Oor die hoë getal 100
Onverpoos word daar gegrawe,
met beitel, trekker en nou sagteware
na ‘n Rosettasteen om aan vas te hou,
sodat ons daarop voort kan bou.
’n Soektog na die misverstande van matrose;
die mymeringe van die heimatlose;
na gebede wat bo die rookwolk klim;
en name wat op hoekstene glim.
Maar dié ontdekking
het nog ‘n innerlike strekking:
Wat ons wil weet is – wie het jou, taal, gebaar?
Voor- of agtertrekkers;
rebelle of skoenlekkers;
die raadsitter of die uitsitter;
dienspligtige of revolusionêr;
afvalliges of predikante;
taal- of letterkundiges – of dalk die musikante?
Trajekte, dialekte, sekte – niks word ontsien
vir argivering, feesviering en die optelmasjien;
maar haar verhewenheid bly steeds ’n fabel:
verdigsels oor ons brokstukkie van Babel
© Hercules Boshoff, 2025