Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
8 September 2025

Resensie: “Bakeliet” (Anri Botha)

 

 

Resensie: Bakeliet deur Anri Botha. Turksvy Publikasies, 2025. ISBN: 9781037086960

Resensent: Nini Bennett-Moll

 

Anri Botha is ’n chemikus en wynmaker en het in 2018 gedebuteer met Wolfram (Naledi). Die metaal “tungsten”, wat in Afrikaans as “wolfram” bekend staan, is ’n goeie geleier van elektrisiteit en kom voor in gloeilampe. In Botha se debuut betrek sy wolfram as sentrale metafoor vir die geleiding van dinge, terwyl sy bakeliet, wat die eerste sintetiese plastiek was, ontwikkel as leitmotief vir die mens se kunsmatige bestaan in haar gelyknamige tweede bundel, Bakeliet.

Die plastiek dui insgelyks op menslike pogings om die chaos van die lewe te orden én te vervals.

In die openingsgedig verneem die leser:

 

Bakeliet

 

In 1907 staan Leo Baekeland

met die eerste plastiek in sy hand –

trots op wat hy kon giet

uit fenole en formaldehied:

 

allerhande hot topics

en whitewash politics,

sameswerings en fake news –

you believe what you choose.

 

Dekades gaan verby.

“Hoe durf jy!”

(11)

 

Die voorblad toon ’n seskantige ringstruktuur wat ’n mens in chemie aantref. Die vark, wat tussen die sterre deur vlieg, aktiveer die idioom “when pigs fly” om dít wat onmoontlik, onwaarskynlik of absurd is, te verbeeld. Die vlieënde vark is ontleen uit die onderstaande gedig:

 

Koer

 

ek het belowe

(aan niemand spesifiek nie)

dat ek nooit weer

soos ’n verliefde idioot

sal sit en smile na my foon nie

 

jy was nie ’n visioen nie

meer ’n notification

wat ek nooit afgeskakel het nie

’n fluister in die feed

’n glitch in die hart se ou firmware

 

ek het jou inbox oopgemaak

soos ’n ou wond

in ’n taal wat my autocorrect

nie meer herken nie

en my hart

daai moedelose toestel

met ’n opdatering uit 2024

het weer begin flikker

sonder waarskuwing

 

ek het gewonder of ek weer kan glo

dat ek werd is om gevind te word

ek het na die hemel begin kyk

en iewers ver bokant die verkeer

het ek hulle gesien:

varke

met “don’t look down”-tatoes op hul boude

soos ’n glitch in God se kode

en ek het geweet

hier is iets wat nie aan die aarde behoort nie

 

jy het my laat glo

in alles waarmee ek voorheen gespot het:

sterre wat val

en varke wat vlieg

(53-54)

 

In bogenoemde vers kom die kunsmatigheid van liefde en digitale verhoudings onder die soeklig. Die spreker se ontgogeling blyk uit die personifiëring van ’n selfoon, byvoorbeeld “’n glitch in die hart se ou firmware”, of die “inbox”, wat ’n ou wond vergestalt. Laasgenoemde vers herinner aan die sosioloog, Sherry Turkle se beskouing in haar werk, Alone together (2017) oor hoe tegnologie soos slimfone ons verhoudings met onsself en ander geherdefinieer het. Digitale verbindings tussen gebruikers lei tot die paradoks van isolasie, ten spyte van deurlopende kontak. Mense gebruik toenemend tegnologie om emosionele verhoudings te vervang, wat indringende vrae vra oor outentieke menslike interaksie in die digitale era.

As antidoot vir die kunsmatige en selfs sinlose bestaan skryf Botha sogenaamde “praatpoësie” (of parlando): Sy doen ’n beroep op outentisiteit met haar verse, want sy skryf soos sy praat. Die gedigte is dus ongekunsteld en poog om die kunsmatigheid van die wêreld om haar te neutraliseer. Die digter se aweregse blik op die lewe is verfrissend, en die intellektuele lading onderliggend aan die gedigte is verbloem as nonchalante en subtiele subtekste.

Op die agterflap verneem die leser: “Katte is haar huisgenote, haar terapeutiese komberse met snorre en waarskynlik die geheime redakteurs van haar werk.”

