I
The Grain of the Voice bevat onderhoude met Roland Barthes tussen 1962 – 1980.
Hierdie meester wat geglo het dat letterkunde die onuitspreekbare moet kan vertolk of weergee, is ‘n baie onderhoudende en intellektuele gespreksgenoot.
Le grain de la voix. In die veertigerjare het Barthes sanglesse geneem by Charles Panzera, wat hy ongelukkig moes staak weens sy tuberkulose wat toe teruggekeer het.
Hier vind ons 39 onderhoude deur die eenmalige Roland Barthes.

II
In hierdie versameling is daar bydraes oor musiek, opera, seksualiteit, liggaamlikheid, ensomeer.
In 1963 praat hy oor die rol van films in sy lewe en dat hy verkies om films alleen te bekyk. Films as ‘n sosiale aktiwiteit en die pretensie róndom films wat as belangrik geag word, stel hy aan die kaak.
“The best films (to me) are those which best withold meaning” en hy verwys dan na Luis Buňuel se The Exterminating Angel. (1984: 21).

El ángel exterminador
- ‘n Spaanse film.
Edmundo en Lucía Nóbile met agtien gaste. Ná ‘n aand by die opera, is al die ryk besoekers saam en vasgekeer in die huis.
Daar is ‘n moord en ‘n lyk wat in ‘n kas weggesteek word. Niks maak sin nie, soos mense wat by die trappe op en af stap. Urinering in ‘n kas. Die gaste word boonop siek. Daar is ‘n watertekort en buite die rykmanshuis is daar polisie en soldate.
Siekte en nie genoeg medikasie nie. Is die siekte veroorsaak deur die water uit pype gedrink?
Daar word ook ‘n skaap in die sitkamer gebraai.
Opera en musiek in die huis. Twee gaste wat hulself doodmaak.
Die volgende oggend vertrek almal na die katedraal. Die film eindig met skape wat inbeweeg …
Satiries, allegories? Sosiale kommentaar?
Kritiek op mense wat die kerk as finale woord aanvaar? En ontvlug deur partytjies te hou en die opera te besoek?
Die gereg, die kerk, die kunste …
Met elke herbesoek en weerkyk kom nuwe betekenisse na vore.
Barthes verwys ook na Alain Robbe-Grillet en Michelangelo Antonioni se films. Betekenis wat gevarieerd en kompleks is.
III
Ondertussen kyk die uwe na Hitchcock wat met elke film jou vooropgestelde idees van slotte fnuik. Alfred Hitchcock Presents is gewoon briljant in hoe hy die kyker op sleeptou neem. Hierdie groot filmmaker het die donker psige telkemale ontbloot. ‘n Mens dink hier aan Marnie (1964) onder andere. Met wie identifiseer jy? Die meester van afwagting en spanning (suspense).
Of Psycho (1960).

Uiteraard is Barthes bekoor deur films wat betekenis uitstel of problematiseer. Ons het reeds gesien hoe hy Balzac in verskillende kodes oopmaak.
Die belangrikste aspek van sy onderhoud met Cahiers de Cinema (Michel Delahaye en Jacques Rivette) in September 1963 is dat hierdie leser beïnvloed is deur sy linguistiese lesing van films: om te beweeg van denotasie na konnotasie. Alle films, dus montage, is hierom metonimies.
Elke katalise, argumenteer hy verder, speel ‘n rol in die vertolking van ‘n film.
Hy verwys ook na die invloed van Brecht op sy denke, en Brecht se fassinasie met Oosterse teater: “in which signification is very codified – it would be better to say: coded – and consequently not very analogical …” (1984: 19).
Hierom bewonder hy Buňuel, want hy varieer betekenis; hy hef dit nie op nie.
IV
In 1966 verskyn ‘n boek van Francois Truffaut oor Hitch en ‘n dokumentêr gemaak deur Kent Jones in 2015 Hitchcock/Truffaut.
Truffaut maak dit onder andere duidelik dat Rear Window (1954) nie oor Greenwich Village handel nie, maar dat dit ‘n film is wat kommentaar lewer op filmkuns met James Stewart (wat soos die kyker) kyk na wat gebeur.

Dieselde geld letterkundige tekste wat ‘n sisteem van kodes opeis.
‘n Mens sou o.a. Opperman via Hitchcock kon lees:
http://joanhambidge.blogspot.com/2013/07/blom-van-die-baaierd-opperman-en.html
Besoek 27 November 2024
Maar boos bly boos in Brakfontein of Neo-Baäl,
en goed is goed by Golgota of Brussel;
en deur die eeue is dit reeds bepaal:
die plek en spelers sal voortdurend wissel
maar die spel word telkens in die tyd herhaal.
D.J. Opperman
Joan Hambidge
27 November 2024
Kaapstad
Bronne:
Barthes, Roland. 1970/1974. S/Z: An Essay. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Richard Miller.
– 1984. The Grain of the Voice. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Linda Coverdale.
