Die woedende Jesus
hier leer ons die kwaai Jesus ken
die woedende Jesus
Jesus wat ’n sweep vleg
Jesus wat tafels omgooi
Jesus wat mens en dier met geweld verjaag
hier waar die bidplek ’n rowersnes geword het
waar die sukkelendes vroom uitgebuit word
dié oor wie sy maag telkens op ’n knop getrek het
omdat Hy hulle innig jammer gekry het
hier leer ons die woedende kant ken
van die Een wat omgegee het
vir wie niemand anders het nie
soos niemand anders het nie
© Neels Jackson, 2024