Besoek aan Choeung Ek
Killing fields van Kambodja (1975 – 1979)
“What came up mostly to the newsmen was the speechlessness of this vast caravan of misery and the persistent sound, like rain, of children crying.” ― Christopher Hudson, The Killing Fields
Ons stap in die voetspore
van die vermoordes
die Khmer Rouge se trofees:
opgestapelde skedels en
gefragmenteerde bene
in ’n memorial stupa.
Waar eens boorde was,
roep 5000 van die meer as 1.7 miljoen
slagoffers om geregtigheid
van agter ’n glaspaneel uit.
Selfs deur die skuifvensters kan
hulle gru-verhale nie ontsnap nie.
By die Chankiri Tree waar
kinderskedels versplinter is
om jare later se weerwraak te verhoed,
stol stilhuil soos ’n gloeiende weerligstraal
in die vertakte boom van my are.
Ons versteen by die massagrafte
vol ongeleefde lewens,
kort geknip soos kokonne
weens die tonnelvisie
van die kulturele rewolusie.
Ek koop ’n boek
Children of Cambodia’s Killing Fields:
Memoirs of Survivors
Ek was elf jaar oud toe dit gebeur het.
In ’n parallele wêreld het ons
ongestoord voortgegaan
vêr weg van die weerloosheid
waar ek nou staan.
(Verwysing na TT Cloete se gedig “Stilhuil”)
© Marthé McLoud, 2025