Ritueel
Jou asse strooi ons
agter die ligtoring by Seepunt
met ‘n lynboot op vertrek.
Kyk toe hoe jou broer en suster
mekaar omhels saam met hul gebondenes in gebed;
wit blomme vir hierdie laaste vaarwel.
Die wind waai jou asse tot in Drieankerbaai
daar waar jou geliefde Ingrid Jonker jare jare terug
deur die koue see in háár uitvaart verdrink het.
Raam die dag met my kamera: filmies perfek,
behalwe vir die son skroeiend oor die blou oseaan.
Soekend soekend na die stil punt in hierdie kreeftegang.
© Joan Hambidge, 2025
