Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
4 April 20257 April 2025

Henning Pieterse. ’n Huldeblyk aan Johann de Lange (22 Desember 1959-27 Maart 2025)*

 

 

In 2011, met die verskyning van Johann de Lange se bundel kwatryne Weerlig van die ongeloof, wens ek hom in ’n e-pos geluk met die bundel. Sy reaksie: “Nee wat, dis maar vingeroefeninge van ’n lui digter.”

’n Lui digter? Aikôna. Iemand wat 14 digbundels, twee kortverhaalbundels en ’n vrugbare blog geskryf het, opgetree het as samesteller en redakteur van onder meer ’n keur uit die verhale van Hennie Aucamp, die gedigte van Lina Spies en Wilhelm Knobel, asook as briljante vertaler van ’n keur uit die poësie van Wilma Stockenström en die verhale van Herman Charles Bosman en uiters bekwame redakteur van Avbob se hoogs suksesvolle “I wish I’d said”-reeks, kan geensins as “lui” bestempel word nie.

Ek het Johann in die vroeë tagtigerjare leer ken toe hy in Exclusive Books in Sunnypark, Pretoria, gewerk het. Ons het dikwels in die winkel gestaan en gesels en hy het my die nuutste aankope (ook Nederlandse digbundels) gewys en aanbeveel wat ek behoort te lees. (Van ons gesprekke het ook gehandel oor sy “avonture” in Sunnypark, eggo’s waarvan in Gulp gevind word, maar dis stories vir ’n ander dag.) Ons gedeelde, onvoorwaardelike liefde vir katte was ’n telkense gesprekstema.

’n Paar keer het ek by hom in sy woonstel in die middestad gaan kuier en ons het lank oor poësie en films gesels; hy het ’n formidabele versameling video’s gehad. Twee flieke wat ek saam met hom gekyk het, was Prick up your ears (oor die Britse dramaturg Joe Orton wat deur sy minnaar, Kenneth Halliwell, vermoor is in 1967) en (die ongesensorde weergawe van) Caligula.

In 1982 verskyn sy debuut, Akwarelle van die dors, bekroon met die Ingrid Jonkerprys in 1983. Ek onthou hoe die fyn afgerondheid, die tegniese beheer en die deeglike vakmanskap van die gedigte my onmiddellik gefassineer het. ’n Blik op Johann se manuskripte bevestig sy werkswyse: elke woord, elke lettergreep, elke letter word geweeg en gebruik (of nie) in sy baie netjiese handskrif. Akwarelle het my veral ook beïndruk in ’n tyd toe daar kwaai aangedring is daarop dat digters en skrywers “betrokke” móét skryf. Hierdie aandrang het natuurlik al hoe sterker geword in die loop van die chaotiese en brandende tagtigerjare.

By Johann het ek die tipe poësie gekry wat tot my gespreek het: liriese, trefseker gedigte, puik natuurwaarnemings (ook ’n deurlopende gegewe in sy oeuvre), die fokus op die verganklikheid van lyf en liefde en, belangrik, die aanspreek van “universele” temas. Oor die kwessie van “universaliteit” in ’n land op pad na en later in die kloue van ’n noodtoestand, kan ’n mens uiteraard lank redeneer.

Johann het nie weggeskram van die politiek van die dag voor en ná 1994 nie, maar het sy politieke sienings vir privaatgesprekke met vriende gehou. Hy het ’n kragtige gedig oor Nelson Mandela geskryf.

Johann het my met smaak van sy reise in Amerika vertel; hoe klein hy gevoel het in New York, sy ontmoeting met die groot digter Thom Gunn. Jare later, met die verskyning van Nagsweet (1992) is hy onder meer die verwyt gemaak dat hy Gunn se Night sweats bloot vertaal het as titel. Nie so eenvoudig nie. Dié spesifieke bundel is sekerlik sy hoogtepunt (no pun intended) wat seks en seksualiteit betref en het ’n paar resensente hewig ontstel vanweë die eksplisiete aard van die gedigte. Voor in my kopie het hy geskryf: “Só word ’n taal se virgin gebreek.”

