Oordeelsdag
Elke Januarie word
die Doomsday Clock,
sedert 1947, ingestel
om ‘n katastrofe globaal
voor te stel: net soveel
minute, nee sekondes
vóór die apokalips.
Op 25 Januarie 1981,
met watergeweld
in Laingsburg toe
die Buffelsrivier oor
sy walle wreek:
meer as ‘n honderd
mense toe reeds vermis.
Halleluja-liedere klink
op oor die dakke met
sewe-agtstes van die dorp
toe onder water, ‘n bus
met mense uit die Transkei
splyt rivieraf; in Beaufort-Wes
vir noodwalle ‘n trein vol as.
Niks kon die watermassa,
‘n soort onheil stuit nie,
die banieropskrif lui:
VLOEDRAMP EIS 150.
Van slakkepas tot water-
muur, van reddingspoging
tot stilgemaak: lewe tot slik.
As jong mens die baken gesien
oor die hoogte van die water
malend dreunend in my gemoed
die kerk se toring het bly staan
in dié natuurramp: miskien miskien
tog ‘n vooruitwysing na die Oor-
deelsdaghorlosie tikkend tikkend …
© Joan Hambidge
Gebaseer op berig in BY 31 Januarie 2026
