Die eerste maan-tree, Apollo-man se treetjie is ʼn reuse-stap
Die Transvaler, Maandag 21 Julie 1969
daar was ʼn vrou wat net soos ek die laaste son op ʼn koperarmband
kon sien glans daar tussen die drie koppe van Tsodilo
het ek my ook vergaap aan Xorab se verhaal, haar mense wat moes trek
toe die grote Khoe-ana die aarde skeur en hul water verdwyn
alles oorvertel op rotswande in bloed en gekleurde klei
die fyn handewerk wat vir eeue al klou aan die klipdoeke van hierdie
droë Louvre-gallery
haar Huppelkind wat so wipkuif diékant toe en daaikant toe
saamkom oor die Kgalagadi se polle en grasse
wou saam met my die steiltes uit, maar ek het hom op die vlakte gelos
want vir ligsinnige gehuppel had ek nie tyd, en vlugvoetig soos net Habakuk
kon droom ʼn ribbok kon raaktrap, het ek klip vir klip agter die gidsman
die middelste kop opgevaar en saam gaan staan
toe ʼn sjamaan se lang asemsang iedere bok, hamerkop,
die maraboes van Shakawe wat kameelperde op galop kry en
die laaste lelietrapper uit die Delta vry
staan ons saam en vir ʼn oomblik brand misvertaan in ʼn bos
nie vervandaan as die son daardie koperarmband se gloed laat vasslaan
en ek gotweet
wéét
die man en ek en daardie sjamaan
ons is hiér
© Rina Bester, 2025