Maat van die onbekende
Die verplasing van jou vertrek
op ‘n solo-reis, dalk ontdekkingstog,
vind ek twee filmversamelings (blou en rooi)
deur Pier Paolo Pasolini, kenner so gesog
van lewe se voetangels, het jy oorhandig aan my,
sowat twee jaar gelede (alvorens jy ‘n wyle
geword het) vol stof in my filmoteek uitgebreid.
Soos Pasolini die Oedipus-verhaal justeer,
selfs die blinde, koning afgetakel verplaas
na ‘n moderne Piazza Maggiore in Bologna
(voordat Pier se lot beklink sou word in moord)
dink ek na oor die verbindings-teken tussen lewe
en dood; verbeel my ek hoor jou klop aan my voordeur:
”Sit my as in ‘n urne groen en lees Poesie a Casarsa weer.”
© Joan Hambidge, 2025
