Rwanda volksmoord (1994)
(By the end of the 100-day killing spree, around 800,000 Tutsis and moderate Hutus had been killed – BBC News)
Hy maak my oond reg
en toe hy klaar is, vra ek hom
van watter Afrika-land hy kom.
Sy gesig raak ’n stralekrans
en sy tande glinster soos wit porselein.
“You can see I am from another country?”
Hy vertel van die Hutu en sy herkoms
as Tutsi in Burundi. Ses jaar
oud. Sy ma druk hom onder die tafel.
Van agter die tafeldoek hoor hy
die kapmesse, die afmaaiing van
sy ouers en bababoetie soos kakkerlakke.
Dan die beweginglose stilte
in die ondraaglike hitte.
Hy sluip treetjie-vir-treetjie muisstil uit
die huis uit. Spoed na die priester. Net betyds
om saam na Suid-Afrika te vlug.
In Nyanga maak twee nonne hom groot.
Baie jare later sit hy bewoë voor sy laptop.
Op facebook kyk sy twee ouer susters
op hulle profielfoto’s hom stip in die oë.
© Marthé McLoud, 2024