
Resensie: waar daar eens ’n see was deur Jennifer Pape. Turksvy Publikasies, 2025
Resensent: Nini Bennett-Moll
Jennifer Pape is gebore op Hennenman in die Vrystaat. Sy verwerf ’n BSc-Honneurs in Geologie aan die UOVS en later ’n MSc in Geochemie aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Sy skryf sedert haar studentejare gedigte, maar begin eers ernstig dig nadat sy die Stomme Jonge-digklub in Stellenbosch gestig het. Sy publiseer gedigte in Ons Klyntji, en behaal die tweede plek in die Afrikaanse afdeling van die 2022-AVBOB-Poësiekompetisie. Sy is die webontwerper vir New Contrast Literary Magazine, en ’n kenner van wetenskapfiksie. Sy woon in Fisherhaven saam met haar lewensmaat, Susan, en kunstenaardogter, Maya. Waar daar eens ’n see was is haar digdebuut.
Die titel kan letterlik en metafories gelees word. “Waar daar eens ’n see was” is ook die programgedig en verwys na die Karoo toe daar 300 miljoen jaar gelede ’n oseaan was. Die Groot Karoo se dorre vlaktes, dolorietheuwels en rotse is die bodem van daardie verdwene see – letterlik ’n fossielsee wat in klip verander het. Die metafoor van die see is inderdaad betekenisvol: Dit is die Jungiaanse moeder-argetipe; die see kan gesien word as die oorsprong van lewe wat vrugbaarheid en die baarmoeder simboliseer. Dit is insgelyks ’n simbool van die onbewuste, met onpeilbare dieptes en verborge inhoud. Die see beliggaam oneindigheid, tydloosheid en die moontlikheid van geestelike ontwaking en vernuwing, dikwels gekoppel aan mitiese dood- en wedergeboorte-temas.
Die bundel open met ’n motto van Jorge Luis Borges, soos geneem uit The Book of Imaginary Beings waarin hy beweer dat die draak ’n argetipe is wat in die menslike verbeelding ontstaan het lank vóór geskiedenis of wetenskap, en dat hierdie denkbeeldige wese in ’n sekere sin meer werklik is as ‘regte’ diere, want hy leef in die kollektiewe onbewuste van die mens. Die gedigte aktiveer dus die beskouing dat die verbeelding die werklikheid kan oorheers: die verse vorm ’n jukstaposisie tussen magiese en wetenskaplike verskynsels, en Pape, as geoloog, se besinnings oor onder meer geologie, astronomie en bio-argeologie vind neerslag in die bundel. Sy skryf nie wetenskappoësie per se nie – die gedigte is eerder ’n mistifikasie van wetenskaplike tematiek.
Die gedigte is herinneringspoësie, aangebied as parlando of praatpoësie, en geskryf in vrye vers. Pape maak oorwegend gebruik van metaforiek; stilistiese ingrepe soos rym is heeltemal afwesig.
Waar Marthé McLoud se herinneringspoësie in haar bundel vroeër vanjaar, naamlik Ontbloot, afgestem is op die onthutsende oomblik, skryf Pape oor die epifaniese oomblik: oor dít wat verhelder en verruk. Sy maak oorwegend gebruik van ruimtelikheid om hierdie epifanie voor te stel.
’n Formele rubrisering ontbreek en die gedigte vloei in mekaar.
Daar is talle liefdesgedigte in die bundel. Die misterieuse aangesprokene in die tweedepersoonsverteller is meer as bloot ’n vroulike geliefde; dit is ook diere, mitiese wesens, of selfs die spreker se alter-ego: die programgedig se tydsgewrig is immers 300 miljoen jaar gelede, en kan dui op ’n gesprek tussen die spreker en haar alter-ego. Dit is egter oop vir interpretasie.
Die rol van tyd in die bundel is ook belangrik – binne ewolusionêre tyd is alles vervlietend; só ook herinneringe.
