
Resensie: Koorsboom deur Jakes Möller. Turksvy Publikasies, 2025
Resensent: Marieta McGrath
Koorsboom, die debuutbundel van Jakes Möller, is ʼn bundel van teenstellings, van oksimorons wat hul pad na eenheid probeer vind. Dit ondersoek die aard van realiteit en die vraagstuk of daar werklik ʼn skeiding is tussen tasbaar en onaantasbaar.
Dit sien ons reeds in die programgedig, “Allegorie van die digkuns” wat die “godvresende ateïs” naas die digter stel, ʼn “telefonis tussen die denkbeeldige en dit wat is”. Die digter staan in twee wêrelde en probeer dit versoen.
Koorsboom is ʼn goed gekose titel. Dié boom is ʼn sterk deurlopende beeld en verteenwoordig die teenpole van goed en kwaad, van realiteit en denkbeeld. Destyds is die koorsboom verbeel deur die “Boere van weleer” (p. 41) as die draer van siekte, ʼn boom van kwaad. Vandag weet ons die bas bevat kinien, behandeling vir die juiste malariakoors waaraan mense beswyk het. Dit is ook ʼn boom wat die onheilsame uitwerp in ʼn offerloot (Vachellia xanthoploea, p. 63).
Die koorsboom as ʼn boom van goed en kwaad, of dalk selfs die boom van die lewe, vind ons op bladsy 45. Die idee vir hierdie titelgedig is ontleen aan P.G. du Plessis se kortverhale waar Beëlsebub besoek aflê om die mens te verlei, maar hier is die duiwel se naam Kortjas. Kortjas stam weer uit ʼn kortverhaalbundel, In die mond van die Wolf deur Paul C Venter, waarin ook ʼn mistieke ervaring met duiwels voorkom en ʼn turksvybos die “Satanswoud” voorstel.1 (Een van die Kortjas-karakters is ʼn smid, wat aansluit by ʼn ander tema in die bundel. Meer daaroor later.) Möller se gedig word dus ʼn uitbeelding van die Bybelse Eden waar bome sentraal staan tot die narratief. Die laaste twee strofes:
“Ons vra uit oor familie, ek verneem na die
weer in sy kontrei, begin oor bome gesels,
my gunsteling is die kiepersol en die maroela,
koorsboom of tambotie – o ja, alles pragtig.
Hý verlustig hom weer in die valsdoring of
huilboerboon, dopperkiaat of kanniedood,
woel dan sy pote tussen die kole in en sug
behaaglik, dit ruik soos swael of stinkhout.” (p. 45)
Twee stelle bome word vergelyk en die leidrade lê waarskynlik in die benaming van Kortjas se gunstelingbome: vals, huil, dop en dood. Die interessante gebruik van kanniedood verwys na die boom van die lewe en gepaardgaande onsterflikheid. Daarmee saam het ons die swaelreuk, die reuk van oordeel en verwoesting.
Nog ʼn titelgedig, hierdie keer met die wetenskaplike naam Vachellia xanthoploea, kom op bl. 63 voor. Dis ʼn sterk, humoristiese gedig waar die koorsboom vergelyk word met die wynstok en sy lote. In Johannes 15 is Jesus die wynstok en sy dissipels die lote; die onvrugbare lote word uitgewerp.
“[ … ]
Iedere koorsboom besit sogenaamd
ʼn offerloot, waarheen neweproduk
of gifstof, en alles wat onheilsaam
is, met verdrag verwerp word na ʼn stuk
tak wat, oorbodig verklaar, dan verdor
en afbreek. Outo-amputasie, word
dit ook genoem. My kleintoon kan maar mor;
ek gaan my leed en leemtes daarin stort.” (p.63)
Dit sinspeel ook op die lering in Matteus 5 dat dit beter is om ʼn ledemaat te amputeer as om met sonde saam te leef.
Bome is sentraal tot die bundel, nie net die Bosveld-bome nie, maar ook die staalbome, die “[selfoon]maste as bome verbloem” (Staalengele, p. 25). Die natuur (die paradys) kontrasteer met die stad, die grys wêreld waarin ons leef waar seine uit die doderyk gestuur word en torings probeer raak aan die hemel (Alto 234, Sandton, p. 27).
“ […]
Onthou ook Jo’burg se Ponte-gebou,
die toring van Babel, ʼn skouburg van
die doderyk, ʼn verhoog waar straatvrou,
kaper en dwelmslaaf alle hoop verban.
