Soos ’n slaaf
Toe kom die verpersoonliking van God self,
die Koning van die hemel en die aarde,
en Hy vat ’n skottel water en ’n handdoek
en Hy kniel voor hulle,
kniel voor elkeen van hulle, een vir een,
kniel soos ’n slaaf
en Hy was hulle voete.
Hy was die voete van Levi by wie hulle so lekker geëet het,
en die voete van Simon met die dolk in sy bladsak,
die ander Simon s’n, die een wat altyd so vol bravade is,
en die vuil voete van sy broer Andreas.
Knielend was hy die stof en die sweet van Filippus se voete af
en van die voete van altwee Jakobusse.
Hy was die jonge Johannes se voete,
die een vir wie hy so ’n sagte plek het.
Hy was Bartholomeus se bruin voete en Lebbeus s’n,
dié van Thomas wat nie sommer net glo nie.
En wetend wat wag, kniel Hy soos ’n slaaf
en was Hy die voete waarmee Judas sou stap
om Hom te verraai.
Toe Hy klaar is
gooi Hy die vuil water uit,
sit die handdoek en skottel weg,
kyk hulle in die oë
en sê:
Dís wat julle moet doen.
© Neels Jackson, 2024