Die meeste gedigte impliseer die een of ander aard van beweging, hetsy staptogte en -toere, pelgrimstogte, beweging met voertuie soos woonwaens, taxi’s, die migrasie van diere, uitwyking, of die beweging van tektoniese kragte. Pape skryf nie bloot oor plekke nie: sy vang die “spirit of place” (genius loci) binne die ruimtelikheid van haar poësie vas.
’n Ander interessante faset van haar gedigte is die verwysing na talle diere, lewend of reeds uitgesterf, as vroulik, byvoorbeeld in “likkewaan en hond” (19-20); “die loch ness-monster bestaan nie” (21); “rooigras wat suis in die wind” (48), asook ’n mak gans (64), of olifantkoei (22). Verdere vroulike mitologisering kom voor in verwysings na Eva, Medusa en god/God – “’n geblomde japon” (65-66) is ’n ontroerende gedig oor G/god wat in ’n geblomde japon langs haar woonwa sit en skep, natuurlik op ’n surrealistiese wyse. Daar is deurlopend ’n spirituele bewussyn teenwoordig in die gedigte; nie op ’n dogmaties-Christelike wyse nie, maar eerder ’n implisiet panteïstiese blik op die biologiese en ekologiese verskynsels onder bespreking.
In poësie word nostalgie dikwels voorgestel as ’n emosionele reis deur tyd, maar wanneer dit binne die verskillende loci van ruimtelikheid plaasvind, kry dit ’n tasbare, amper fisiese dimensie. Hierdie ruimtelike nostalgie in Pape se werk manifesteer in die beskrywings van landskappe, ekosisteme en persoonlike ruimtes wat verander (het), of verlore raak, soos diere wat uitsterf, verdwynende fauna en flora, en die digter se eie vervlietende jeug en lewensloop wat in tandem met laasgenoemde gestalte vind. Die gedigte is kennelik die werk van ’n geoloog: dit herinner aan die wetenskaplike wat daagliks, op palimpses-agtige wyse met die sedimentêre lae van tyd en ruimte werk – die bundel adem ’n poëtiese ekwivalent van geologiese erosie: ’n stadige, onherroeplike verlies wat die spreker dwing om die verlede te herroep en te herbesoek.
Herinneringspoësie kan beskou word as gedigte wat die verlede oproep, dikwels deur ’n nostalgiese of kritiese lens. Hierdie poësie dien nie net as ’n argief van persoonlike ervarings nie, maar eerder as ’n brug na ’n groter kollektiewe geheue. Die waarde van hierdie memoires-gedigte lê in hul vermoë om die verlede toeganklik te maak, sodat lesers hul eie narratiewe daarin kan herken. In ’n wêreld waar die digitale media vlugtig is, bied herinneringspoësie ’n stadige en bedagsame ruimte vir refleksie – ’n antidoot téén die vergetelheid
Jeugherinneringe oor byvoorbeeld dieretuine (13; 28) illustreer ten beste die verrukking, die epifaniese belewenisse van die spreker as kind. Maar hierdie openbarings het ook ’n skadukant: In “durban 1979” (16) beskryf die jong spreker haar vrygees, boheemse moeder wat haar verlustig in Hindoeïsme en allerlei eksotiese, esoteriese dinge. Die slotstrofe onthul die dieper stand van sake, soos huweliksprobleme of ’n vader wat moontlik gedomineer word deur die spreker se ma: “in die kar op die donker kaai wag pa met bunny chow / en rook nog ’n sigaret.”
