêre opposisies soos man/vrou, mens/masjien, gestremd/normaal, mens/nie-mens, en biologies/sinteties.
Die dubbele aard van die kuborg word ook weerspieël in die ontwrigting van die bundel se vorm en inhoud. Klopper doen weg met ’n tradisionele rubrisering: In stede hiervan skep sy ’n inhoudsopgawe waarin die afdeling “Bionies” in jukstaposisie met “Biologies” lê. In die eerste deel, “Bionies” word menslike verhoudinge en herinneringe herskik en omgeskakel in meganiese en elektroniese terme (wat dui op prosesse van dehumanisering). In die tweede gedeelte, “Biologies”, word die moeisame herstel terúg na die menslike verwoord (wat verstaan kan word as prosesse van humanisering).
Die bundel verbeeld ook hoe tegnologie die taal getransformeer het. Net soos ’n kuborg dui op die versmelting van mens en masjien, meng die bundel tradisionele linguistiese stelwyses met digitale frases, kodetaal en slang uit die IT-wêreld. Die nie-lineêre aard van die bundel, soos genoem, begin dus met die onderbou van die bundel waarin die verse gerangskik is soortgelyk aan ’n binêre kodepaar (“Bionies” en “Biologies”), ’n begrip wat afkomstig is uit masjientaal. Hiermee bevestig Klopper dat digterlike taal, net soos die kuborgmetafoor, ’n ruimte van transformasie voorstel – vloeibaar, veranderend, en afhanklik van die tegnologieë wat die taal omring.
Kuborg word gekenmerk deur ’n sterk teoretiese en filosofiese onderbou. Deur die afbraak van die tradisionele grense tussen mens en masjien word ook die antroposentriese posisie van die mens uitgedaag binne die beskouing van ’n groeiende posthumanistiese bewussyn.
In Kuborg is daar ’n voortdurende bemoeienis met die boustene, morfologie en liggaamlikheid van elemente, hetsy chemies, meganies of elektronies. Die verse handel oor die sloping of afbraakprosesse van die (an)organiese, versus die hegting of bymekaarvoeg van gebreekte of disparate dele.
Tiperend van die digter se styl is die verse kripties, gedronge en metries, met ’n sterk intratekstuele spel binne bundelverband self. Laasgenoemde kriptiek roep ook elemente van masjien- en koderingstaal voor die oog. Die hiperrealistiese aard van die verse word afgewissel met die surreële, veral in die verse waarin die hallusinêre aard van dwelmdrome en ander nagmerrieagtige verskynsels verbeeld word.
Sentraal tot die eerste gedeelte, “Bionies” staan twee inleidende motto’s deur Alan Turing, die vader van teoretiese rekenaarwetenskap en kunsmatige intelligensie. Turing het bekendheid verwerf nadat hy tydens WO II die Duitsers se Enigma-kode gebreek het. In talle opsigte is die lees van Kuborg en die naspeur van digterlike leidrade vergelykbaar met die breek van dié kode, wat insgelyks voorgehou word as ’n digterlike raaisel wat die leser moet oplos.
“Spektograaf” (7) open as ars poëtikale besinning waarin die lees van klankfrekwensies, en die stemafdruk wat dit laat, vergelyk word met die maak van ’n outydse bandopname / die skryf van poësie: “Ek klink soos ’n tape recorder, / die opname sal stadig vorder.” Laasgenoemde opname word met ander woorde ’n vooruitskouing na van die verse wat volg. In “Spektrogram” (51) word die afloop van die bundel in retrospek beskou as argumente wat die spreker met haarself gevoer het en waarin die verse ontbloot word as die spektrografiese eksperiment van ’n ingenieur.
Die gedigte in Kuborg is uniek omdat elke gedig ook saam met sy keersy gelees kan word, soos dit in die inhoudsopgawe gerangskik is. In “Knip” (8) word die projeksie van ’n 3-D-nagmerrie aangebied as ’n hologram, terwyl die vers se “maat” in “Knoop” (50) ’n figuur voorstel wat aan ’n tou hang en waarvan die hangtou en brein versmelt in dié selfdood(poging). Soos met talle verse in die bundel is die trant een van ontgogeling.
Metafore uit die sakewêreld kom voor in verse wat boekhouding betrek, soos “Boekhou I” (18) en “Boekhou II” (40). Klopper verstaan die kuns om besonder dig te skryf, en skep met die minimum woorde ’n boeiende narratief oor die spreker se grootouers se geheime, asook hulle finansiële uitdagings.
“Droommasjien I” (9) maak gebruik van ’n analoogmetafoor, naamlik ’n skyfieprojektor; laasgenoemde dien op sy beurt as ekstrapolasie van Brion Gysin se eksperimentele droommasjien waarin die verbeelding geaktiveer word. “Droommasjien II” (49) lewer metatekstuele repliek wanneer ’n Venus-valstrik op nagmerrieagtige wyse die aangesprokene se droom beskryf as ’n ontbindingsproses.
Naas verse wat analoogmetaforiek betrek, kom ’n bemoeienis met inligtingstegnologie voor in onder meer “Bits & bytes I” (23) wanneer donker familiegeheime hul beslag vind in die vers. In “Bits & bytes II” (34 – 35) word ’n liefdesverhouding, eweneens ongelukkig, beskryf aan die hand van ’n binêre kodepaar, soos dit uitdrukking vind in masjientaal.
Morsekodes kom aan die bod in “SOS I” (10), ’n aangrypende vers oor ’n sterwende vader. “Plastiekma I” (13) en “Plastiekma II” (45) doen voorts berig oor die komplekse aard van familieverhoudinge. In die tweede vers word ’n verlies aan swangerskap (miskraam) op ’n omineuse wyse beskryf, die laaste strofe:
Van boeke uit jou tassie gegryp
klief rekmerke skeef op die plastiek.