Nadat hy Kaap toe getrek het, het ons gereelde telefoniese kontak behou, asook e-pos-kontak in latere jare. Terwyl hy besig was om Vreemder as fiksie te skryf, het hy my gereeld gebel, gedeeltes uit die verhale voorgelees en konteks en agtergrond tot die verhale verskaf.

Ek het elke bundel van hom aangeskaf en my bewondering vir hom het deurentyd gegroei. Hier was ’n digter met ’n ongelooflik wye belangstellings- en kennisveld. Hy wou nie net bekendstaan as ’n gay digter nie – alhoewel hy natuurlik gay-tematiek onverskrokke en baanbrekend regdeur sy oeuvre aanspreek en oopbreek. Die gewoon aardse, die onomskryfbare begrip “liefde”, kosmologie, sterrekunde, argeologie, beeldende kuns, musiek, verskeie kuns- en musiek-ikone en veel meer word in bundel na bundel ontgin. Hy het immers ’n jaar BSc studeer aan UP.

Johann het ook ingeskryf vir ’n BA-graad aan UP en was deel van die groep jong skrywers, waaronder Koos Prinsloo, wat destyds berugtheid verwerf het met die tydskrif vlieg 2. As ’n mens nou terugkyk na die gebeure rondom daardie publikasie – verskeie van die bydraers wat later goed naam sou maak is met skorsing gedreig en het “opgeskorte vonnisse” ontvang – kan jy net jou kop skud oor die stiksienigheid van die destydse universiteitsowerhede. Jare later het prof Réna Pretorius, formidabele mens en uitstekende dosent, my vertel van ’n gedig-analise wat Johann in Afrikaans I vir haar geskryf het. “Dit was die beste analise van ’n gedig deur ’n student wat ek nog ooit gelees het,” was haar woorde. (Ek kan ongelukkig nie die spesifieke gedig onthou nie.)

Baie mense is bekend met Johann se ongelukkige jeug (’n tema wat in verskeie gedaantes in sy verse voorkom); sy verblyf by sy ouma en in die koshuis, sy verdrietige verhouding met sy pa. Later sou hy die pa vergewe in ‘n aangrypende vers (“Pa”) en nog later sou sy “ware familie” na vore kom: NP van Wyk Louw as sy digterlike vader, Sheila Cussons as sy digterlike moeder en Joan Hambidge as sy digterlike suster. (Vgl. Dawn Fritz se doktorale proefskrif  “Die digterlike gesprek by Johann de Lange: ’n psigoanalitiese studie”, in 2004 by UCT voltooi onder promotorskap van Joan.) Joan sou oor vele jare elke dag op hom “check”. Dié “familie” sou uitgebrei kan word tot Eugène Marais (ook via die gebruik van dwelms), Wilhelm Knobel en Wilma Stockenström, om enkeles te noem. Hy was juis besig om ’n bundel verse vir Wilma saam te stel toe die dood hom gepootjie het.

In sy kortverhaalbundels het die dwelmtematiek, benewens die seksuele, al hoe sterker geword.  Dit was die negentigerjare en raves was aan die orde van die dag. Johann (ook die naam van die hooffiguur in ’n paar van sy verhale) het nie teruggehou op dié gebied nie. Soos die geval was met die seksuele, het hy betrokkenheid by dwelms ook onverskrokke óópgeskryf. Enkele gedigte het ook dwelmgebruik as tema, maar dit was myns insiens ’n fase in sy lewe, nie ’n lewenslange afhanklikheid of bemoeienis nie.

Johann se uitstekende vertalings van tekste van Herman Charles Bosman, Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman, verskyn in 2013. Bosman was en is nog altyd een van my literêre “helde” en ek gebruik Johann se vertalings as basis van elke MA-werkswinkel in Kreatiewe Skryfkuns. Met hierdie vertalings het Johann die bykans onmoontlike reggekry: om die stem van Bosman tegelykertyd as “ouer” (dertiger- en veertigerjare) en “nuwer” (“kontemporêr”) te laat opklink in soomlose Afrikaans.

