Stranger in her home
Yahoo News, 5 Junie 2022
Die eens netjiese tuin lyk
soos die pes wat op die middag
verwoes. Dood se spore sit op die dak
en teen die afgedopte geute.
Binne staan hy ewe soos ’n gentleman
opsy dat ons die kombuis
– die hartklop van haar huis –
kan betree.
Dit is doodstil daar asof al haar
gewerskaf in die wasbak se afvoerpyp
weggespoel het. Selfs die leë
skottelgoedmasjien staan oopmond verbaas.
In die slaapkamer vind ons hom
met sy swart manel aan by haar bed
waar sy soos ’n verkrummelde herfsblaar lê.
Sy kop is kamtig eerbiedig gebuig,
maar sy oë kyk stip na vandag se datum
op die digitale wekker langs haar bed.
© Marthé McLoud, 2025
