Karel Prinsloo, Dalk vandag (Pretoria: Groep 7 Drukkers, 2025)
Sewe jaar gelede, in 2018, was dit my beskore om deel van die span te wees wat in die Atterbury-teater Karel Prinsloo se tweede bundel, Slimfoonflitse (2018), met groot sukses bekend te stel.
Tussen 2018 en 2023 het die wêreld veral as gevolg van Covid-19 deur uitdagende tye gegaan waaroor Prinsloo in sy derde bundel, In pas (2023), skryf en wat ons by die Blue Crane Restaurant saam met sy 80ste verjaarsdag op 2 Februarie gesellig kon vier.
Vir sy vierde bundel, twee jaar later, het hy as ’t ware die pas versnel en verrassend gou nóg ’n bundel gepubliseer – boonop ’n intellektueel stimulerende versameling, wat ek kortliks gaan poog om in konteks te plaas.
Hierdie keer verskyn die bundel in ’n era van oorloë en gerugte van oorloë, sosiopolitieke omwentelinge, verwikkelinge in die media- en inligtingswêreld, en konflik wat ons nie voorsien het nie, maar ook, as ’n mens goed daaroor nadink, onafwendbaar is al word ons nou van dag tot dag verras, geskok en verstom.
Natuurlik was die wêreld nog altyd in een of ander vorm van onstabiliteit vasgevang. Vir die denkende mens – “Alleen die baie-fyn dink is helder:/ so fyn dat byna niemand dit wil vat nie” in N.P. van Wyk Louw se woorde – is daar onafwendbaar uitdagings.
In Prinsloo se eerste bundel, Tussen grensligte van 1990, het hy die wêreld op verskillende maniere en in veranderende tydsverbande belig. In die tweede bundel, Slimfoonflitse, was daar weerklanke van sy ervarings en bestekopname as navorser, bestuurder, kundige op verskeie terreine en gewone mens. In In pas, sy derde digbundel, skryf hy oor sowel die globale as die plaaslike wêreld wat toenemend byna onpeilbaar geword het.
Prinsloo se nuwe en vierde bundel, Dalk vandag, volg kort op die hakke van sy vorige bundel. Hiérdeur bevestig hy die waarde wat hy heg aan gedigskryf as besinning oor kwessies van wesentlike betekenis vir hom, die ruimte waarin hy hom bevind en die wêreld daar buite.
Die bundel bestaan uit 68 gedigte wat in ses afdelings aangebied word en getuig van toewyding aan die poësie as toereikende genre om jouself in uit te druk. Die leser is gevolglik nuuskierig om te sien wat die bundel regtig – ook tussen die reëls – bied. Reeds die voorblad met die ikonies aangebode titel, Dalk vandag, in die vorm van ’n kruis, wat terloops ook as “Vandag dalk” gelees kan word, nooi die leser om te dink, na te dink en verder te interpreteer.
Net soos in die vorige bundels maak Prinsloo meestal van die vrye vers met hoofletters, kleinletters en normale punktuasie gebruik. Dit dra by tot die leesbaarheid en afronding van die gedigte, wat nieteenstaande hierdie enigsins “tradisionele” aanbieding tydgenootlik is. Sommige gedigte sou ’n mens, sonder om iets negatiefs te impliseer, ook as “gedagtes” of “kantaantekeninge” kon beskou.
Wat bydra tot die gehalte en die karakter van sy gedigte is die sensitiewe, keurige en meestal raak woordkeuses. Die gedigte benut ’n geskakeerde woordeskat en taalregister uit die spreektaal en sfere van die hedendaagse samelewing.
Die digter, wat in 1966 ’n M.A.-graad oor “Die beelde in Totius se psalmberyming” aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, is bewus van vormgewing en beeldgevoelig.
Anders as in die vorige drie bundels word hierdie ideolek as ’t ware as vanselfsprekend ervaar en is dit nie op sigself die fokus nie. Hierdie “verskuiwing” bevestig dat die gedigte nou oor dalk iets meer wesentlik handel, naamlik ’n bundel as “laatwerk” en bestekopname van die dinge wat vir die spreker ten diepste betekenisvol en deel van ’n oorwoë, besinnende ingesteldheid is. Hoe ook al, die inhoud is iets wat ons almal raak.
Die nougesetheid van die gedigte word versterk deur hul visuele aanbieding met behulp van suksesvolle enjambering – dit wil sê die slim manier waarop ’n versreël afgebreek word en na ’n volgende reël oorloop. Dit behels kort versreëls, wat aandag fokus op enkele woorde, frases en die dramatiese progressie van gedigte.
Die gedigte is tematies sinvol afgebaken soos uit die ses afdelings blyk. Die indruk is egter nie dat die gedigte chronologies op mekaar volg en/of gerangskik is nie, al eindig die bundel in ’n mens se sterflikheid en sy/ons eindtye.
As redakteur van die bundel was dit my opdrag – en is ek gevra – om voorstelle ter verbetering van die teks te maak. Ek het op die manuskrip van Dalk vandag aanbevelings gemaak vir oorweging deur die digter deur onder meer aan te toon watter van die gedigte na my mening uitstaan en watter liewer moet oorstaan. In ’n aantal gevalle het ek ’n alternatiewe woord of woordkeuse/frase/woordstring aangedui. Dit was die digter se prerogatief om te besluit watter van die voorstelle hy sou aanvaar of nie aanvaar nie.
Nie net het Prinsloo heelwat van my aanbevelings aanvaar nie, maar met erns deur die manuskrip gewerk en geskaaf. Die eindproduk het kort voor lank bevredigend daar uitgesien, maar veral ook verras en beïndruk.
Die bundel is ’n bestekopname van ’n geleefde lewe en, in die konteks van sy drie ander bundels gesien, ’n digter wat veranderings om hom en in sy eie lewe nougeset registreer en respekteer – ook die geteisterde, gekwelde en bedreigde lewe en “die land wat brand” – in sy verskeidenheid van vorme, menslik en niemenslik.
(Geleentheidsrede by die bekendstelling van Karel Prinsloo se digbundel, Dalk vandag [2025], in die kerksaal van die N.G. Kerk Lynnwood op 8 Maart 2025.)
© Johann Lodewyk Marais, 2025