Nie
in die land van Nie
vervel die slang
hy los sy ou vel leeg
& rimpelrig agter
nie meer nodig
vir glad & gaaf
verder lewe
in die land van Nie
laat los die geitjie
haar stertjie
as ’n roofdier
haar wil vang
dit wriemel ontheg
& groei nie weer aan
in die land van Nie
amputeer die seester
al selfverdedigend
uit stres ’n arm
as sý nie verder kan
groei ’n nuwe ster
uit die los arm
© Carina van der Walt, 2026
strepe
sy trek ’n streep
deur leestekens
gebruik net strepe
vir aandag trek
vir inlassinne
vir woordherhaling
die aksenttekens
akuut vir beklemtoning
gravis vir die uitspraak
van leenwoorde
rigtings voor name
soms as afkapping
of woordvervanging
in ’n &-kombinasie
sy’s ’n strepie voor
sonder leestekens
© Carina van der Walt, 2026
erkenning van die ampersand
as simbool vir die en-teken
oorspronklik uit Latyn as ”et”
in Engels ’n alfabetrympie
vir kinders wat eindig met
“X Y Z and per se and”
dus enige ander letter
wat op sigself ’n woord is
– dié 27ste letter verbaster
in Afrikaans tot ampersand
ideaal vir poësie
as versmelting van 2 letters
die kern van verdigte taal
amper nog nie stamper
deurgedring tot digters
al is hul vak die verdigting
van waarneming tot betekenis
© Carina van der Walt, 2026
