Gedagtegang
Grotkelders, klipskerwe, skedelstuk
word in projeksies, bespiegelings omskep
van edel barbare, ‘n selfish-gene, homo so-en-so;
of meer formeel: mevrou Ples.
Bewegend-projekterend was jy:
spiesgooier, boogskutter, beeldmaker;
na oorsprong en kern bly ons op soek
by jou wat buite ruimte en tyd,
in plante, diere en die sterreruim
gekyk en fyn geluister het.
Louter mite sê ons, Verligtes–
beligtes: dansend by ons algo-ritme vure,
so slim het ons geword
dat ons nie self meer hoef te dink nie.
Mens, wie is jy? Klink die vraag op.
Kaal uit die paradys geskop
maak ons huis in die hier en nou,
met mikroskyfies en makro winkels
word ons sigbaar in woord én daad, dog
verskans deur klerasie en muur
(of ‘mode’ en ‘argitektuur’),
en laat gode kaal
in mensevorm voor ons staan.
Fanaties moet ons eers bevestig
wat vals, of – erger – ou nuus is.
Bewegend, maar sonder skuiling,
weer kaal, maar sonder paradys; barbaarse edeles
wat strewe na ewige lewe;
geketting aan rotse van bevrediging soos
inligting-arende aan ons lewer aas.
Ons bly op soek na onsself in jou –
wat lê hier voor ons, stil, maar bly ontwyk –
vanuit ons eie plek soek ons;
plek wat tuis is, maar geen vaste woning.
© Hercules Boshoff, 2024