My delikate omhulsel nou geskend,
boonop nie eens aan jou die lewe geskenk.
Klopper verstaan hoe om ’n gevoel van angs en onheil te skep, soos ook “Wiegiedood” (14) toon. In die vers se tersyde, “Wiggelkoord” (44) aktiveer die gooi van dolosse die koms van die koggelende narokkong-voël, wat ook Riël Franzsen se bundel, Narokkong, Opperman se gedig, “Koggelbos” en Sangiro se verhaal, “Koors” aktiveer.
Terwyl “Knoei I” die ouma se brei- en tikmasjien verdig tot een metafoor wat tot knoeiwerk lei, is dit “Knoei II” (46) wat op skrikwekkende wyse die voedoe-god, [oupa] Legba tot inkarnasie wek. Jonker se bekende “Lied van die lappop” dien as interteks.
Die rol van dwelms, oftewel die spel tussen die bewuste en onbewuste vind beslag in “Glashelder” (22) wanneer kokaïen besing word as vernietigende verslawing. Klopper dig voorts oor erotika, byvoorbeeld “Stogasties” (19) suggereer ’n orgasme, terwyl “Orgasmies” (39) hierdie erotika verbeeld as ’n proses van ontbinding. Die libidinale drif word nou ’n proses van kouevuur.
“Romantic comedy” (20) sorg vir knap en dubbelduidige woordspel as ’n liefdesverhouding by wyse van internet-slang beskryf word.
Romantic comedy
Ons laai die jongste verhouding-app:
Bluetooth-paring vir beter gemeenskap,
foonvibrasie-settings vir meer genot,
Siri die Shrink om twiste uit te sort,
’n virtuele bankier verdeel geld gelykop.
Die slogan waarborg ’n gelukkige resultaat,
die fine print maan: Jy vat ’n helse kans.
Ons breek op.
Ek sukkel om die app te verwyder.
Siri sê: Jammer, jy is damaged goods,
wel beskikbaar, maar slegs voetstoots. (20)
In bovermelde gedig se keersy, “Romantic tragedy” (38) word die vervlietendheid en irrelevansie van dit wat was, beskryf as die ontwikkeling van foto’s in ’n donkerkamer. ”Jou derde oog knip” relativeer die verganklike as iets enigs en selfs psigies.
Klopper is bewus dat sy as digter deel van ’n digterlike tradisie en kanon is, en in “Moederloos” (42) steun sy op Opperman se gedig, “Gereedskapsgesels lei tot omhels”. Die kwatryne, naamlik “Moer”, “Bout” en “Gereedskap” illustreer op meedoënlose wyse die spreker se destruktiewe en selfondermynende gedrag.
Die digter skryf ook ekfrastiese gedigte: “Wit gaas I” (26) en “Wit gaas II” (32) na aanleiding van Robert Mapplethorpe se gelyknamige kunsfoto, verse wat ontroer in die sensitiewe beelding van die broosheid van die menslike kondisie.
Wit gaas I
It was not the thought but the shape
of the thought that tormented him.
– Patti Smith
Verweef en verstrengel,
gespin, gepapie en gekokon
in een verwikkelde vorm:
’n gedagte of droom
van harde lywe met skerp buitelyne,
broos blomme, broser skrotums,
borste, boude en bekkens
verdwyn in die newels.
Twee figure in gaas omhels:
Verhulling of beangste vasklou
aan idees van orgideë in oksels
of juwele en swepe in private dele?
Gedigte is immers nie net
gedagtes in vorms gegiet. (26)
V
Soos in die geval van Nadoodse ondersoek lewer Klopper bewys van ’n bundel wat deurgekomponeer en gepoleer is tot in die fynste detail. Op die agterflap verneem die leser: “Kuborg bied ’n leesavontuur op meer as een vlak. Die gedigte is noukeurig gerangskik rondom ’n wentelpunt in die middel van die bundel en kan gelees word in die volgorde waarin die verse op mekaar volg. Die bundel is egter uniek omdat elke gedig ook saam met sy keersy gelees kan word, soos dit in die inhoudsopgawe gerangskik is. Boonop daag talle gedigte die leser uit om die masjienagtige in menslike terme te vertaal.”
As eenheidsbundel is hierdie ’n merkwaardige prestasie. Elke gedig is fyn afgerond; maar veral die gebruik van woordekonomie dwing bewondering af. Klopper is ’n konseptuele denker wat ’n toonaangewende stuk werk binne die Zeitgeist van 2024 lewer. Selfs wanneer sommige gedigte ’n metaalagtige klank en tekstuur het, resoneer dit met die tematiese register. Waar Slippers se Soekenjin – as “internet”-bundel – innoverend was, bring Klopper se Kuborg ’n belangrike vernuwing wat die skrikwekkende implikasies van die kuborg as mens-masjien-hibried uitlig. As digter van posthumanistiese poësie, skryf Klopper boonop ongetwyfeld in die voorste marges.
Dit was ’n voorreg om hierdie vernuwende stuk werk te kon resenseer.

‘n Deeglike resensie inderdaad. Ek is soos Johann de Lange bewus van die enorme verlies van ‘n belangrike kritikus en leser. Vanuit ‘n ander hoek, kon hy sake anders sien en lesers bewus maak van gebreke. Of winste.
Die debuut het wel, as ek reg onthou in die buiteland aandag getrek.
Metamodernisties en posthumanisties.
‘n Indringende inskatting van die triomfantelike tweede bundel van ‘n belangrike digter. Ek meen ons is met die dood van Mellet Moll ‘n belangrike poësieleser & kritikus kwyt.