buitewyke
net voor jy die dorp inry
kan jy afdraai op ’n stofpad
na waar die huise valer
en die kinders gelukkiger lyk,
malvas en seringbome
deur ou buitebande beur
en honde met geswelde tepels
skugter snuffel vir iets te aas
in dik lug vol rook en musiek
wat agter skerms uitborrel
vir daaglikse brood en hitte
en bietjie vrolikheid
en teen Joshua’s carwash se muur
tussen Sugar King se advertensie
en ’n politieke slagspreuk
lees ek weer die boodskap
geskryf in vet swart letters
wat groot begin en dan
al kleiner raak:
God is liefde
© Hester Steenkamp, 2024