Die algebra van nood (2009) word in 2011 tereg bekroon met die Hertzogprys. Ek het steeds waardering vir hierdie dapper toekenning deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dié bundel (met redelike onbegrip geresenseer deur Ampie Coetzee en Lucas Malan), saam met Akwarelle, Wordende naak (1990, bekroon met die Rapportprys) en Vaarwel, my effens bevlekte held (2012), staan vir my persoonlik uit as Johann se beste bundels (hierdie is uiteraard ‘n subjektiewe oordeel). In ’n resensie van Vaarwel het ek die teks beskryf as dié van ’n digter wat op die kruin van sy kragte is.

Gelukkig het Johann nog heelwat ink in sy pen gehad en sy bydrae tot die sukses van Avbob se jaarlikse poësiekompetisie, “I wish I’d said”, kan nie onderskat word nie, ook op die vlak van bekendstelling van poësie aan ’n baie groot leserspubliek.

Al het hy basies ’n kluisenaarsbestaan gevoer, het hy graag in interaksie getree met jonger digters (en ook oueres!) om vlymskerp kommentaar en aanmoediging te gee. Sy raad aan my was: “Oog op die bal, Henning, oog op die bal.” Ek sal dit altyd onthou.

Ek weet die volgende stelling gaan nie deur almal ondersteun word nie, maar here goes: Ek beskou Johann de Lange deurlopend as die beste digter van die generasie wat rondom 1960 gebore is. (Om te dig is immers nie ’n kompetisie nie, behalwe met die self.)

Enkele maande ná Hennie Aucamp, een van Johann se grootste vriende, se dood, laat hy my weet dat Hennie jare vantevore aan hom gesê het dat hy, ná sy afsterwe, sy bes sal doen om kontak van “die ander kant” af te bewerkstellig. Ek weet nie of dit ooit gebeur het nie, maar spreek die hoop uit dat hierdie twee uitmuntende skrywers mekaar êrens in die hiernamaals sal raakloop.

Vaarwel, my digterlike vriend, nou onbevlek.

Wat sag is vergaan, ja, maar die werk van Johann de Lange sal bly staan.

 

                                                                                     Henning Pieterse

 

*Hierdie huldeblyk is nie ’n poging om ’n omvattende blik op Johann de Lange as digter en prosaskrywer te verskaf nie, dit is persoonlike herinneringe aan en indrukke van die gestorwe digter. Vir meer (outo)biografiese besonderhede en deeglike ontledings van De Lange se bundels, individuele gedigte en verhale, asook sy beskouings en ontledings van ander digters en kunstenaars se tekste, word die leser verwys na onder meer Marthinus Beukes en Andries Visagie se uitstekende bydraes oor onderskeidelik De Lange se poësie en prosa in Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis.Tweede uitgawe. Deel 1, (red. H.P. van Coller, Pretoria: Van Schaik-Uitgewers, 2015), p591-620, John Kannemeyer se oorsig van De Lange se oeuvre in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 (Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau, 2005) p. 742-747, Erika Terblanche se ATKV/Litnet-Skrywersalbum op Litnet, De Lange se blog, Kaapse paragrawe en laaste, maar beslis nie die minste nie, Joan Hambidge se “Johann de Lange-studie” op haar blog, woorde wat weeg (joanhambidge.blogspot.com/p/johann-de-lange-studie.html).

Bronne

Hugo, D. (red.): Johann de Lange 60. 2019. ’n Huldiging. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Daniel Hugo. Verjaardagvers
Joan Hambidge. Die epifanie: “Ek kan maar net by benadering leef …” →

7e gedagtes oor “Henning Pieterse. ’n Huldeblyk aan Johann de Lange (22 Desember 1959-27 Maart 2025)*”

  1. Joan Hambidge says:
    7 April 2025 at 15:49

    Inderdaad was Johann de Lange aangetrokke tot Jotie se digkuns en die leefstyl van dwelms. En sy dood op ‘n jong ouderdom.

    Johann het geweldig wyd gelees en dikwels Britse, Amerikaanse en Belgiese digters aan my voorgestel wat mens anders na die digkuns laat kyk het.