Die Hillbrow-toring bly lydsaam op wag
om weer sy seine te stuur in die nag.” (p. 27)
Ander temas of herhalende beelde in hierdie bundel sluit in metaal en die gepaargaande smid en die “Raakvlak” (p. 24) tussen die geestelike en natuurlike wat ook soms gesimboliseer word deur ʼn neweligheid of dynserigheid.
Op die oog af lyk die indeling van die bundel eenvoudig en volgens versvorm met, dikwels, net enkele gedigte. Tog is daar soms ʼn bindende element en word elke afdeling ʼn klein sirkel met boekeindes.
I
In Afdeling I is die programgedig “Allegorie van die digkuns”. Treffende teenstellings, alhoewel soms obskuur, kom hier voor. Die slot is veral treffend.
Ongelukkig is die programgedig een van ʼn paar uitgesponne voorbeelde waar die rym oorheers en afwisseling oftewel periodieke afwyking ontbreek. ʼn Mens wonder of die digter ʼn lys rymwoorde neergeskryf het en dit bymekaar wou bring in ʼn samehangende gedig. Dit opsigself is ʼn vernuftige spel met interessante betekenismoontlikhede, maar moet omsigtig benader word. Die gedig kon ook veel korter en helderder gewees het.
II
Afdeling II bestaan uit drie villanelle wat handel oor die “adel van die woord” en die daaglikse “arbeid om den brode”, die aard van ons bestaan.
III
Afdeling III is een van die sterkste in die bundel. Hier stel Möller sy woordvernuf ten toon deur middel van helder sonnette en uitgebreide metafore. Daar is woordskeppings soos “elektronwolk” en die meerduidige “duiwelsvurk” wat beide skerp sekuriteitspenne of die duiwel se implement kan wees. Die stad (en/of moderne tegnologie) en sy verval word simbool van die mens se ontheemding, sy gebrekkige verhoudings. Tegnologiese vooruitgang demp die oorgelewerde wysheid van ons voorvaders. Die idee van oorlewering (ʼn slim woordspeling) vorm boekeindes en sorg vir twee gedigte met treffende slot:
“ [ … ]
Elke tegniek het sy fout, plate krap
en knetter, kassette word ingetrek,
CD’s spring en data raak bedorwe.
ʼn Grammofoon het ek steeds; ek betrap
my weer in die swart skyf se groef, verwek
ʼn klein lied, dit ruis nes byekorwe.” (Oorlewering, p. 21)
Bogenoemde gedig is ook ʼn ars poetica en dui op die digter se voorliefde vir vaste versvorme.
“[ … ]
Twee Joodse here is die eienaars,
agter die boekery is hul verskans,
eertydse Goudstadglorie sien jy skaars,
op Mogadisjoe lyk die stadskern tans.
Maak ʼn ou omslag oop, die papier ruik
soos ʼn muwwe stem onderin ʼn kruik.”
(Commissionerstraat 244, Johannesburg, p.29)
IV
Afdeling IV bevat drie liefdesgedigte. Die eerste en laaste gedigte is lieflik liries, terwyl die tweede kompleks, intellektueel en uitgesponne is, dalk ʼn beeld wat te ver gevoer word. Metaalwerk word ʼn vreemde metafoor vir die liefdesdaad – die hardheid daarvan pas nie by die sagte liefdesdaad nie – maar die teenstelling is so beplan:
“[ … ]
Vroulief ek is ʼn man, dus benader ek hartsake
met die ysterwarehandelaar se katalogus …”
(Middelpuntsoekend, p. 34)
Die gedig herinner aan Riana Scheepers se “Lied in die voorwinter”2 .
V
Afdeling V bestaan uit kwatryne wat tekenend is van die digter se vernuf met vaste versvorme en metrum. Hier word die rym wel by tye verdoesel.
VI
In die sesde afdeling vra die digter-spreker vrae oor die doel van die kwade in ons lewens. Waarom die twee pole van goed en kwaad? As God sorg vir die mossie, waarom het ons kannibale geword (Kannibaal, p.47)? Waar is die “grote gees” in die dynserige roet en rook van die stedelike vagevuur (Magaliesburgse aandlied vir die eensaam wandelaar, p. 46)? Waarom hierdie foltering om ons te louter? Die spreker “grynslag al te braaf”, maar voel tog gelaaf. In “Ontleding” (p.48) tree die digter in gesprek met Ina Rousseau se gedig “Erkenning”2, en wys op die brutaliteit – aan die hand van ʼn skoenlapperdisseksie – maar ook die noodsaak van ontleding “tot in die lewe”.