Die bundel is gerubriseer in sewe dele, naamlik: “Antroposeen”; “Stolpunt”; “Gietvorm”; “Kapsule”; “Tupperware”; “Polimeer”, en “Masker”. Elke afdelingstitel roep die kunsmatigheid van onder meer chemiese verbindings voor die oog, en handel in die breë oor die verlies van die organiese. In die bundeltitels word die prosesse van stagnasie (byvoorbeeld “Stolpunt” en “Gietvorm”), gejukstaponeer met die vrye prosesse van verbinding, soos “Polimeer”.

In die eerste gedeelte, “Antroposeen” word die menslike impak van industrialisasie, fossielbrandstofverbruik en plastiekproduksie en -afval se vernietigende geologiese voetspoor geïmpliseer. “Karkas” (18) beskryf die uitskot van ’n dier met bierblikringe om sy nek; origens span Botha die plastiekmetafoor op ’n figuurlike wyse in. “Barbenheimer” (12) is ’n voorbeeld hiervan as ’n portmanteau van “Barbie” en “Oppenheimer”, en verwys na die kulturele fenomeen op 21 Julie 2023 toe dié twee films op dieselfde dag vrygestel is. Die term het gelei tot die ontstaan van memes, sosiale media-grappe en die kontras tussen die twee films: Barbie is ’n ligte, kleurvolle komedie oor ’n pop, terwyl Oppenheimer ’n donker, historiese drama oor die atoombom is. Hierdie vers betrek implisiet Jean Baudrillard se beskouing van hiperrealiteit, wat verwys na ’n toestand waarin die onderskeid tussen werklikheid en simulasie vervaag sodat simbole, beelde en digitale voorstellings die werklikheid oorskadu of heeltemal vervang. Die populêre media skep met ander woorde ’n werklikheid wat meer “werklik” is as die oorspronklike. Hierdie verlies van die reële word dan vervang met die kunsmatige.

Die spreker se magteloosheid jeens atoombedreigings blyk uit die laaste strofe, met die meerduidige aard van “tik tik tik”, enersyds as die digter se skryfproses; andersyds as die dreigende onheil van horlosies en bomme wat (bly) tik.

 

[…]

Maar my woorde is geen kenners

op die gebied van bomme!

Hulle val net uit die lug

En wat kan my ure anders doen as

tik tik tik…

(12)

 

’n Hoogtepunt in die eerste afdeling is “The Handmaid’s Tale” (16-17), wat as intertekste Margaret Atwood se 1985 distopiese roman betrek en wat verwerk is tot gewilde TV-reeks. Maar daar is nóg intertekste: “Let it be” en “Spesiale kersaanbod” van Jeanne Goosen praat ook saam in die gedig.

Let hoe vernuftig gaan Botha intertekstueel met Goosen se gedigte om.

 

Let it be

 

Ek sit op die stoep. Die aand kom af

Die driepootbrak huppel huiswaarts

Christus kom sit aan met sy vuil voete

en geblowavede hare

Hy breek die brood. Ek is moeg, sê hy

en ek bring vir hom ’n skottel water vir sy voete

Hy skop sy sloffies eenkant

Niks is meer heilig nie, sê hy

Hulle ploeg nou atoomafval in mý woestyn

Let it be, sê ek. Let it be en ek skink sy glas vol wyn

Sorry, sê ek, maar Tassenberg is al wat ek het

By the way, jy’s reg niks is meer heilig nie en dit maak my sad

Hoe voel jy, vra die meester. Hoe voel jy regtig?

Ek lag. Wil jy regtig weet

Praat met my, sê hy. Hoe voel jy regtig?

Wat kan ek tog sê. Alles is in sy moer

Dit help nie om ’n woord daaroor te tjank nie

[…]

 

Jeanne Goosen

 

Asook:

 

Spesiale Kersaanbod

[…]

God met sy slagtersmes

het ’n vonkel in sy oog

vir sy feesmaal het hy ’n special surprise

en alles is op die huis

Neem, sê hy, eet en drink

want so lief het ek die wêreld

dat ek my sagste lam opgesaag

en laat mince het

vir vanaand se geseënde

super dooper grabbaburger

Cheers, sê God,

en lig sy beker bloed.

