Die reis van onmoontlike gebeure
(memento mori)
Hierdie is die ware verhaal van ‘n onmoontlike reis,
of liefs die reis van onmoontlike gebeure.
In Groenland ontmoet ek ‘n ysberin
met haar slee en vooraan twee rendiere.
Spring maar op, nooi sy my uit;
sy verhuis want die yskap smelt.
Hup! sê Ysberin
en die aurora raak so klein agter ons,
die poolwind laat ons oë skreef.
Oor die Krim-skiereiland kom ons
‘n moeë hommeltuig teë. Hy is van koers af,
‘n kuberkraker het sy GPS onderskep.
Ho! sê Ysberin, kom rus maar op ons slee.
Sy knik vir my. Hup! sê ek
en die Swartsee raak so klein agter ons,
die steppewind teen ons slape.
Onder ons lê die Midde-Ooste,
die vlamstrepe van vuurpyle
en die lug van ‘n duisend-en-een nagte.
Hommeltuig beskerm ons
met liggies wat gloei. Hup! sê almal tesame
en Persië raak so klein agter ons,
die woestynwind skroei ons wange.
In jou slaap kom laai ek jou op.
Wat is dit hierdie? vra jy dromerig.
Dis ‘n slee met rendiere, en Ysberin
en Hommeltuig. Ek en jy gaan ook saam.
Waarheen gaan ons? Anderkant die wêreld
my lief, op ‘n onmoontlike reis
of die reis van onmoontlike gebeure.
Sê hup! my skat. Hup! sê jy
en die aarde raak so klein onder ons,
die sterwind deur ons hare.
© Jakes Möller, 2025
