‘n tafereel van haat en lus en liefde
(na ‘unrequited’ deur Penny Siopis, met apologieë aan Jan Rabie en I.D. du Plessis)
jou oorgebedekte tafel
vorm ‘n doelbewuste rangskikking
‘n uitbundige uitnodiging
in die oorbeligte spel tussen
rooi en oranje en rooi,
‘n seisoenale lokspyskaart
vir die onervare kaalkop –
want ons kyk verby
die simboliek
van die onverteerbare,
ons misken die leër dood
verdoesel in die doppe
en skulpe uitgestal as bloot
oorvloedige versiersels;
ons vingers wil gretig gryp
na die vars oopgeskeurde vye
wat lokkend bloos,
papajas soos gapende vulvas
en die waatlemoenskywe
die waansinnige skywe wat ons
na karmosynse raserny dryf…
met eerste oogopslag
kyk ons die dikgeweefde onheil
in die persiese agtergrond mis,
die skadu’s plek-plek lekkend
om die lig se rand
ons sien te laat die ontblote
rugkant
van die nou skulplose venus
weggedraai van ons wellus
ons verslindende staar
ons stuiptrekkende kaak
ons kwylende mond
“Die toeskouers vlug in afgryse; die restaurant loop leeg…”
© Floris van Zyl, 2025
Pragtige gedig Floris.