 

Jeanne Goosen

 

Dan, Botha se toespeling op Goosen se gedigte:

 

The Handmaid’s Tale

Na Jeanne Goosen

[…]

Kan ek ook wyn kry? vra Jesus.

Why not,

sit solank jou voete in die kom, dan gaan kry ek ’n glas.

 

Ek sê: Weet jy, Jesus,

dis nou nie die wyn wat praat nie,

maar as ek kon verdwyn

sou ek nie ná drie dae teruggekom het nie.

Dissie meer ’n lekker plek dié nie.

Die gays moet maar nou trou terwyl dit nog wettig is.

Jesus, ek dink SCOTUS moet geaborteer raak,

onse vrouens word weer uitgewerp na die rooi tent.

Maar sê ek nou enige van hierdie goete hardop,

dan kruisig hulle my.

 

Toemaar, se die Messias,

ek weet hoe dit voel.

Nolite Te Bastardes Carborundorum!

Kom ons praat nie oor politiek nie,

vertel my eerder iets snaaks.

 

Ek aarsel ’n oomblik

maar besluit om Hom tog te vertel:

Die anderdag toe sit ek in die kerk met nagmaal

en hulle bedien jou bloed in plastiek-shooterglasies –

toe raak die hele gemeente dronk van die Gees.

(16)

Die Supreme Court of the United States (SCOTUS) het in 2022 die historiese uitspraak van Roe vs. Wade (1973) ongeldig verklaar en streng aborsiebeperkings ingestel, wat die VSA met ’n gefragmenteerde regslandskap gelaat het. Botha se vers handel inderwaarheid oor gender-, vroue- en reproduktiewe regte. Hiermee saam word ’n derde interteks betrek, naamlik The Red Tent, ’n historiese fiksie-roman deur Anita Diamant (1997) wat die Bybelse verhaal van Dinah, ’n minder bekende figuur uit die boek Genesis (her)vertel vanuit ’n feministiese perspektief. Die rooi tent staan in skrille kontras tot die onderdrukkende patriargale regime; reël 14: “Onse vrouens word weer uitgewerp na die rooi tent”. En dan natuurlik praat Atwoord se fiktiewe outoritêre en teokratiese regime, Gilead, ook saam met verwysing na The Handmaid’s Tale, waar vroue se regte drasties ingeperk is. Alhoewel sommige lesers hierdie verse as onthutsend mog ervaar, lewer Botha ’n stewige en broodnodige skeut sosiopolitieke kommentaar op die VSA en die neokonserwatisme wat wêreldwyd posgevat het. Bogenoemde gedig is net een voorbeeld hoe sy te werk gaan – haar verse is bedrieglik eenvoudig en herinner eerder aan komplekse eenvoud met verskillende lae betekenis.

Tematies handel die verse in Bakeliet oor die bestaan in middelklas-suburbia; wrang liefdesgedigte, (self)vervreemding en ‘verdaaide’ ars poëtikas. Botha se verse beweeg met gemak tussen die makrokosmos van astronomie en globale krisisse, en die mikrokosmos van haar eie bestaan. Alhoewel die digter-spreker deur die loop van die bundel van die teoretiese begrippe in die wetenskappe gebruik maak, skryf sy nie wetenskapgedigte in die ware sin van die woord nie. Sy span eerder hierdie begrippe op metaforiese wyse in, en slaan (digterlik) munt uit die verletterde of meerduidige betekenis van hierdie woorde.

Met ’n chemikus se oog vir detail belig sy deur ’n unieke lens die sintetiese aard van die moderne lewe om die oppervlakkige fasades van die samelewing, asook persoonlike verhoudings, te beskryf.

Die gedigte is spottend, selfironiserend en satiries. Heelwat verse is dan sardoniese takserings van die menslike kondisie – insluitend dié van die digter-spreker wanneer sy ’n intieme, dog hartverskeurende blik op haar eie lewe gee.

Botha beskryf die monotone ritmes van alledaagse roetines en liefdesteleurstellings, wat by tye ’n gevoel van versmorende leegheid skep. Sy kyk terug op die grendeltyd tydens Covid-19 in “Hair of the dog” (73-74), ’n vers waarin die selfgesprek oor hadidas interessante metafiksionele kommentaar oplewer. Dié gedig handel inderwaarheid oor die (self)vervreemding wat die spreker tydens Covid-19 ervaar het, ’n gegewe wat ook op universele vlak relevant is, aangesien heelwat mense ’n vorm van vervreemding tydens Covid beleef het.

