delta
ek weet nie waar om te begin nie
maar eers dit: ek weet nie in watter taal
om te begin nie en of taal ooit die
geskikte draer van hierdie rietmandjie kan wees nie
ek is onseker oor die plek en tuig waarin ek my bevind
my hier en nou ‘n vloeibare refleksie
byna ‘n spieël van plekke waar ek reeds was
of so wil die wind my laat dink
dis asof tyd by my verby vloei
soos die waters van die okavango
my meesleur van kindweeshooglande
net om in grootmensdeltas uitgespoeg te word
en dit met die ontstellende gedagte dat ek
nooit eendag in die grootsee gaan uitmond nie
maar soms werk die hellings en die wind
die spoed van die vloed en die waters wat reeds
versadig in die skynparadys opgedam is in my guns
dan gun dit my ‘n oomblik om terwyl ek
stroomop beur my kop te lig
die refleksies in die water waar te neem
‘n kans om die momente sluk vir sluk in te drink
my ore te spits vir die geritsel in die riete
en my reis tot hier nou skemerrooi gebrand
diep in my bors te druk
ek en die water elk op eie pas die spoelsand in syfer
© johan swanepoel 2025