straatkind
vandat ek my uit haar
taai vel los geskeur het
het ek geweet sy’t nie meer lus nie
het ek geweet sy voel ongenooid
dis asof sy haarself
van haarself en van my
wil verskoon
haar baklei het in die fyn
plooitjies om haar oë en in die hard
van haar hande verdwyn
eenvoudig te moeg om met haarself
teë te praat om nie eers te praat
van worstel met ‘n anneman se god
wat haar nooit kon verduidelik hoekom
haar huis gebreek was of hoekom
sy gebreek was en hoekom
die stukkend nou soos flenters
in ‘n skoppie ook in my maag kom lê het nie
ek weet ook dat die straatlampe
tevergeefs hul goud oor my sal giet
en dat haar laaste teue en trane soos ‘n string
afrikakrale ewig om my nek sal sit
© johan swanepoel 2025
https://www.widewalls.ch/artists/willie-bester