In die gedig, “In grys se duisend kleure” (40-43) lewer die spreker berig oor haar bipolêre versteuring. Die vertrekpunt in die vers is die aardbewing in Tulbagh, 29 September 1969, wat insny in die persoonlike pyn en gebruik van medikasie van ’n persoon met ’n gemoedsteurnis. Die eersgemelde aardbewing word dan ’n uitgebreide metafoor vir ewewig in die algemeen. Hierdie vers resoneer met “Onse Psigiater” (39), wat ’n wrang parodie op die “Onse Vader” bied.

 

Onse Psigiater

 

Só moet julle dan bid:

Onse Pille wat op die voorskrif is,

laat die dosis voldoende wees,

laat die newe-effekte kom,

laat die chemie geskied,

soos in die lab net so in die lewer,

gee ons vandag ons daaglikse stabiliteit

en vergeef ons ons maniese episodes;

soos ons ook die depressie vergewe;

en lei ons nie in die versoeking nie,

maar verlos ons van die angs,

want aan Big Pharma behoort die koninkryk

en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen.

(39)

 

Kritiek op die superkapitalistiese uitbuiting van farmaseutiese maatskappye resoneer ook met kritiek op die wankelende wêreldekonomie in “Winde van verandering” (12).

 

[…]

Ek verf my lyf swart en ek huil.

Ek sal my koffie met die voëls deel,

wetend die diewe is biljoenêrs

en die res het net skuld en ’n kers.

(12)

“Tydskrifverhaal” (33-35) moet die leser fyn lees: “Hanna” verander in “Anna”, wat op sy beurt “Ana” word – die slang vir anoreksie, soos die woord op sosiale media gebuik word. Let daarop dat die vrou se naam letterlik “kwyn, en só haar eetversteuring simuleer soos sy bly gewig verloor.

In die laaste gedig, “Poetse” (80), debunk die digter al wat gewigtige ars poëtika is en skryf téén die grein in ’n ars poëtikale vers waarin sy erken dat sy, die digter-spreker, met dié bundel bloot poetse op die leser gebak het.

 

[…]

Jy skud jou kop in afgryse vervul

omdat ek soveel kreatiwiteit gebruik

om jou te kul.

 

My woorde speel slim saam

om jou aandag af te lei

en wanneer jy weer sien

sal jy op ’n piesangskil gly.

(80)

Die spreker erken dat sy die ondergang van die leser “ge-plot” het. Is die bundel humoristiese erns, of ernstige humor? Dit is vir die leser om uit te vind.

Met Bakeliet lewer Botha ’n verfrissende bydrae tot hedendaagse Afrikaanse poësie. Met haar aweregse blik op die wêreld om haar – getemper deur humor – daag sy die leser uit om die kunsmatigheid van ons bestaan te bevraagteken, terwyl dit terselfdertyd troos bied in ons gedeelde menslikheid en ons tekortkominge.

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Nuwe Bundel. Anri Botha: Bakeliet
Nini Bennett-Moll. Die Nobelprys vir Letterkunde 2025: László Krasznahorkai →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)

Nuutste bydraes

  • Bert Bevers. Aanwijzingen
  • Riaan le Roux. Kans
  • Paul Kloppers. bosluisvoël
  • Digtersprofiel: Marlise Joubert
  • AVBOB Persverklaring

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on Bernard Odendaal. Musikale oomblik9 January 2026

    Dankie, Joan.

  2. Marthé McLoud on Stephan du Toit. Geboorteland9 January 2026

    Treffende gedig.

  3. Joan Hambidge on Bernard Odendaal. Musikale oomblik8 January 2026

    'n Uitstekende palinode - spel met Cloete. En die slot is 'n mokerhou! Jou gedig is treffend.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Voorbeeldig8 January 2026

    Treffend. En: Gesondheid in die rondheid!

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Oratio obliqua8 January 2026

    Maar dan gaan Claes laer op die dieselfde bladsy (deur my vertaald) soos volg voort: "Elke mens deel met sy…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d