Abrahams te stadig
Beeld, iewers in 2017
Interessant dat my naam ook Sara is.
Maar ek dwaal af. Dáái aand toe gee die Here
vir my ‘n vers. Genesis 12:1. “Gaan weg uit jou land …”
Die volgende dag toe begin ons inpak. In geloof.
Heel eerste my oumagrootjie se teestel,
deursigtig so fyn is die porselein, versigtig
toegedraai in Bybeldun sneespapier.
En nou leef ons al vyf jaar in Nieu-Seeland.
Dis Kanaän hier. En ek glo regtig die Here
het vir ons dié land gegee. Hy seën
ons. Hier sal ons ‘n nageslag van hoë bome hê.
Ek sê vir almal in Suid-Afrika:
Pak jou skeepsvraghouer. In geloof.
My suster … hulle wil nie uit SA trek nie.
Ek verstaan dit nie. Sy glo die land
kan sy krake weer opvul.
Maar ek glo nie.
© Marieta McGrath, 2025