Madeleine
(Op die oomblik dat die slukkie tee gemeng met koekiekrummels aan my verhemelte raak het ek gebewe, bewus van iets buitengewoon wat in my gebeur.” – Proust)
sy is ’n vogtige sponskoekie
in die vorm van ’n skulp
ek hap in sagte wit – sy smelt
ek smag onmiddellik na meer
gevul met suurlemoenkonfyt
is ‘n teedoop amper onnodig
ek rol my tong deur haar lugtige
konsistensie & sleep vog uit
Madeleine – nie sommer enige
koekie nie – se verhaal loop
van Poolse hertog na Franse koning
bakker & plaasvervanger diensmeisie
haar ouma se kant-&-klaar koekieresep
was in 1750 al ’n wenner in ’n dorpie wes
van Nancy – verrassende omstandighede
Madeleine de Commercy gaan na Versailles
ek is nie die enigste wat méér
wou hê Marcel Proust het hom
ook vergryp – terwyl dit diep in hom
’n stroom onthou-jy-nogs kon opwek
beskryf hy magistraal die mollige
kurwes hoe hy dié proesensasie
vir ewig wil herhaal & die tyd wil stop
om dit oor & oor in sy tee te doop
© Carina van der Walt, 2026
Marianne & die pienk rewolusie
(2018 – standbeeld & Femenaksie)
na ’n roemryke lewe word sommiges
met ’n stand- of borsbeeld
’n skildery of foto
’n penning of posseël
verewig
maar la liberté was anders
Marianne is ook ’n silhouette
afgedruk op ’n muntstuk
’n hersenskim uit die 19de eeu
van ’n strydbaar bevryde vrou
sý was die Franse ideaal
van ’n vryheidsgodin met ’n vlag
sonder geboorte- & sterfdag
het Marianne nooit geleef
beroemd was sy nooit méns
nog vry nog slaaf
rondborstig Oekraïens is sy
nou Femenlid op ’n barrikade
vlees & bloed staan sy vuis gelig
in ’n flashmop weergegee oIo
stywe jean blomkrans in die hare
oor haar borste geskryf – freedom
religion is slavery – love for democracy
– we are not prostitutes – oui cherie!
© Carina van der Walt, 2026
