Labirint
As ek droom, droom ek oor kerknaweke.
Droom ek van gedeelde slaapkwartiere
en gesiglose mense wat om lang tafels saameet.
Maar hierdie keer is ‘n doolhof opgerig,
en binne uitgevoer in swart, met stasies –
‘n reis deur jou eie geloof.
Ek is by die laaste stasie. In ‘n geskenkwinkel.
Op soek na gom. Daar is mense by tafels vol stafies daarvan,
maar nie genoeg vir my nie.
Uiteindelik ‘n vrou wat het; sy smeer my neusbrug
en ooglede, plak dan swaar, ronde blinkers op
laasgenoemde, om my mooi te maak:
vir die man in die nou deur wat instaan vir Jesus.
Voor hom sal ek kniel soos ‘n fetus,
van sy heilige stilte sal ek drink. Soos voorgeskryf.
Ek staan in ‘n lang tou verby rakke
vol kitsch engele. KFM blêr.
Ek toets of my swaar ooglede kan knip.
My beurt. Die man in die deur se kyk
is dié van ‘n dokter na sy hoeveelste pasiënt.
Hy strooi blinkers tussen my oë. Dis al.
Buite blameer ek myself dat ek ver van God is.
Dan sien ek die begin- en eindpunt
van die doolhof met bordkryt op die grond gemerk,
skaars 10 cm uitmekaar.
Die reis is klein
en nooit ver van die middelpunt nie.
© Marieta McGrath, 2024