Die jong spreker se fassinasie met seine as iets magies (25;67) sorg vir aangrypende gedigte. “smithfield se radiotoring (25), strofe 4:
laataand
die dag voor kersfees
soek ons na ouma se stem deur die geraas
verstel elke frekwensie tot op die laaste desimaal
ons glo nie meer in geeste nie
of in ’n god wat alomteenwoordig die vrede bewaar
maar vertrou onteenseglik dat as radiogolwe
die wêreld kan deurweef
sal ouma se onwrikbare gees
ook die banaalheid van die dood oorleef
Asook die ontroerende slotgedig, met die verwysing na die Fibonacci-reeks:
alle eindes is volkome
die roete deur die karoo is mooi name en skaars windpompe
toegeroeste plaashekke en brokkelende ysterkoppies
in ’n stofpad naby sutherland ry ek verby ’n veld vol radiosatelliete
simmetries gepak soos ’n sonneblom
en die lug ruik na kanferbos en die winter se laaste sneeu
die ry op ry antennas luister na ontploffings van sterwende sonne
soek na seine van lewe in die buitenste ruimte
maar ek weet toeval bestaan nie
dat daar nie ’n dieper betekenis aan sterwend is
al klink dit soos ster
al na-aap die kroontjie op jou kop
die spirale van ’n sterrestelsel en die draaie in ’n skulp
want alle eindes is volkome
en vreemd
soos atome
(67)
In “my geliefde is ’n wolf” (37) is daar ’n inspeling op Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves; dit is die minnares se dreigende skadukant wat ’n aantrekkingskrag vir die spreker inhou: “ek is / jou twaalfde slagoffer ons lê snags kaal / in jou woonstel” (37). Pape flankeer in “waar hase nie hase is nie” met Charles Darwin se beskouings oor ewolusie en lewer só ’n fantasieryke, en nie ’n wetenskaplike vers nie. Die kliniese wetenskaplike gegewens word verpoëtiseer, soos ook die geval met talle ander gedigte in die bundel. “Die prys van ’n seekoei” (60) werp lig op ’n interessante historiese gegewe, naamlik dat Maria van Riebeeck betrokke was by die sluikhandel van ivoor, renosterhoring en ander diere en artefakte.
Waar daar eens ’n see was is nie bloot herinneringspoësie oor wat was nie, maar ook ’n besef van hoe ruimte self verander. Pape se beeldryke gedigte lewer metakommentaar op temas soos industrialisasie, die antroposeen en habitatverlies. Binne die konteks van uitsterwende diere word die nostalgie insgelyks ’n ekologiese klaaglied. Die gebruik van metafore om vervalle landskappe te beskryf word ingespan om die spreker se persoonlike verliese, soos liefdesteleurstellings of ander ontgogeling, te illustreer. Pape vermy die valkuil van oormatige sentimentaliteit. Selfs wanneer sy skryf oor magiese oomblikke bly die leser bewus van die metaforiese skadu’s wat die gedigte vergesel; ’n besef dat dié oomblikke reeds besig was om te verdwyn terwyl dit gebeur het.
Alhoewel die leser die indruk mog kry dat Pape se poësie aan Tom Dreyer se nou in infrarooi herinner, is dit ’n bevredigende debuut. Weens die vloeibare aard van die teks sukkel die leser egter om vastrapplek op die bundel as geheel te kry. In waar daar eens ’n see was word die verbeelding voorop gestel – en herinner Pape die leser weer eens hoeveel poësie daar te maak is uit die lewens- en natuurwetenskappe.
die motvanger
langs ’n geroeste skaar tussen die renosterbosse hurk sy
rook entjies terwyl haar oë die vlugtige vlerkslae
van die spookmot volg afgeëts
teen die smaltblou lug van skemer
die winterhoekberge rys skerp
oor die afgeleë kelder
van hier af slegs ’n brokkie onder in die vallei
sy het een somer daar druiwe gepars
haar voete in ’n kuip pers
en taai en verrimpeld soos pruimedant
snags wanneer hulle langbeen gesit en wyn drink het
het motte obsessief gedraai om die paraffienlampe
gespikkelde utetheias, oleander-pylstertmotte
swart en turkoois swaelsterte en eenmaal
’n skaars maanmot
die spiraalagtige vlampatroon was nog sigbaar
in die geskroeide fyn vlerk
(52)

Sulke deeglikheid is yl gesaai. So volledig en duidelik. Groot resensie. Harde werk.