Mina
Wat is so danig verkeerd daarmee
om ‘n muntstuk te begrawe?
Ek het die vaalgevatte Krugerpond
in ‘n ou gymhanddoekie toegedraai
en in die hoek van my posseëlagtertuin
waar die grond sag is, sodat ek nie te hard
hoef te grawe sonder die hulp van ‘n graaf nie,
tussen boomwortels en houtluise versteek.
Sodoende kon die immer bedelende tieners
in my huis die stukkie rykdom nie bykom nie.
Die risiko nul, want die twee
kom nooit verder as die kombuis nie,
wat nog te sê die buitekant.
“Jy moes ‘n besigheid daarmee begin het,”
betig die terugkerende vader van my kinders
my. “Met die wins kon jy al twee
muntstukke gehad het!”
“Wie is jy om vir my te sê wat om te doen?
En as ek dit verloor het? Jy sou my daarvoor
gestraf het, vir my en my kinders,
kleinkinders en agterkleinkinders!
“Jy is soos ‘n sterk wind wat by die bek
van my grot verbywaai, ek sien liefs net
jou agterkant, jou gesig gloei te groots
en te streng, jou teenwoordigheid
is ‘n swaar wolk wat op ons neerdaal.
“Ek was bang en het weggekruip
in die tuin, ek en die muntstuk,”
verdedig ek myself.
Ek is moeg vir vrees.
Die vader lyk bedroef.
“Ek is vol barmhartigheid en genade,
vol lankmoedigheid. Getrou het ek met jou,
ek vloei oor van liefde vir jou
en jou kinders, jou kleinkinders en agterkleinkinders!
Ek is wie ek sê ek is!”
“Dis te veel abstrakte selfstandige naamwoorde,” sê ek.
© Marieta McGrath, 2025