Karel Prinsloo, Dalk vandag (Pretoria: Groep 7 Drukkers, 2025)
Johann Lodewyk Marais (JLM) het op 8 Maart 2025 ’n gesprek met Karel Prinsloo (KP) gevoer tydens die bekendstelling van sy vierde digbundel, Dalk vandag, in die kerksaal van die N.G. Kerk Lynnwood in Pretoria.
JLM: Die bundel het ’n treffende voorblad. Die ikonies aangebode titel, Dalk vandag, in die vorm van ’n kruis, wat terloops ook as “Vandag dalk” gelees kan word, nooi die leser om te dink, na te dink en verder te interpreteer. Maar daar is ook lig en donker op die voorblad en ’n figuur wat na of van die son loop. Wil u dalk vir ons meer oor die voorblad vertel?
KP: Die titel kan op verskillende maniere geïnterpreteer word/verskillende betekenisse hê:
- Dalk handel dit oor vandag se tyd. Dalk lewer dit ’n blik op ons omgewing en die wêreld waarin ons leef: ’n sekere era.
- Dalk wil dit dui op die belang van vandag, hierdie dag: dat dit dalk vir jou ’n geleentheid inhou om aan te gryp: Carpe diem.
- Dalk is vandag: die laaste dag van jou lewe, selfs van die wêreld se bestaan. Hoe gaan jy dit dan hanteer?
- ’n Vierde en laaste moontlikheid: Dalk moet jy vandag maar vrede maak met dinge, met mense, met die lewe.
Vandag is dalk dié dag!
JLM: Dit is altyd interessant om te hoor watter digters u oor die jare heen beïnvloed het en aan wie u u gesteur het. Lê daar ook by u, soos by my in Pretoria en Joan Hambidge in Kaapstad, die versamelde gedigte van N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman op die bedkassie?
KP: Ek het baie geleer, van vroeg in my woordlewe af, by groot voorbeelde van digters (en die voorreg gehad om te leer ken):
- Eerstens D.J. Opperman: In 1974, vyftig jaar gelede (toe ek by die RGN gewerk het), as ’n bybedrywigheid het ek die geleentheid gehad om vir die Nasionale Filmraad ’n 16 mm rolprent te maak: Digter, dramaturg en kritikus. Ek het toe al sy skryfwerk lankal reeds leer ken, maar hierdie projek het my redelik diep in sy lewe en werk ingebring. Ons het ook kontak gehou.
- Tweedens was daar T.T. Cloete. In my vroeë loopbaanjare was ek ’n tydjie dosent by die Universiteit van Fort Hare. T.T. Cloete was toe dosent by die UPE, in Port Elizabeth. Ek het hom daar leer ken, en solank as wat hy geleef het, met hom kontak gehou en by hom geleer.
- Oor die jare het ek, as eintlik ’n taalkundige (sosiolinguis), baie digters leer ken en waardeer. By die RGN: Johann Lodewyk Marais, Pirow Bekker, Eunice Basson en Martjie Bosman. Ek het ook groot agting vir Antjie Krog en Joan Hambidge.
JLM: Strewe u daarna om toeganklike verse te skryf en vir wie skryf u hierdie gedigte?
KP: Ek het oor my leeftyd heen belang gestel/stel steeds belang in LEESBAAR SKRYF.
In die sestiger- en sewentigerjare het ek ’n diepte-studie gemaak van byvoorbeeld Totius en ander digters se omdigting van die Bybelse Psalms, tot verstaanbare kuns, vir ons wat 3 000 jaar later leef, in ’n ander land, ’n ander milieu.
Die sogenaamde “Duister digter”, mense met ingewikkelde en diep veronderstelde verwysingstelstels, het my nooit eintlik geïnteresseer nie.
Ekself het ’n besondere voorliefde vir kortere, beeldende verse, met natuurlik wel diepte en suggestie.
Vir wie skryf ek? My gesin, vriende, kollegas, familie, projekmeedoeners, geselsgenote. En vir myself: “Op my ou ramkietjie met net een snaar.”