    Die laaste boek wat hy met groot bewondering gelees het, was een oor Thom Gunn. Hy het op sy besoek aan die VSA hom ontmoet.

    So ons gaan nog uitkom op sy gesprekke met digters uit die Lae Lande en die Hooglande.

    Reply
  2. Henning Pieterse says:
    7 April 2025 at 13:47

    Baie dankie, Yves. Een van die digters aan wie Johann my bekendgestel het, is die vroeggestorwe Jotie ‘tHooft. ‘n Mens sou sekerlik Johann se sienings oor die Nederlandse literatuur met vrug kon ondersoek.

    Reply
  3. sarina donges says:
    6 April 2025 at 17:01

    LAATNAGSKIETGEBED
    “Mag die einde my onverhoeds bevry,
    nie ‘n lang af-& inwag van die dood
    met ‘n lyf wat moedig & bloedig stry.
    Laat my stil die stroom ingly soos ‘n boot.”
    – JdL –

    Reply
  4. Yves T'Sjoen says:
    6 April 2025 at 10:09

    Mijn “oorseese” dank voor de bijzonder informatieve en ontroerende hommage aan een dichtersvriend, Henning. Af en toe mocht ik vluchtig contact hebben met Johann de Lange, altijd in de meest aimabele bewoordingen. Ik denk dat het laatste woord van hem aan mijn adres “liefde” is. De bloemlezingen in de reeks I wish I’d said (avbob) hebben aanzienlijk bijgedragen tot het dichterlijk gesprek tussen talen en culturen in Zuid-Afrika. De vermelding van de Nederlandse poëzie in jouw eerbetoon is hoogst interessant. Het werk van Johann is beschikbaar in de formidabele poëziecollectie Ernst van Heerden in het Poëziecentrum in Gent. Een studie over De Langes belangstelling voor Nederlandstalige literatuur zie ik graag tegemoet. Hierover kan Joan Hambidge vermoedelijk het nodige memoreren. Dank voor jouw prachtige huldeblijk.

    Reply
  5. Henning Pieterse says:
    6 April 2025 at 07:47

    Baie dankie, Daniel, ek het nagelaat om daardie publikasie te noem. My fout. Groete, Hennjng

    Reply
  6. Daniel Hugo says:
    5 April 2025 at 08:28

    ‘n Boeiende en insiggewende huldiging, Henning. By jou bilbliografie ontbreek egter:

    Daniel Hugo (red.): Johann de Lange 60. ’n Huldiging, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria, 2019.

    Daarin is ook opgeneem Johann de Lange se manjifieke vertaling van Allen Ginsberg se Howl.

    Reply
    1. Henning Pieterse says:
      6 April 2025 at 08:52

      Beste Daniel, baie dankie en my verskoning dat ek jou boek uitgelaat het. My fout. Johann se vertaling van “Howll” is inderdaad manjifiek. Groete, Henning.

      Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Resensie: “’n Ander wêreld” (Eunice Basson)
  • Anne-Marie Bartie. alpha centauri
  • Anne-Marie Bartie
  • Stephan du Toit. Witgatboom

Nuutste bydraes

  • Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek
  • Andrea Sieberhagen. Langpad
  • 100 Duitse Bestes: Ingeborg Bachmann (1926-1973)
  • Resensie: “Briewe van heldinne: Ovidius se Heroïdes” vert. deur W.J. Henderson
  • AVBOB Persverklaring

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)3 November 2025

    Dankie, Joan.

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)31 October 2025

    Was es ist! Puik vertaal.

  3. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)30 October 2025

    Dankie, Willemien du Preez. Fried skryf verrassend boeiende gedigte vol abstrakte selfstandige naamwoorde - dit waarteen gewoonlik gewaarsku word deur…

  4. Willemien du Preez on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)29 October 2025

    Suiwer eenvoud en insig in wat dit is om mens te wees. 'n Skatkis oopgemaak vir Afrikaans.

  5. Yves T'Sjoen on Resensie: “Poëme” deur Wium van Zyl29 October 2025

    Voor de collectie Ernst van Heerden in het Poëziecentrum zal de bundel van Wium van Zyl een aanwinst zijn. Is…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d