Siemens-baas en sy gesin dood in helikopter-ongeluk in Hudson-rivier
Netwerk24, 11 April 2025
I Bridge over troubled water
‘n Helikopterrit
met Spaanse toeriste
uit Barcelona
op ‘n Donderdagmiddag
oor die Hudsonrivier
ten einde die New York-skyline
te besigtig
verander in ‘n oogwink.
‘n Harde slag gehoor
deur ‘n ooggetuie
op 10 April.
Op ‘n Donderdag
27 Maart
word ek oorgetuie
van jou dood.
‘n Man ene Agustin Escobar
(direkteur van Siemens)
met sy vrou en drie kinders vier
verjaarsdae met hul familie.
Die piloot genaamd Seankese Johnson
had meer as 788 ure se vlugervaring.
Hoe sou ons nie saam hierdie scène betree nie,
wonder oor die “Jesus bolt” en die rotor …
Was die helikopter gereeld gediens?
Die toeristiese foto van die gesin
sou weer my fokus word via, Barthes.
Jy sou eerder wetenskaplik kyk
na dít wat nie vermeld word nie.
Dalk ligte sneeu of voëls in die lug?
Wie weet, wie sal ooit werklik weet …
II Hello darkness, my old friend …
Op besoek aan ‘n begraafplaas jare terug,
kyk ons na die maan en ruil gedigtitels,
beelde uit soos tweedehandse handelaars.
Dood is ‘n harde ding om te verstaan,
leer jy my, dis ‘n snel-grys-fantoom,
iets wat verblind, vaskeer in ‘n cul de sac.
Keerweer, keerkring, kringloop, blinde steeg …
Al die ander vertrekkendes klop nou aan die deur:
‘n digtersvriend se vrou; ‘n kollega doodgesteek.
In dié skrootwerf besoek ek al die wrakke
afgeskryf en hoor weer die slag van metaal
met die boodskap daar is geen kanse op ‘n wrak.
Soos met daardie helikopterrit.
© Joan Hambidge