JLM: Van vroeg af is daar duidelike betrokkenheid in u gedigte – hetsy politieke situasies in die land, sosiale eksesse, kulturele tendensies en nou ook die omgewing en klimaatsverandering. Vertel asseblief meer hieroor.
KP: Dit is wel waar dat ek sogenaamd “betrokkenheidspoësie” skryf, in al vier my bundels reeds:
Maar: ek is nié daarop uit om sosiaal-betrokke verse te skep nie: ek probéér nie veldtogte voer of om lesers te bepreek oor aangeleenthede nie.
Daar is sekere temas en tendense, eie aan ons tyd (of onder die soeklig in ons tyd), wat my in die besonder interesseer, of my diep raak, en waaroor ek dan skryf. Ek noem ’n klompie voorbeelde:
- Die broosheid, die kwesbaarheid van die mens, veral ook ouerwordende mense. Maar ook die natuur, iets wat opval, en natuurdinge, wat seerkry en selfs vernietig raak deur die mens, is dinge wat ek oral om my waarneem.
- Nog ’n tema (of onderwerp) wat my ook as sosioloog interesseer, is die groot kontraste, en struwelinge daardeur veroorsaak, in ons samelewing.
- In ons land, en elders, is daar dikwels groot spanning, selfs konflik, oor stelsels en tradisies wat met mekaar bots. Mens sien dit raak, en skryf daaroor.
Daar is natuurlik ook positiewe dinge waarby mens betrokke voel, waaroor jy skryf:
- Die sierlikheid van die mooie mense wat oral voorkom van inspirerende rolmodelle wat ons oral sien.
- Die verskynsel dat hoop, en hoopgewing, kan triomfeer. Dit is óók dinge daaroor ek sosiaal baie bewus is.
JLM: Kan u dalk vir ons iets sê oor die tipiese aangeleenthede wat in u vier digbundels voorkom en met ’n soort dringendheid aangebied word?
KP: Die beskouing, eintlik oorskouing van groot landskappe, en eintlik ’n opsomming daaroor:
- Plattelandse en stedelike landskappe, berge-wêreld, see-omgewings, lugskappe en die sterre, sterrebeelde.
- Simbole en ikone, en, kan ek maar sê, afgode vir mense, is iets wat my deurlopend interesseer.
- Die werkwêreld met sy intriges, styltipes en hebbelikhede van mense is ook iets wat oral in my bundels opduik.
- Wonderlike en verrassende dinge omtrent diere (dassies, honde, katte), voëls en insekte, en hulle saamleef met die mens.
- Pyn- en pynbehandeling, mankemente van die mens, ook op ’n lughartige manier gesien, is ’n tema wat plek-plek in alvier die bundels aandag kry.
- En dan geloof en geloofsuitlewing, en verskeurdhede in geloofsgemeenskappe, kom ook meermale in die vier bundels ter sprake.
Daar is egter ’n geluid, ’n hoofdryf wat gaandeweg al sterker en dringender word deur al vier bundels heen. Dit gaan oor die op-weg-wees van die mens: na êrens (of nêrens).
In hierdie vierde bundel, met sy voorblad van die mens na ’n gloedhorison, of wegstappend daarvandaan, is die dringendheid hieromtrent die grootste.
JLM: Kan u dalk vir ons iets sê oor mens se eie verantwoordelikheid om iets aan jou omstandighede te doen?
KP: Die lewe bestaan uit keuses wat die mens moet maak:
- Tussen goed en kwaad;
- tussen reg en verkeerd.
- En of ’n glas vir jou half vol of half leeg is;
- of jy positief en aktief wil verouder, en of jy op die stoep wil sit en kla.
Hierdie bundel kies, in ’n hele aantal gedigte, die pad van end-uit besig te bly, end-uit die sogenaamde “goeie stryd aan te hou stry”, tot die laaste dag toe, is wat geïmpliseer word.
JLM: Ek dank u en baie geluk met die nuwe bundel.
© Johann Lodewyk Marais en Karel Prinsloo, 2025