Desembergedig
krismiskos
(tergniet, grootbrakrivier, suid-kaap)
ek sien die duiwe kongregeer
soos honger begrafnisgangers
op die vibracrete
wat ons en die pomphuis skei,
hulle wag effens eerbiedig
asof droë driehoekeierbroodjies
enige oomblik
soos vergete offers
of konfetti gegooi
sal word,
die pomphuis se dak
word ‘n opponerende nok,
‘n paar verlore fisante
soos spoorlose opsigters
of skeidregters
betrag die leegheid
die skeiding
tussen die heining
en daardie bruinmuur,
die kykers skuifel met
groeiende ongeduld,
een tref ‘n ruit
nes ‘n roofvoël wat swenk
en duik in vlug agter prooi,
die slag verwek
‘n eksodus van vlerke;
hierbo word die kinders
aangesê om slegs
twee koppies kos
te gaan gooi in die
kronkelpad neffens
die ongereptheid –
die voëls weet nie dit
is amper krismis
en dat die voer moet
gerantsoeneer word
tot volgende jaar
se einde van die maand…
© Floris van Zyl, 2025
