kleptomanie
steelsug
nie deps
of gaps
têre
of poppentjies teken
as sy gespanne met vaste tred dorp toe gaan
vir naarstiglike soeke deur winkelrakke vir alles op haar lys
raaisels verdiep oor die walging wat opstoot in haar keel maar
berooid en lelik bly die blompot en
tamatiesous in haar handsak
as sy die voordeur oopsluit
en sug
in ʼn plastieksak die brood + melk + uie + ʼn blikkie vis en
twee ander goed = betaal
alexa herinner haar aan die afspraak om vier
by drs malan en kie
sielkundiges beraders en mors van tyd dink sy
en stoot die handsak met die ekstra goed onder die bed en
kry ʼn ander een uit die kas
© Rina Bester, 2024
“Steelsug”, wat ‘n waarlik voortreflike woord om so ‘n intense meelewende gedig oor hierdie tragiese psigopatie in te lei! Die ambivalensie, selfwalging, hopeloosheid, maar ter selfder tyd meedoënlose berekenheid ( slim?skelm bewerkstellig met die optelsomleestekens) is na my beskeie mening so veelseggend, dit hoort in die gevorderde sielkunde-leerplan… maar dan,wat weet ek nou eintlik van die psigologie?