“The history painter shows the species in general; while the portrait painter represents only the specific individual—a model often ordinary and full of shortcomings.”
Johan van Wyk en Ingres: Die gedig as portret
I
MONSIEUR BERTIN
Na ‘n skildery van Ingres
Monsieur Bertin sien rooi.
Sy kop is vol stormjaer
gedagtes, sy vingers ongeduldig
op die plooie van sy bobeenbroek.
Die wit kraag om sy keel
herinner aan eet. Geduld
met die gepeupel, opgewonde
buite die arena, of hulle maak van jou
‘n Marat, ‘n dromer in ‘n bloedbad
brom sy mondhoeke. Sy vet hande
wag om ‘n uitdager te smoor
in die stof. Monsieur Bertin duld nie,
droom nie. Hy koop kontant.
Hierdie aangrypende skildery hang in die Louvre-museum. Dit is in 1832 geskilder deur Jean-Auguste-Dominique Ingres. Vir my lyk die skildery bykans asof die akteur Gérard Depardieu dalk die model kon wees. In sy vertolking van Maigret (Patrice Leconte: 2022) sien ons hoe absoluut tevrede hy in sy vel is.
Picasso se skildery van Gertrude Stein (1906) is kennelik hierdeur geïnspireer wat te beskoue is in die Metropolitan Museum of Art in New York. Die skildery is op die omslag van een van Stein se boeke.
Picasso en Stein was vriende en dit blyk uit die wyse waarop hy haar voorstel. Korpulent met brose hande. Sy was ‘n beskermvrou vir vele kunstenaars en skrywers in die Rue de Fleurus nommer 27. Hier het sy gebly vanaf 1903 – 1938. O.a. besoekers soos Hemingway, Braque, F. Scott Fitzgerald, Sinclair Lewis, James Joyce, Ezra Pound, Matisse, Henri Rousseau …
Op Saterdagaande is daar gemakietie.
Hoe vriende mekaar bekyk, is altyd tersaaklik. Liefdevol, maar ook eerlik.
Bertin en Ingres was vriende. Ons verneem hy was politiek-bewuste figuur wat behoort het aan die ryk gemeenskap tydens die bewind van Lodewyk Filippus I.
‘n Warm persoonlikheid met skerp vingers.
In Ann Fiery se Palmistry word hierdie hand as idealisties beskryf. Hulle is intuitief, maar ook kwesbaar en uiters onprakties (1998: 10). Hulle is ook aangetrokke tot die poëtiese, transendente en spirituele domein.
Nou weer die gedig:
MONSIEUR BERTIN
Na ‘n skildery van Ingres
Monsieur Bertin sien rooi.
Sy kop is vol stormjaer
gedagtes, sy vingers ongeduldig
op die plooie van sy bobeenbroek.
Die wit kraag om sy keel
herinner aan eet. Geduld
met die gepeupel, opgewonde
buite die arena, of hulle maak van jou
‘n Marat, ‘n dromer in ‘n bloedbad
brom sy mondhoeke. Sy vet hande
wag om ‘n uitdager te smoor
in die stof. Monsieur Bertin duld nie,
droom nie. Hy koop kontant.
Vir Johan van Wyk is die hande vet. Dus volgens Fiery ‘n “elementary hand” (1998:7).
Hy is prakties en beslis nie idealisties nie. Hy koop kontant.
Van Wyk laai dus die skildery met sy eie interpretasie wat verskil van my lesing.
Waarskynlik sy eie politieke onrus en opstand teen gesagsfigure? Teenoor my lesing wat ingegee is deur die boek aangekoop op Harvard Square tydens ‘n studiereis in die VSA, einde 1999.
Net nogmaals ‘n bewys dat ons elkeen lees vanuit ‘n bepaalde, subjektiewe perspektief.
Ingres, study of Bertin’s right hand. Graphite on tracing paper. Fogg Museum, Harvard.
Ingres was ‘n stadige werker en skynbaar het hy hierdie portret binne een maand voltooi.
Hy was ook dikwels vol twyfel oor sy talent en nie geneë om portretstudies te doen en eerder te fokus op geskiedkundige tonele.
Oor Ingres:
https://www.youtube.com/watch?v=YelEXlSpluM Besoek 2 Maart 2025
Kennelik wou hy nie vasgeklem word in een tradisie nie. Dikwels, aldus hierdie kritikus, twee uiteenlopende skilderye langs mekaar geplaas om sy kritici te ontspoor. Hy het in woede gewerk teen sy kritici. Die invloed van Rafael veral is opvallend.
Romantiek versus Neo-Klassisme.
Hy breek reëls. Dieselfde geld Johan van Wyk.
T.T. Cloete wys op die “aggressiewe erns” in die debuut met die oog as die betroubaarste en aktiefste sintuig in die literatuur, via Vestdijk. Ontbloting versus onsigbaarhede in Die Afrikaanse literatuur sedert sestig (1980: 268 – 270).
Beide kunstenaars het die tyd (misverstande en teenstande) oorleef.
II
En danksy Johann Lodewyk Marais se boek oor Koning Shaka lees ek weer Opperman se gedig oor hom opgeneem in Heilige beeste (1945).
In Marais se eie woorde in ‘n onderhoud met Martjie Bosman:
JLM: Opperman se “Shaka” is naas die epos Joernaal van Jorik (1949) sy langste gedig. In die gedig kry die leser as ’t ware in die vyf dele chronologies ’n oorsig oor Shaka se traumatiese jeugjare, sy opgang as krygsman en leier van ’n nuwe groep mense (die Zulu’s), oorwinnings wat hy oor teenstanders behaal het, ekstreme wreedhede en uiteindelik sy dood aan die hand van twee halfbroers en sy lyfwag. Opperman se bronne vir die historiese gegewens in die gedig was onder andere drie isiZulusprekers, A.T. Bryant se Olden times in Zululand and Natal (1929) en Nathaniel Isaacs se Travels and adventures in Eastern Africa (1836). Opvallend in die gedig is sy vertroudheid met die Natalse ruimte en samelewing tesame met sy buitengewone metaforiese vermoëns. Hy maak egter van vrye rymlose verse gebruik en nie die klinkende rymvorme waarvoor hy in die meeste van sy langer gedigte bekend is nie. Nadat ek ’n referaat gelewer en ’n artikel oor die gedig gepubliseer het, het J.C. Kannemeyer teenoor my opgemerk dat die afwesigheid van “stutte” of bindmiddels (soos rym) die gedig vir hom minder geslaagd gemaak het. In die lig van die mindere of geen rol wat rym in die inheemse tale speel, dit wil sê die hantering van ’n ander soort versvorm geïnspireer deur die mondelinge tradisie, het Opperman myns insiens wel ’n outentieke versvorm geskep om oor Shaka te skryf. Hierdie gedig is een van die mees geslaagde tekste oor die koning.
Besoek 1 Maart 2025
Verskillende portrette of invalshoeke is dus moontlik.
Wat ‘n verstommende epiese vers is dit nie, geskryf deur ‘n jong Opperman.
… : die lyk het deur die nag
nog so bly lê en is die oggend in
‘n korringgat met klippe toegegooi.
‘n Versoening van die orale en geskrewe tradisie.
Joan Hambidge
1 Maart 2025
Bronne:
Cloete, T.T. (red.). 1980. Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Kaapstad: Nasou.
Fiery, Ann. 1998. Palmistry. Vancouver: Raincoast Books.
Opperman, D.J. 1945. Heilige beeste. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk.
Marais, Johann Lodewyk. 2024. King Shaka (CA.1781-1828): From Shades of Grey to Fascination. Pretoria: Imprimatvr.