VII
Die haikoe-afdeling (VII) word so ingelei:
heimlike haikoe
vingerhoed vol ontroering
beheersd en gedemp (p. 51)
Die treffende beeld is geleen uit die Nederlandstalige Wikipedia oor die haikoe. In etlike ander haikoes mis ek die “vingerhoed vol ontroering” maar daar is tog hoogtepunte soos die:
kruitreuk in bosveld
panga klief deur huid tot been
renostervoël vlug (p.51)
VIII
Wetenskaplike gedigte kom aan die bod in die volgende afdeling. Tog vind ons ook die teenstellings kenmerkend van die bundel. Die digter ondersoek soos in die programgedig die aard van realiteit deur die lens van fenomenalisme, die standpunt dat die bestaan van die materiële afhanklik is van sintuiglike waarneming en daar dus nie ʼn skeiding is tussen die tasbare en abstrakte nie. Sintuie kan egter bedrieg en ontoereikend wees om realiteit waar te neem:
Sinsbedrog
dis moontlik om versot te raak op ʼn gedig
te meer as jy jou eie hand daaraan had
siedaar – sy sien daar bekoorlik uit
behoorlik welluidend daarby
die sinne word benewel
die gemoed gestreel
nee, dis louter sinsbedrog –
draai die rug op haar
luister met ʼn blinde oog
kyk daarna met gedoofde ore
tas die tekstuur met jou voete af
die smaak laat ʼn kriewel in jou keel
vra die reuk om maar in jou hande te rus (p. 58)
Wat nodig is, is “’n blinde heldersiende en sy geestesoog” (Feitlik ʼn fabel, p. 57), want realiteit is “verduister tussen pro- en epiloog”. Al wat ons kan doen is om, soos die spreker-digter, die “vreugde van die alledaagse” ons “laaste sakrament” te maak (Organogram, p. 64-65).
IX
Die laaste afdeling voltooi, heel gepas, die bundelsirkel met ʼn sonnettekrans. Dié vertel ʼn skeppingsverhaal wat steun op Noorse mitologie en Bybelse beelde. Elke einde word ʼn begin en die veertien herhalende begin-/eindreëls verenig oplaas in ʼn vyftiende sonnet. Begin en einde kom dus bymekaar soos in die Ouroboros, die antieke simbool van ʼn slang wat sy stert insluk. Dis die idee van monisme, waar opponerende konsepte soos goed en kwaad nie in teenstelling staan nie, maar deel is van ʼn geheel.
Die laaste sonnet:
Swewend op ʼn kromming van die Melkweg,
deur die wet van swaartekrag so bepaal,
ons planeet wentel in ʼn sterspiraal,
deur torings van newellig onderweg.
Volg die komete se verligte baan,
die nagloed nes ʼn sluier van kristal,
daal deur swartkolk na ʼn verborge dal,
vonke wat glim in die hemelvulkaan.
Kragte en gewig gaan finaal ontmoet,
ʼn vlam van ys gaan verrys en versteen,
die vakuum verduister, ruimte ontknoop.
Oplaas het tyd se uurglas leeggeloop,
dan word die onmoontlike algemeen,
die begin gaan die einde tegemoet. (p. 83)
Die oorgebruik van die enjambement tussen stansas was soms steurend, maar ʼn sonnettekrans bly ʼn bewonderenswaardige onderneming.
Ten slotte bewys Möller homself met Koorsboom as meester van vaste versvorme, vernaamlik in die sonnet en kwatryn, en veral in die metrum. Nie een keer het ek oor sy woorde gestruikel nie. Sy aansienlike woordeskat val ook op.
Punte van kritiek: Redes vir die rubrisering was nie altyd duidelik nie. Samehang binne gedigte kan ook verbeter – rym en die hou by reëls moenie ten koste van bondigheid wees nie.
Kritiek ten spyt is Koorsboom ʼn indrukwekkende bundel met sterk intellektuele inslag en diepgang.
Verwysings
Besoek 3 September 2025.
- Vers en vrou. 2020. Kaapstad: Human & Rousseau

Baie dankie, Hendrik, ek waardeer dit.
Jakes
Goeie resensie. Uitstekende bundel.
Veels geluk!
Dankie Hendrik.