I
Jonathan Culler (1944 – ) se studies bly insiggewend. Hy het studeer aan Harvard Universiteit.
Dosent aan Cornell, Oxford en fellow by Cambridge. Sy Structuralist Poetics (1975) en On Deconstruction (1982) bly bakens binne die literatuurkritiek.
Sy studie Barthes (onder redaksie van Frank Kermode) is ‘n klein studie vol belangrike insigte.
Culler het die vermoë om ingewikkelde konsepte en kwessies hélder te verwoord.
Waar daar betekenis is, moet daar ‘n sisteem wees.
“Only by showing fashion or literature to be a system, a mechanism that endlessly elaborates meaning, can Barthes maintain the priority of signifying over what is signified” (1983: 76).
Die sisteem wat weergegee word, beweer Culler, word ondermyn en leeg gemaak. Of die mag van die “insignificant that signify …”
II
Tekens as teikens. Ons dink hier byvoorbeeld aan die papierpoppe (toe ek ‘n kind was) en jy kon vir die poppie verskillende klere aantrek. ‘n Tabberd vir elke geleentheid.
Alles in een boek. Ek het indertyd ‘n hele genderkursus aangebied oor Ken en Barbie en die klere wat hulle dra. En soms, vir kognitiewe dissonansie, Barbie in Ken se klere laat staan. (En andersom).
Klere in die digkuns is tersaaklik. In die gedig “Droom” van Johann de Lange is die neef in ‘n kortbroek. Die spreker in die droom sien ‘n kind in grootmensklere. Die leser bekend met die digter se werk weet dit is die digter wat verlang na ‘n ongeskonde jeug; een sonder bekommernis of pyn. Daarom is die gesig serieus. Die neef dra ‘n poniestert; die dromer-spreker het kort hare.
Droom
Na ‘n dwaalreis meteens die bekende straat,
die oggendtuin met krismisrose, kappertjies en die geur
van vars-gesnyde gras, die onwerklike sonlig
(soos ‘n oordeel). En op die gras
twee jong kinders:
een in kortbroek en met ‘n poniestert
(my neef), maar dis die ander een
wat my aandag trek: ‘n klein grootmens
in grootmensklere (‘n donker pak),
kort hare glad teruggekam en die gesig
serieus. Hy kyk op en ek herken
myself. Ek wink hom nader, en hy kom,
skoorvoetend, skaam, en met oë
wat alreeds te veel verstaan.
Ek hurk voor hom en strek my arms uit,
vee my hand ligweg oor sy wang
asof ek hom die versekering kan gee
dat alles vorentoe gaaf gaan wees
en hy dalk nog ‘n kans sal kry
om weer ‘n kind vir my te wees.
Vleiswond (1993)
Hierdie gedig aktiveer veral hierdie een:
Pa I
En tog het ek hom lief: al was hy die dief
van my kinderjare, slapend onder die eklips
van pynpille. Aantreklik en werkloos
en ons soms sonder kos. Ek wonder hoekom
hy nie maar daai slag met ons
teen die berg afgery het
soos hy gedreig het nie; hy het my
in elk geval saamgevat.
Donker sy droewe oog en sy wanhoop
so volkome dat ek gevrees het
vir sy siel. Op ‘n kampbedjie
in sy broer se huis het hy homself
so ver weggevat dat ek hom
vir jare nie kon kry nie.
Nou begryp ek méér: hy was net ‘n seun,
en ek het nooit probeer vergewe
of verstaan: hóm wat deur
‘n dodelike liefde aangedryf
nagelaat het onder andere
‘n seun wat in pyn en herinneringe
soveel ouer is as hy.
(Vleiswond, 1993)
http://joanhambidge.blogspot.com/2013/03/studie-die-gesprek-met-die-vaders-die.html Besoek 18 November 2024
Die vader se klere word nie beskryf. Hy is waarskynlik nakend. Teenoor die donker klere (‘n pak) soos by ‘n begrafnis. Die kind word die vader in hierdie pakkende vers.
Met die sonlig as ‘n oordeel.
III
Die retoriese sisteem van modes, soos Barthes dit klinkend beskryf.
Fait l’élégance word in hierdie digkuns ‘n komplekse proses: die kortbroek teenoor die donker pak.
Joan Hambidge
18 November 2024
Bronne:
Barthes, Roland. 1967/ 1983. The Fashion System. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Matthew Ward and Richard Howard.
Culler, Jonathan. 1975. Structuralist Poetics: Structuralism, Linguistics, and the Study of Literature. Londen: Routledge and Kegan Paul. –
- On Deconstruction: Theory and Criticism after Structuralism. Ithaca: Cornell University Press.
– 1983. Roland Barthes. Londen: Fontana.
De Lange, Johann. 1983. Vleiswond. Kaapstad: Human & Rousseau.
Die twee aangrypende herinneringsverse van Johann de Lange tref diep.